Die landbou begin (en eindig) by boere
Vroue. Dít is die grootste “bedreiging” vir die landbou in sy geweste, merk die bekende Oos-Kaapse Merino-boer en Landbouweekblad-rubriekskrywer Claude Cloete altyd droogweg op. Hy het natuurlik ’n baie geldige punt.
’n Mens kan met swak paaie, vrot munisipaliteite en in ’n mate met landelike misdaad saamleef, maar as jy nie ’n lewensmaat kan vind wat bereid is om saam met jou op ’n afgeleë skaapplaas in die Suid-Drakensberg te gaan woon nie, gaan die yskoue winters net daardie bietjie ondraagliker raak.
In die ou dae was dit jong onderwyseresse of verpleegsters wat op klein dorpies kom werk het, wat jong boere darem ’n paar opsies gebied het. Deesdae is dit logisties gesproke heelwat moeiliker om by ’n jong dame te gaan vlerksleep as om net in jou bakkie te klim en dorp toe te ry.
Claude se opmerkings bevestig klaarblyklik onlangse bevindinge van dr. Kandas Cloete van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP). In haar onlangse doktorale tesis aan die Universiteit Stellenbosch het sy tot die ongemaklike gevolgtrekking gekom dat een uit vyf boere binne die volgende tien jaar wil ophou boer. Die meeste is ouer as 65, wat ’n verstaanbare aftree-ouderdom is, maar daar is ook ’n beduidende groep van 30-45 jaar oud wat eenvoudig nie meer kans sien vir boer nie.
Dr. Theo de Jager van die familieboerderynetwerk Saai wys uit dat dit juis hierdie jong mense is wat die drie pilare van klein dorpies aan die gang hou: kerke, ’n laerskool en ’n koöperasie. Ek sou sportklubs by die lys voeg, want tussen dié vier instellings klop die hart van enige plattelandse gemeenskap.
Ja, daar is seker van die manne of vroue wat vir ander sal gaan boer wanneer hulle hul eie plase verkoop, en in baie gevalle veel beter sal vaar wanneer hulle net op boerdery kan konsentreer en die bestuursbesluite aan ander kan oorlaat. Maar daar is ook diegene wat die bedryf permanent sal verlaat.
Groter boere is ook altyd op die uitkyk vir goeie plase. In die Noordoos-Kaap van my kinderjare is die impak van reuseboerderye, soos Dave Osborne se Number Two Piggeries, op plattelandse gemeenskappe reusagtig.
Groot bees-, melk- en varkplase met reuse-infrastruktuur, soos damme en spilpuntbesproeiing, word byna oornag gevestig — beleggings wat vir kleiner familieboerderye ’n generasie van wik en weeg sou kos voor dit gebeur, indien ooit.
Daar is ’n geldige argument dat sulke distrikte in werklikheid beter daaraan toe is ná sulke reusebeleggings. Die oorspronklike plaaseienaars boer immers nou vir Dave, terwyl die distrik tot die volgende vlak van produktiwitiet geneem is. Praat jy met Dave, is dit duidelik hy besef die soort landelike infrastruktuur — van skole tot vermaak — wat sy talentvolle bestuurders, jonk en oud, op sy plase gaan hou, het sy verantwoordelikheid geword.
Prof. Johan Willemse het onlangs in Landbouweekblad die staat verantwoordelik gehou vir plase wat al hoe groter raak, en boere wat minder word. Die ekstra koste waarmee ’n onbeholpe regering en staat individuele boere belas — van swak paaie tot entstoftekorte, en nou onlangs weer met die mieliegraderings wat laat afgekondig is — is vir party net te veel.
Só sal die sukses van die landboumeesterplan wat onlangs onderteken is, bepaal word deur net een ding — hoe suksesvol dit boere, wit en swart — op hul plase gaan hou. Want sonder boere is daar geen landbou nie, en baie van die “sagte kwessies” wat boere op hul plase hou, sien ek nie in die verslag nie.
Soos onder meer vroue.