WANVOEDING SE ‘AAKLIGE STATISTIEK’ STEEL SA SE TOEKOMS
BOERE as prysnemers, en uiteindelik ook hul plaaswerkers, ly die meeste, terwyl winkelgroepe grootskaals wedywer om die grootste sny koek van die lae-inkomste-mark. Te midde van stygende voedselpryse verloor verbruikers ook, want die goedkoper kos wat hulle wel kan bekostig, is nie noodwendig voedsaam genoeg nie.
“Ons is toenemend in ’n siklus van goedkoop kos,” het mnr. Melvyn Abrahams, programbestuurder van die Pietermaritzburg-groep vir geregtigheid en waardigheid (Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity-projek, PMBEJD), gesê tydens ’n gespreksessie van die Southern African Food Lab by die Universiteit Stellenbosch.
“Winkelgroepe druk en druk boere (om laer pryse te aanvaar)... Al wat op die ou end gebeur is dat boere nie hul werkers kan betaal volgens die vlak wat hulle sou wou nie.
“Daarvandaan eskaleer dinge net afwaarts. Plaaswerkers dra die las van die voedselstelsel. Dis ironies dat die een wat die piramide dra, die weerloosste en armste is.
GEBREKKIGE STELSEL
“Die voedselstelsel moet transformeer om die behoeftes van ons mense beter te dien,” het Abrahams gesê. “En daardeur bedoel ek nie dat ons moet aanhou om die goedkoopste kos moontlik in ons winkels te verkoop nie, want dis bloot die boer en plaaswerkers wat die las daarvan gaan dra. Ons het kos nodig wat redelik geprys is, ’n ekonomie wat ordentlike werkgeleenthede bied en ’n lewensvatbare salaris of living wage van minstens R10 000 per werker bied.”
Volgens Abrahams misluk die regering in sy grondwetlike verpligting om toegang tot genoegsame en voedsame kos vir alle burgers te voorsien.
Hy sê volgens die PMBEJD se berekeninge kos ’n maand se genoegsame voedsame maaltye vir ’n kind ongeveer R800. Die staat se kindertoelaag van R480 vir die armste kinders in die land skiet dus ver tekort, aangesien dit ook ander behoeftes buiten kos moet dek.
Volgens die nasionale departement van gesondheid het 191 kinders in die eerste twee maande van 2022 aan wanvoeding gesterf.
Vir Abrahams is Suid-Afrika se “aaklige statistiek” oor kindersterftes weens wanvoeding, kinders met belemmerde groei (sogenoemde stunting) en nie-oordraagbare siektes, soos hartsiektes en diabetes, skreiend. Dis ’n polities-ekonomiese gevolg van ’n land waarin meer as 50% van die bevolking nie genoeg kos kan bekostig nie.
“G’n wonder ons sukkel met lae produktiwiteit en swak skooluitslae nie. Dit gebeur nie oornag dat kinders nie voldoende groei nie. Belemmerde groei is ’n chroniese, langtermyntoestand.”
“Kinders is nie noodwendig altyd honger nie, maar dit beteken nie dat hulle genoeg voedsame kos inkry nie.
“Sodoende is ons werksmag vir ‘die nuwe ekonomie’ daarmee heen.”
VOEDSELSEKERHEID
Intergenerasie-armoede en die siektelas in die land styg toenemend.
Weens hoë werkloosheidsyfers en ’n lae minimum loon van R3 600 geniet meer as 50% van Suid-Afrikaanse huishoudings nie voedselsekerheid nie, omdat kos onbekostigbaar geraak het. Weens die hoë werkloosheidsyfer ondersteun een salaris gemiddeld 4.1 mense.
Die Pietermaritzburg- huishoudelike bekostigbaarheidsindeks hou sedert Junie 2018 boek van 44 basiese voedselsoorte (soos brood, rys, sop, kerriepoeier, aartappels, uie, mieliemeel en stampmielies) wat lae-inkomste- en arm huishoudings tipies koop. In April 2022 het dié mandjie R4 542,93 gekos – R92,84 of 2,1% meer as in Maart. Op ’n jaargrondslag het dit met R344 (of 8,2%) gestyg. In dieselfde maand het huishoudelike en persoonlike skoonmaakmiddels, soos tandepasta, seep en sanitêre produkte, 3,5% gestyg.
Abrahams het gesê dit is beduidend vir iemand met min of geen inkomste.
“Wanneer hierdie basiese kossoorte te duur word, is dit produkte soos vars groente en vrugte wat uit die mandjie val, basies enigiets wat voedsaam is en die liggaam opbou. Huishoudings bly met stysels, olie en suiker te ete oor.”
Abrahams sê hoë voedselpryse was reeds met ons voor covid-19 en die oorlog in Oekraïne.
“As verbruikers moet sny, sny hulle op kos, want dis eintlik al waaroor hulle self beheer het. Hulle kan nie dit met petrol doen nie, want mense moet by die werk kom om ’n salaris te verdien. En hulle het elektrisiteit nodig om kos voor te berei.”