WAT ONS HET . . .
Ons sit vandag met miljoene hektaar bewerkte grond. Wat kan ons daarmee doen om die natuur so goed as moontlik na te boots? ’n Goeie begin sal sekerlik wees om die grond minder te versteur.
Skoon, netjiese, fynbewerkte lande is in ons bloed. Die dae toe ons nog geploeg het, was dit darem lekker as jy daardie vierskaar-Massey-ploeg reg kon stel en die land pynlik netjies omwerk sonder om enige holvoor op te merk. Die aroma van die grond bly ook elke boer en plaaskind by.
Maar is dit reg om die grond te werk dat dit lyk soos die oppervlak van Mars? Hardverskeurende erosie, slote waarin ’n mens kan wegraak, stofstorms wat ons bang maak, grondoppervlaktemperature van by die 60 °C . . . die meeste lewe gaan tot niet in só ’n steriele omgewing.
Kom ons maak die kopskuif om eerder opgewonde te raak oor organismes, voëls, insekte, erdwurms en ander lewe. Vra jouself af daar waar jy sit en lees: Waar is ons besig om te bou, en waar is ons besig om te breek?
Die ander dag staan ek in ’n geselskap saam met ’n klomp vriende en gesels oor ’n ploeg.
My een dogtertjie trek aan my broekspyp en vra my wat ’n ploeg is. Dit is sulke oomblikke wat my laat besef dat ons die verskil kan maak en dat lewe die nuwe norm kan wees. Sy weet nie wat ’n ploeg is nie, maar wel hoe ’n erdwurm, springstert, spinnekop, ensovoorts lyk.
Die opgewondenheid van lewe is aansteeklik en is seker in essensie self lewe.
KYK EN BOOTS NA
Hoe doen ons dit? Soos ek laasweek gesê het: so eenvoudig moontlik. Hou die natuur dop en boots dit na.
Ons produseer miljoene ton graan wat van die lande af gestroop en dan aangery word na verwerkingsmaatskappye, wat op hul beurt die produkte terugry na onder meer plase, hoenderhuise en voerkrale.
As jy in jou veld stap en so ’n bietjie oplet na waar die diere ’n maand of wat terug gewei het, sal jy merk dat daar kolle van welige, groen plante is. By nadere ondersoek sal jy merk dat dit mis- en urinekolle is. Dink ’n bietjie hieroor na. Hierin self lê sekerlik antwoorde. As julle my nie glo nie, gaan staan vir so week of wat buite en sterre kyk, en raak ontslae van die dag se water. Kyk wat gebeur mettertyd met daardie kol gras.
Daar is opbouende moontlikhede vir ons grond as ons die graan wat ons produseer, saam met dekgewasse in ’n ultrahoëdrukbeweiding-tipe stelsel deur ons beeste, skape, bokke, varke en hoenders plaas. En alles gaan weer terug na die grond.
Die diere staan nie maande lank op een plek onder dak op beton in hul eie mis en urine nie.
Hulle loop op die grond en mis en urineer, en skuif dan aan soos ’n spreekwoordelike wildmigrasie. Kom ons noem dit sommer ’n groen voerkraal.
Soos ek in die vorige rubriek erken het, dit gaan nie maklik wees nie. As ons dit op ’n kommersiële vlak regkry, gaan dit dalk net die “nuwe” normaal word, wat sekerlik meer normal vir die natuur is as dít wat ons tans aanvang.
Die groot hindernis waarmee ons as boere sit, is die risiko. Ons kan nie bekostig om foute te maak nie. Dink aan die finansiëring van langtermynprojekte. Dink maar aan die reaksie van ’n bank, wie se tabelle al dekades gelede opgestel is, as jy met sulke idees by hulle kom. Ná ’n paar sinne lyk dit altyd asof jy hulle heeltemal verloor het en hulle staar jou aan asof die pitte in jou kop ’n bietjie los is.
Die navorsing is ook maar skaars. Ons is uitgelewer om dit self te doen en te finansier. Maar sulke struikelblokke is die stimulasie vir nuwe idees.
Daar lê ’n verantwoordelikheid by ons as landboumense om dit reg te kry.
As daar iemand is wat dit op hul eie sal kan regkry, is dit sekerlik Suid-Afrikaanse boere. Want ons kan.
Om die skrywer te kontak, stuur ’n e-pos aan alice wonderpdf@gmail.com.