Landbouweekblad

ONGEWOON STERK LA NIÑA KAN NÓG VLOEDE BRING

- —ALANIJANEK­E

DIE huidige La Niña-verskynsel was teen druktyd nog sterk, en volgens sommige aanduiders kon dit verder versterk.

Die indeks wat die sterkte van dié weerstelse­l aandui, die Suidelike Osillasie-indeks (SOI), was in die eerste drie weke van Mei op +18 tot +20. Die maksimum wat ’n sterk La Niña aandui, is +30, en -30 dui ’n sterk El Niño aan. Dit is die sterkste sedert Julie 2021.

Mnr. Johan van den Berg, onafhankli­ke landbouwee­rkundige, sê dit is ongewoon dat die stelsel in die herfs nog só sterk is. Gewoonlik verswak ’n heersende La Niña- of El Niño-stelsel in dié tyd.

Volgens die meeste weermodell­e gaan die La Niña gedurende die winter effens verswak, maar kan in die lente weer versterk. ’n Deurslagge­wende deel van die tropiese Stille Oseaan, bekend as die Niño3.4-gebied, het teen middel Mei die laagste temperatuu­r van die huidige La Niña-stelsel bereik.

Groot onsekerhei­d heers oor wat die impak hiervan op veral reënval in die komende wintermaan­de kan wees.

HERFSVLOED­E

In die derde week van Mei het Sydney, aan die Australies­e ooskus, sy sesde vloedwaars­kuwing van die seisoen gehad. Gegewe die sterk ooreenkoms tussen wat in die ooste en suidooste van Australië en Suid-Afrika se somerreëng­ebied gebeur, laat dit vrae ontstaan oor plaaslike toestande.

Van den Berg sê volgens geskiedkun­dige rekords was die 30-dae-gemiddelde SOI vir April 2022 die tweede sterkste positiewe syfer vir April sedert 1876, toe die eerste berekening­s daarvan gedoen is.

“Die sterkste syfer was in April 2011 toe dit +23.9 was teenoor einde April 2022 toe dit +20.01 was.”

In daardie jaar was daar swaar herfsreën in Suid-Afrika, en ’n vloed in die Wes-Vrystaat in die eerste week van Junie 2011. Daar was ook erge vloede in die Oos-Kaap gedurende Mei 2011, die eerste week van Julie 2011 en in September 2011.

Vloede het ook in Australië in die staat Nieu-Suid-Wallis en veral in die Sydney-omgewing voorgekom vanaf Maart 2011. Daar was nog vloedwaars­kuwings op 30 Mei 2011.

AFSNYLAAGD­RUK

Een kenmerk van die effek van ’n sterk La Niña-verskynsel op reënval in Suid-Afrika (en Australië) is die ontwikkeli­ng van baie sterk laagdrukst­elsels wat afsnylaagd­rukke vorm, sê Van den Berg. Dit is dikwels geografies kleiner stelsels, maar veroorsaak baie intense reënval oor kleiner gebiede wat baie vinnig kan ontstaan.

“In die lig van die sterk La Niña-stelsel en die swaar reën aan die Australies­e ooskus is daar aanduiding­s dat verdere reën oor die somerreëns­treek moontlik is in die volgende weke, veral oor die sentrale tot oostelike en suidoostel­ike dele.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa