Klimaat kan kalftyd vir Bosveldboere knou
TYDENS ’n intense, ongemaklik warm en vogtige somer in die sentrale Bosveld kan kommersiële vleisbeesboere hulle maar voorberei op ’n laer dragtigheids- en kalfpersentasie in die volgende seisoen. In die lig van toenemende klimaatsverandering, waarin stygende temperature toenemend verwag word, voorspel dit niks goeds vir hul winsmarges nie.
Dit is bekend dat hittestres ’n invloed op die vrugbaarheid van beeste het omdat dit onder meer ’n impak op koeie se reproduksiestelsel het, asook die gehalte semen wat bulle produseer. Die warmste maande in die sentrale Bosveld, naamlik Desember, Januarie en Februarie, oorvleuel met die dektyd van Januarie tot Maart van vleisbeeste in die gebied.
Kalwers word in die vroegsomer van Oktober tot Desember gebore sodat koeie goeie melkproduksie kan handhaaf deur die goeiegehalte-somerweiding te benut.
“Volgens ons navorsing het hittestres voor en ná die dektyd beslis ’n nadelige effek op die kalfpersentasie van vleisbeeste in die subtropiese Bosveld-somerreëngebied,” sê dr. Marsia Grobler van die Landbou navorsingsraad( L NR) se diereproduksie-eenheid.
Hierdie navorsing is oor ’n tydperk van ses jaar gedoen by die LNR se Roodeplaat-navorsingsplaas, sowat 24 km noordwes van Pretoria, waar somerreën val. Dieselfde 100 Bonsmara-koeie is voortdurend in die navorsing gebruik.
In die ses jaar het die temperatuur van 16 °C tot 32 °C in Februarie gewissel, en van 1 °C tot 23 °C in Julie.
’n Gemiddelde reënval van 841 mm is ontvang. In hierdie tyd het die jaarlikse reënval gewissel van 589 mm tot 1 285 mm.
Volgens Grobler het die gemiddelde ongemaksyfer oor die ses jaar gewissel van 73 tot 96 in die warm somermaande, en van 50 tot 79 in die winter.
Dié syfer word bereken deur die maandelikse temperatuur en humiditeit in ag te neem.
’n Syfer bo 90, maar onder 100 dui op matige hittestres,
terwyl ’n syfer bo 100 uitermatige ongemak aandui.
Die hoogste kalfsyfer van 89,6% is verkry in ’n jaar waarin die ongemaksyfer laer as 89 gebly het in die twee maande voor die dektyd, die dektyd van drie maande of die twee maande daarna.
Die laagste kalfsyfer (60,9%) is waargeneem toe die gemiddelde maandelikse ongemaksyfer bo 90 gestrek het in die maand net voor die dektyd, en die eerste twee maande van die dektyd.
“Daarvolgens kan ’n mens aflei dat hittestres voor en tydens die eerste deel van die dektyd ’n nadelige effek op reproduksie het. Volgens studies kan semengehalte verswak vir tot twaalf weke nadat ’n bul aan uitermatige hittestres blootgestel is.”
Daar was ook ’n merkbare verskil in die gewig van die koeie wat deurgaans gebruik is, en die kalwers wat hulle oor verskillende jare heen gelewer het.
“Hoë somertemperature, humiditeit en reënval kan dus ’n beduidende impak op ekstensiewe vleis bees produksie hê .”
Grobler meen ’n afname in die kalfpersentasie ná uiters warm, nat maande toon dat dit ’n invloed op die besettingsyfer in sulke toestande het. “Dit het ook ’n invloed as koeie snags nie genoeg kan afkoel nie omdat die temperatuur snags nooit laag genoeg daal nie.”
Die bevindinge is afkomstig uit Grobler se doktorale studies. Die LNR is besig met verwante studies.