Goed, beter, Nampo
Dit was ’n goeie Nampo. ’n Gesondmaakfees, soos Michris Janse van Rensburg, planmaker van Bultfontein, dit gedoop het. Ná twee jaar van covid-19-opskortings was die landbou weer reg om homself in die oë te kyk.
Van die boikotters se oproepe het nie veel gekom nie, en dit was lekker om te sien dat van die manne wat die hardste geskree het, toe tog maar ’n draai kom maak het.
Nampo bly maar die plek waar ’n mens die landbou se temperatuur kan meet, en vanjaar was dit kerngesond. Meganiese uitstallers het byna almal nuwe tegnologie ten toon gestel, en die verbeterings wat van die groter uitstallers aan hul uitstalruimte gemaak het in afwagting op Nampo 2022, het die optimisme net verder beaam.
Onderliggend aan dit alles was die werklikheid dat dit in baie opsigte eintlik heel skaflik met die landbou gaan. Volgens Senwes se vooruitskattings gaan daar vanjaar R97 miljard na die somerreëngebiede vloei. In waarde is vanjaar se oes byna 70% hoër as die vyfjaargemiddelde. Plaasskuld in verhouding tot die waarde van die oes is ook die laagste sedert 2007-’08.
Dít alles ondanks aansienlik hoër insetkoste!
Die meeste markontleders meen ook die hoër graanpryse gaan darem nog ’n tyd lank hou, ondanks ’n betreklike ruim wêreldoordragvoorraad van 33%.
Die optimisme op Nampo was ook vir vriende in die bankwese en versekeringsbedryf opmerklik. Vanjaar was boere se gesprekke nie oor vrese en politieke onsekerhede nie, maar oor die geleenthede van beleggings in infrastruktuur en gronduitbreidings. In die saadbedryf is vertel hoe koringsaad vanjaar byna uitverkoop is, en hoe veral die nuwe genetiese ontwikkelinge by sojabone boere se koppe laat lig.
As jy vroegoggend, skuins voor 06:00, op Nampopark aangekom het, was dinge al sterk aan die woel. Graan SA se eerste oggendvergaderings was reeds klaar, en oral het jy Graan SA se personeel en boerebestuurslede in die vroegoggenddonker raakgeloop. Te voet, op vierwielmotorfietse en oor tweerigtingradio’s. Besig om seker te maak die terrein is reg vir die dag se tienduisende besoekers.
Buiten die toonvenster wat Nampo vir landboutegnologie geraak het, is dit ook ’n wonderlike toonvenster vir die landbou en veral boere se organisatoriese bekwaamheid en fyn bestuursvernuf.
Om een van die grootste landbouskoue ter wêreld suksesvol aan te bied, sit immers nie in elke ou se broek nie. Suid-Afrika se graanboere doen dit nou al dekades lank. Vanjaar was ook dr. Pieter Taljaard, nuwe uitvoerende hoof van Graan SA, se Nampo-vuurdoop, en hy kon nie vir ’n beter debuut gevra het nie!
Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, se besoek aan Nampo was ook heel bemoedigend. Dit is immers belangrik dat politici eerstehands sien waartoe die landbou in staat is, en jy kan eenvoudig nie deur die terrein beweeg sonder om diep beïndruk te wees met die vermoëns van Suid-Afrika se kommersiële landbou nie.
Hopelik help dit die minister om die landbou te sien vir wat dit is — ’n ekonomiese juweel van wêreldgehalte wat van absoluut onskatbare waarde vir die hele land is. En ’n bondgenoot, ’n insig wat veral belangrik is aan die vooraand van die inwerkingtreding van die landboumeesterplan. Die plan wat veronderstel is om die uitnemendheid van Nampo regdeur die landbouwaardeketting tot by die laaste kommunale boer in die verste uithoek van ’n vergete voormalige tuisland te kry.
Maar sonder om daardie Nampopersoneel en boerebestuur te betrek wat reeds in die vroegoggenddonker woeker om alles vir die dag gereed te kry, gaan dit nooit gebeur nie.