Hardy vereer vir bydrae tot bewaringslandbou
DR. MARK HARDY ( foto) se bydrae tot volhoubare gewasboerdery in die Swartland is onlangs erken toe die 28 jaar oue langtermynproef op die Langgewens-navorsingsplaas na hom genoem is.
Dié proef is in 1996 begin. Hardy, wat in 2012 afgetree het, het in 1997 begin om dit te bestuur. Die bevindinge van die proef het ’n groot bydrae tot boerderystabiliteit in die Swartland gelewer, het mnr. Andries Theron, voorsitter van die Proteïennavorsingstigting en boer van Moorreesburg, op die geleentheid gesê.
“Die werk wat Hardy en sy medewerkers gedoen het, het gehelp dat die Swartland ’n ekonomies volhoubare koringverbouingstreek in ’n halfwoestyngebied kan wees.”
Me. Anneleen Swanepoel, hoof van plantwetenskap by die Wes-Kaapse departement van landbou, het gesê sy beskou die model vir wetenskaplike geloofwaardigheid en samewerking tussen navorsers en die bedrywe wat Hardy geskep het, as van sy grootste bydraes. “Ek meen die proef het die graanbedryf in die WesKaap totaal verander. Dit het ook aanleiding gegee tot meer langtermynproewe. Langtermynproewe is noodsaaklik om te help om by klimaatsverandering aan te pas en die uitwerking daarvan te versag.”
Die huidige geslag boere is beter bekend met ’n proef met vele komponente en nagraadse studente wat verskillende belangrike vrae ondersoek.
Dr. Johann Strauss, wat deesdae die proef bestuur, sê die proef lok ook belangstelling van internasionale wetenskaplikes. Die proef is onder meer in 2018 ingesluit in die Britse Rothamsted-navorsingsentrum se wêreldwye netwerk van langtermynproewe. ’n Artikel oor 30 van die langtermynproewe, wat die Dr. Hardy-proef op Langgewens insluit, verskyn eersdaags in die gesaghebbende vaktydskrif Nature.