Gemengde gevoelens oor meesterplan
Die veelbesproke meesterplan vir die landbou en landbouverwerking se ondertekening deur belanghebbendes het maar op ’n wankelrige noot begin.
Manie wonder of dit ’n aanduiding is oor hoe die proses verder gaan verloop.
Terwyl Agri SA die ondertekening van die plan deur Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en ander belanghebbendes verwelkom het, het TLU SA die plan gekritiseer en verwerp. Die netwerkorganisasie Saai sê dit verraai boere. Arbeidsvakbonde onder leiding van Cosatu het ook nie die plan onderteken nie.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê die plan is gestoomroller omdat onderneteenoor hulle nie nagekom is nie. “TLU SA betreur dit dat, ten spyte van verskeie versoeke aan die onderskeie belanghebbendes in die waardeketting, dié organisasie die geleentheid ontneem is om ’n bydrae te lewer tot die daarstel van ’n ekonomiese landbouplan tot voordeel van alle boere in Suid-Afrika.”
Hy het verwys na verskeie landbouplanne oor die jare heen wat telkens nie suksesvol was nie omdat daar elke keer meer politiek en ideologie in die planne vervat is pleks van ekonomiese planne.
Saai beskryf dit as slonswerk wat as ’n meesterplan opgedis is en dit voldoen nie aan die minimum vereistes van wetenskaplikheid, billikheid, inklusiwiteit of duidelikheid nie. Daarom is dit tot mislukking gedoem.
Die kerngebreke is dat dit op die ANC se eng ideologiese uitgangspunt oor eienaarskap van grond geskoei is, die belange en aspirasies van huidige geslag familieboere word nie verwoord nie en verwerkers, verpakkers, verspreiders en handelaars staan midde-in die beoogde aksies pleks van produsente.
Theo de Jager, voorsitter, sê Saai is kwaadwilliglik by die opstel en bespreking van die meesterplan uitgesluit. Hy sê organisasies wat teen die plan gekant is, gaan ’n alternatiewe plan ontwikkel.
Daarteenoor het Agri SA dit as ’n hoogtepunt beskryf en die produk van jare lange onderhandelinge en die bou van konsensus binne die hele sektor. Christo van der Rheede, uitvoerende hoof, sê dit getuig van ’n gesamentlike verbintenis tot die sukses en groei binne die sektor.
Agri SA meen onder die leierskap van John Purchase is ’n meesterplan geskep wat ommings
vattende ondersteuning aan opkomende én kommersiële boere bied. Manie stem egter heelhartig met hom saam dat alles afhang van ekonomiese groei. Daarsonder kan die doelwitte van die plan nie bereik word nie. Dit is ook ’n teoretiese raamwerk wat verdere onderhandelinge en verbintenisse sal verg.
MOENIE DIE GROND VERGEET NIE
Landboutegnologie moet op ’n vlak wees wat vir boere prakties is om in werking te stel, sin maak in die boerdery en deur werkers gebruik kan word. Boonop moet dit nie boere verhinder om te kyk wat in die grond aangaan nie.
Manie hoor hierdie is kwessies wat lede van Durbanville se landbouvereniging op hul onlangse maandvergadering by die Groot Phesantekraal-wynplaas bespreek het ná aanbiedinge deur Agri Technovation en Myfarmweb. Met ten minste twee geslagte teenwoordig, was daar dié wat gemaklik met die tegnologie is en meen dit kan baie produksiemiddels en koste bespaar, en ander wat die aanbieding te akademies en dalk onprakties vir werkers ervaar.
“Hier sit ’n klomp jong manne wat die tegnologie inspan en drie, vier stappe voor is. Dit is die enigste manier hoe die toekoms gaan lyk,” het die voorsitter opgemerk, al dink hy baie van die tegnologie is “tien jaar voor Afrika”. Van die agterste tafel af het ’n ander boer opgemerk hy dink nie die grondvlak is gereed vir die tegnologie nie.
Nóg een het gemeen die kenners moet “vereenvoudigde stelsels ontwikkel wat toepasliker en uitvoerbaarder is”.
Manie meen uiteindelik is die vraag hoe begin ’n mens en wat is die koste? Hoe kom jy in die ding in as jy belang stel om dit te doen?
Attie Haasbroek van Agri Technovation, wat al ’n baie lang pad met boere loop, het die ouer boere gerus gestel. “Begin met waarmee jy vertroud is. Ek is oortuig daarvan dat die meeste boere hier al ’n grondontleding laat doen het, én baie jare se inligting het. Begin daarmee.”
Dikwels lê die tegnologie in digitale maniere om bestaande dienste te vergemaklik. Eweneens moet boere besef dat die tegnologie elke dag bekostigbaarder raak.
Op die ou end meen die voorsitter dit is dalk moeilik om al die tegnologie in Afrika in werking te stel, maar dit kan vinniger gaan as die ouer manne die jonger manne meer ruimte gun.
Dít het Junior Herholdt uit sy stoel laat spring en sê: “Vat ’n graaf en spit in die grond, ruik die grond en kyk die wortels. Hierdie goed is baie nice, maar ons sukkel al klaar om die kinders van die rekenaaars weg te kry.”
GOOI DAAI ROOITAAL
’n Boer kry ’n Engelse besoeker wat ’n bees wil koop, maar weens die Engels wil die kommunikasie nie vlot nie.
Die Engelsman besluit op ’n jong bulkalf, en al wat die boer kan uitkry, is: “He doesn’t look so well.”
Die besoeker dink egter die bulletjie lyk goed. Hy sien geen fout nie en die transaksie word beklink. By die huis gekom, kom hy agter die bul is blind. Ontstoke bel hy die boer, wat bedaard antwoord: “But I told you: he doesn’t look so well . . .”