Landbouweekblad

Dis lekker om ’n kind van die Here te wees

- DS. KOBUS VAN DER WESTHUYZEN

In ’n vorige gesprek het ek vertel van ’n vriend wat my aangespree­k het omdat ek so weinig skryf oor mense wat in ’n doodsbesta­an verkeer en dan dink hulle lewe wel goed. Ek glo egter dis beter om mense te help om die ware lewe te ontdek, pleks van om hulle op die dood voor te brei. Wanneer die Bybel oor die doel van menswees praat, kom die woord “lewe” telkens op die agenda en dan word bedoel ’n lewe wat vir God welbehaagl­ik is.

Ja, daar is ook ’n ander soort lewe wat eintlik meer ’n doodsbesta­an is. ’n Lewe sonder God is ’n lewe op die doodspad.

Wanneer daar in die Bybel oor die doel van menswees gepraat word, dan kry die woord lewe ’n besondere betekenis, wat veel verder strek as ons beperkte aardse bestaan. Job worstel ook met die lewensbest­aan wat so in wolke en donkerheid gehul is. Hy vra onder meer: “Maar ’n mens sterwe en is magteloos; ja, ’n mens blaas die asem uit en – waar is hy?” Dan vra hy: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe?” (Job 14: 10 en 14).

Christus sou jare later hierdie vraag beantwoord toe Hy aan Maria sê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” (Joh. 11: 25-26).

Dit is dus duidelik dat lewe in sy mooiste en gelukkigst­e betekenis aan Christus gekoppel is. Dis in hierdie gees dat die apostel Paulus aan die Filippense skryf: “Hoofsaak is dit dat julle lewenswand­el in ooreenstem­ming met die evangelie van Christus moet wees” (Fil. 1: 27).

As ek my lewe kon oorkry, dan sou ek in my prediking baie meer klem laat val op die lewe as die grootste gawe van God – lewe wat vreugde bring en vreugde uitstraal.

Dis mos lekker om ’n Christen te wees!

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa