Almal vind baat by ’n windplaas
Windplase gee boere ’n jaarlikse inkomste, terwyl minder kweekhuisgasse vrygestel word.
Wanneer mnr. Dawid Zietsman se oë op die roterende windlaaiers tot rus kom, laat dit sy hart warm klop om te weet sy plaas word gebruik om skoon energie op te wek wat in die nasionale netwerk ingevoer word.
Só word Suid-Afrika se kweekhuisgasvrystellings verminder en die impak van kragonderbrekings versag. Zietsman is ook dankbaar vir die jaarlikse inkomste wat uit elke windlaaier verdien word.
Hy stap dié windkragreis saam met Red Cap Energy. Die maatskappy is in 2009 gestig en is ’n leier in die Suid-Afrikaanse hernubare energiebedryf. Red Cap Energy bou sterk bande met grondeienaars, want dit is ’n langtermyn-verhouding. Die ontwikkelingsfase van só ’n projek duur drie tot ses jaar, gevolg deur sowat twee jaar van oprigting en uiteindelik ’n bedryfstydperk van 20 jaar.
“Ons is trots op die tyd, moeite en hulpbronne wat ons insit om saam met die grondeienaars te werk,” sê mnr. Mark Tanton, uitvoerende hoof, wat voorsitter van die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging was en met ’n Wind Industry
Pioneer-prys vereer is.
Red Cap Energy het ’n hoogs bekwame span wat nou betrokke is by alle ontwikkelingsbedrywighede, waaronder grondverkryging, projektoelating, terreiningenieurswese, projekfinansiering en toesig oor aanlegoprigting en -bedryf. Die span sluit in mnr. Gerald Ehlers, ’n ingenieur wat van ’n boerderygemeenskap by Patensie kom, en mnr. Jadon Schmidt, die sake-ontwikkelingsbestuurder, wat ’n omgewingsagtergrond het.
VOORDELE VIR ALMAL
Van die voordele vir die boere is ’n jaarlikse inkomste, beter paaie en ander infrastruktuur, verhoogde sekuriteit en geleenthede om toegang tot bykomende kapitaal te verkry om hul boerderybedrywighede verder te ontwikkel.
’n Voorbeeld van hoe Red Cap Energy saam met die boeregemeenskap werk, is die maatskappy se baanbrekerooreenkoms met die departement van paaie.
Hierdie ooreenkoms het gesorg vir private finansiering om as deel van bestaande openbare padinstandhoudingskontrakte gebruik te word.
Daar is saam met die boerevereniging Agri TsitsikammaOos gewerk om voorrangpaaie vir dié besteding te identifiseer.
“Red Cap Energy weet die opknapping van die padnetwerk is noodsaaklik om die gemeenskap toegang te gee tot gesondheidsorg, onderwys en werkgeleenthede, asook vir die melkboere om produkte by die mark te kry,” verduidelik Tanton.
Twee Red Cap Energy-projekte wat uitstaan, is die Koegaen Gibsonbaai-windplaas.
Koega kan sowat 300 GWh skoon elektriese energie per jaar opwek. Dit is gelykstaande aan die jaarlikse verbruiksbehoeftes van sowat 50 000 gemiddelde huishoudings, terwyl die vrystelling van meer as 290 000 ton koolsuurgas in die atmosfeer jaarliks vermy word.
Gibsonbaai kan sowat 420 GWh per jaar opwek. Dit is gelyk aan die jaarlikse verbruiksbehoeftes van sowat 131 000 Suid-Afrikaanse huishoudings en keer die vrystelling van meer as 383 000 ton koolsuurgas jaarliks.
HOE DIT WERK
Die boer verhuur sowat 2% van sy grond en kan steeds tussen die windlaaiers boer. In ruil daarvoor betaal Red Cap
Energy ’n vaste persentasie bo bedryfstandaard van die inkomste van elke windlaaier op die plaas vir die volle 20 of meer jaar wat die windplaas in werking is.
“Ons betaal ook boere ’n vaste bedrag per windlaaier in die oprigtingstyd van twee jaar, want dit is die tydperk met die grootste ontwrigting vir hul boerderybedrywighede.”
Wat gebeur wanneer die 20-jaar-kontrak verstryk? “Die voorwaardes van die omgewingsmagtigings vereis dat die windplaas die laaiers verwyder en die fondasies met bogrond bedek sodat boerderybedrywighede kan voortgaan. ’n Verdere 20-jaar-huurkontrak is egter moontlik,” sê Tanton.
Vir Zietsman het die gewaarborgde jaarlikse annuïteit van die windplaas hom in staat gestel om bykomende finansiering in die vorm van ’n kommersiële landboulening van die bank te kry om in sy plaas te belê.