PROJEK WIL MEER OOR BRUINSPRINKANE UITVIND
Projek Pardalina, ’n navorsingstudie, word beoog om kennis oor die bruinsprinkaan (Locustana pardalina) aan te vul.
Dr. Joh Henschel van die sentrum vir omgewingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat sê klem sal gelê word op aspekte soos die verwantskap tussen eierbanke en veldtoestand in die gebiede waar uitbrekings voorkom, en hoe om dit te bestuur.
“Dit behoort te lei tot aanbevelings oor hoe om beleid oor sprinkaanbekamping aan te pas en boere met raad te help.”
Boere en wetenskaplikes uit verskillende terreine en Suid-Afrikaanse instellings sal betrek word.
Die beoogde werkgroep hoop om einde Julie tydens die konferensie van die graslandvereniging van Suider-Afrika by Aldam in die Vrystaat te vergader.
Henschel sê goeie navorsing is van die 1920’s tot die 1960’s oor die spesie gedoen, maar vergeleke met studies oor ander sprinkaanspesies ter wêreld het dit sedertdien agterweë gebly.
“Hoewel die nodige navorsing net ’n breukdeel sal kos van die koste van plaagbestryding, is min die afgelope dekades gedoen om kennis oor die probleme ten opsigte van die bruinsprinkaan uit te brei.
“Fundamentele vrae in die droë gebiede hou verband met hoe organismes, soos die sprinkaan, lang droogtetye oorleef, net om vinnig te reageer onder gunstige toestande.
“Ons wil weet wat die snellers vir die sprinkaan se groei en ontwikkeling is, hoe hulle die ekostelsel affekteer en selfs hoe globale klimaatsiklusse en menslike bedrywighede dit beïnvloed.”
Met die Pardalina-projek word gehoop om antwoorde te vind op vrae soos die hergebruik van eierbanke met verloop van tyd, voetgangers se dieet en die ekologiese faktore wat hul oorlewing en groei beinvloed, asook moontlike snellers vir swermvorming en hul uitbreiding na ander gebiede.
Daar gaan ook gekyk word of daar dalk iets goeds aan sprinkaanswerms is.
Navorsing uit die 1930’s beskou bruinsprinkane as sogenoemde ekostelsel-ingenieurs
omdat hul eierbeddens hoëgehalte-weiding kan aanhelp.
Ondanks beleggings in insekdoders en plaagbestryding is die impak van sprinkane nog nooit intensief ondersoek, gekwantifiseer of geëvalueer nie.
Herschel sê weens gebrekkige wetenskaplike bestuursbenaderings is huidige wetgewing onvoldoende.
“Selfs moderne gifstowwe is skadelik vir ander insekte en hul roofinsekte en gepaardgaande ekostelseldienste. Vir al wat ons weet, is die huidige benadering van krisisbestuur om sprinkane in die Karoo te bekamp dalk baie skadeliker as die beweerde skade van onbehandelde swerms.”
Alternatiewe benaderings sluit in veldbestuur wat die risiko verminder dat groot swerms ontwikkel, en omgewingsvriendelike gewasbeskermingsmetodes.
“Ons probeer tans beheer wat reeds buite beheer is. In teenstelling hiermee kan voorkomende bestuur van sprinkane, wat doelgerig oor tyd en gebiede toegepas word wanneer die bevolkingsdigtheid van die insekte laag is, dalk doeltreffender wees.
“Irrasionele persepsies van sprinkane as plae wat oorwin moet word, word deesdae toenemend vervang met rasionele waarnemings en wetenskaplike analise.”
Oorbeweiding, wat die voedingswaarde van gras verminder, kan uitbrekings bevorder. Enkellopende sprinkane hou van gras met min stikstof (proteïen) wat ryk aan koolhidrate is. Dit help die insekte weerstand teen bakterieë opbou, asook vetreserwes wat eierproduksie aanhelp en brandstof verskaf vir vlieg. Opslaggras groei vinnig ná goeie reën op die regte tyd.
Dit alles help om die uitbroei van sprinkane uit eierbanke te sinchroniseer. Wanneer hulle saampak, word die produksie van serotien bevorder, wat sprinkane se gedrag van antisosiaal tot sosiaal verander.
Swerms vreet wat voorkom en vlieg verder sodra kos opraak. Versteuring deur insekdoder te spuit, veroorsaak dat hulle eenvoudig nog verder beweeg.