Oorlog kan vleisprys wêreldwyd benadeel
DIE oorlog in Oekraïne het tot ’n skokgolf wêreldwyd gelei. Terwyl die omvang daarvan op grondvlak in Oekraïne duideliker raak, moet die impak op die internasionale veewaardeketting ook in ag geneem word.
Volgens die internasionale vleissekretariaat (IMS) was die internasionale vleisvoorraad reeds onder druk toe die oorlog begin. Die internasionale vraag het in daardie stadium ná twee jaar van die covid-19-pandemie begin herstel, oliepryse was aan die styg en die organisasie vir petroleumuitvoerlande (Opul) het stadigaan begin om die balans ten opsigte van die produksie-tot-instandhouding te herstel.
Die oorlog het tot ongekende stygings in die olieprys gelei.
In die veebedryf is voerkoste reeds hoog vanweë ’n stewige vraag (veral van China), kommer oor die oes-vooruitskatting vir 2022-’23, en lae internasionale voorrade.
Vir die vleisbedryf wêreldwyd is die oorlog tussen Rusland en Oekraïne primêr ’n kwessie oor die verskaffing van voer en die drastiese prys-impak daarvan, pleks van die ontwrigte vleisvoorsiening van Oekraïne.
Oekraïne was ’n groot uitvoerder van hoendervleis (431 086 ton in 2020) na die Midde-Ooste en Noord-Afrika, Afrika en die Europese Unie (uitgesonder Brittanje), maar volumes sal waarskynlik vervang word deur Brasilië en ander sonder om te veel ontwrigting in die mark te veroorsaak.
RUSSE SE UITKYK
Uit ’n Russiese oogpunt maak die waardevermindering van die roebel sy beskeie uitvoer van vleis mededingender. Die meeste van die vernaamste bestemmings (China, Sentraal-Asië, die Midde-Ooste en Noord-Afrika) sal voortgaan om vleis van Rusland te koop. Die swak geldeenheid en ’n ekonomie wat in ’n resessie gedompel is, sal egter daartoe lei dat invoer tuimel. Dit sal hoofsaaklik ’n impak op die voorsiening van Suid-Amerikaanse beesvleis hê.
Die grootste bron van kommer is die ontwrigte verskaffing van voergraan en die uitwerking daarvan op die internasionale prys. Rusland en Oekraïne produseer gesamentlik 14% van koring wêreldwyd en 19% van gars, terwyl Oekraïne 31% van die sonneblomme produseer.
Vrae ontstaan hoofsaaklik oor die waarskynlike grootte van Oekraïne se oes en die land se vermoë om vanjaar en in komende jare uit te voer.
Rusland sal waarskynlik voortgaan om graan op huidige vlakke te produseer en uit te voer, met sommige aanpassings in die uitvoerbestemmings omdat sanksies en bankbeperkings dit vir lande moeilik kan maak om van Rusland te koop.
Boere in Oekraïne het verlede jaar winterkoring geplant en die planttyd vir mielies, sonneblom, gars en raapsaad is tans in volle gang. Luidens berigte het die vroeë aanplantings tot dusver goed verloop.
Die herleiding van die Russiese oorlogspoging na die ooste van Oekraïne sal dit makliker maak vir boere om te plant. Die boere in die land ervaar egter ’n tekort aan produksiemiddele, soos brandstof, arbeid en afgetakelde infrastruktuur.
GEMIDDELDE OESTE ONWAARSKYNLIK
Dit is nie bekend hoe lank die oorlog nog sal voortduur nie. Selfs al word 80% van die landbougrond beplant, is dit onwaarskynlik dat gemiddelde oeste behaal gaan word. Die opbrengs behoort dus baie minder as gewoonlik te wees.
Die Russe blokkeer steeds uitvoerhawens en die infrastruktuur vir die uitvoer van graan is erg beskadig. Dit is onwaarskynlik dat daar betekenisvolle uitvoer tydens die tweede helfte van 2022 sal wees.
Dit is nie duidelik hoeveel van die graan en oliesade geproduseer sal kan word nie, om nie eens van uitvoer te praat nie. Die verliese sal in die internasionale mark gevoel word, iets wat deur die omvang van Oekraïne se voor-oorlogse uitvoerbestemmings onderstreep word.
Ander bronne sal nie daartoe in staat wees om dié gapings spoedig te vul nie.
Suid-Amerika se opbrengste was in die eerste kwartaal van 2022 teleurstellend.
Hoewel die Europese Unie se oeste goed oorwinter het, bestaan daar probleme ten opsigte van die koste en beskikbaarheid van landbouchemikalieë. Die Amerikaanse graanoes is reeds onder druk weens droogte.
China het twee teleurstellende oeste opeenvolgens gehad en was daarom nie daartoe in staat om aan die vinnig stygende behoefte na voer in groot maat te voorsien nie, vandaar die oplewing in mielie- en koringinvoer, bykomend tot die land se aansienlike invoer van sojabone.
Rekordhoë kunsmispryse dui daarop dat boere minder kunsmis in 2022 en selfs in 2023 sal kan toedien. Dit is onvermydelik dat opbrengste laer gaan wees, teen hoër koste. Dit is ’n groot hindernis om van die stygende voer-, arbeids-, verpakkings- en vervoerkoste in die vleisvoorsieningsketting te herstel.
Verbruikers se besteebare inkomste is onder druk weens wyd verspreide koste-inflasie van alle ander aankope wat hulle maak, terwyl regerings belastings wil verhoog om te vergoed vir die uitwerking van die pandemie.
Dit gaan baie moeilik wees om voldoende stygings in vleispryse te behaal. Terwyl dit noodsaaklik is om stygende koste na die verbruiker deur te gee, is die gevolg daarvan dat verbruikers hul keuse van vleis sal afgradeer en uiteindelik minder vleis sal eet. Dit kan reeds in ’n aantal markte in die Europese Unie gesien word.
Die uitwerking van hoër voerkoste in ontwikkelende markte sal nog vinniger gebeur. Die gunstige vooruitskouing oor die vraag na vleis in 2022 het verlore gegaan in die meeste markte, met die bedryf wêreldwyd wat voorberei om te rasionaliseer vir nog ’n moeilike fase.
—