VAN GEEN VERKOPE TOT DIAMANTVEILING
Danksy vasbyt en ’n onblusbare gees het mnr. Jan van Biljon, legendariese SA Vleismerino-teler, terugslae oorkom en uitgestyg totdat hy spoedig onder die voorste telers getel het. Hy moes sy teling deurgaans vernuwe om op die voorpunt van die ontwikkeling van dié skaapras te kon bly.
Toe hy die oggend ná sy eerste poging om ’n produksieveiling te hou by sy rondawel se venster oor die plaaswerf uitkyk en daaraan herinner word dat hy die vorige dag geen verkope gehad het nie, was hy mismoedig, maar dit het mnr. Jan van Biljon nie gepootjie nie.
Dit was die jaar 1968, en hy het onlangs begin boer. Sy pa, Jopie, het hom aangeraai om ’n produksieveiling te hou. Jopie het al in 1952 met die ou Duitse Merino’s begin boer en die Niekerksrust-stoetery geregistreer. Jan het die stoetery oorgeneem nadat hy in 1968 begin boer het.
“Ek het niks verkoop op my eerste produksieveiling nie. Daar was nie eintlik kopers nie en ek was nog nie ingerig vir ’n veiling nie.
“Ek het vir die mense braaivleis en mieliepap gegee, maar ek het nie genoeg borde gehad nie en moes vir party mense kos in koek- en beskuitblikke se deksels skep. Hulle moes beurte maak om te eet,” vertel hy laggend.
Aan die begin is die veilingskatalogusse op waspapier getik en afgerol. Daardie jare was sy gemiddelde pryse van R35 en toppryse van R60 vir ramme uitsonderlik. Pryse het mettertyd verbeter en Niekerksrust het later verskeie kere die hoogste gemiddelde
pryse vir ooie en ramme op dié ras se veilings behaal.
KYK NIE TERUG
Die wankelrige begin het Jan nie afgeskrik nie. Op sy volgende veiling ’n jaar later het hy alles verkoop. Van toe af het hy nooit
teruggekyk nie. Die stoetery en die ander vertakkings van sy boerdery het met stewige spronge begin groei.
Hy gebruik vandag nog die stoetery registrasie JVB omdat Jopie en Jan van Biljon immers albei dié afkortings pel.
Jan boer al sedert hy ná skool en weermag ’n kortstondige ses maande aan die Universiteit van Pretoria landbou gestudeer het. Jopie het toe ’n hartaanval gehad en Jan is plaas toe. Hy het eers die saaiery behartig. Ná twee maande het hy ook die veeboerdery met Sussex-beeste en Vleismerino’s oorgeneem. Sedert 1972 het hy sy eie boerdery gehad. Hy het in 1979 sy grootwordplaas, Niekerksrust by Viljoenskroon, by sy pa gekoop en alleen begin boer.
Op 15 Junie vanjaar bereik Jan die uitsonderlike mylpaal om sy 60ste produksieveiling op sy en sy vrou, Trix, se plaas aan te bied. Hy het sommige jare meer as een keer veiling gehou. Op vanjaar se diamantveiling bied hy weer net ramme aan wat vir vrugbaarheid getoets is en ooie wat tans lammers het, dragtig is of reeds gedek is.
Mnr. Jan Vosloo, bestuurder van die SA Vleismerino-genootskap, sê Niekerksrust is die oudste stoetery in Suid-Afrika wat op ’n deurlopende grondslag nog elke jaar teelmateriaal aan die skaapbedryf verskaf.
Dit is ook die derde oudste aktiewe stoetery. “Geen ander stoetery het méér geregistreerde ooie en ramme oor so ’n lang tyd aaneenlopend gelewer nie.”
Die Van Biljons se seun, Bertus, boer sedert 2001 saam met sy pa, wat ook plase by Kroonstad het. Bertus behartig die saaiboerdery wat uit mielies, sonneblomme en sojabone bestaan. Die administrasie en dieregesondheid is mnr. Jaco Jonker en sy vrou, Colette, se verantwoordelikheid. Jaco werk al 18 jaar saam met Jan.
BAIE VERBETER
Jan (73) vertel toe hy begin boer het, was die Vleismerino al ’n beter skaap as die ingevoerde Duitse Merino’s waarmee sy pa begin boer het. Hoewel hulle ’n goeie bouvorm gehad het, was die wol swakkerig.
Sedertdien het die ras baie verbeter en is later as die SA Vleismerino geregistreer. Toe het dit min na die ou Duitse immigrant getrek. Seleksie en teling het sterk op die verbetering van die vrugbaarheid en wol klem gelê. Jan was een van die telers wat op goeie vleis én wol gekonsentreer het. “Die idee was nie om die vleis minder te maak nie, maar om meer wol by te sit.”
Hy boer nou met baie eenvormige Vleismerino’s met goeie wol van gemiddeld 23 mikron wat 10% van die inkomste oplewer. Die res kom van die vleis. Dit is immers ’n vleisskaap.
Danksy die hoë waarde van vleis is die inkomste uit die skape en kommersiële S ene pol-beeste wat vir speenkalf produksie aangewend word, deesdae net soveel as uit die saaiery.
12-MAANDE-LAMSTELSEL
Die Vleismerino’s in die Niekerksrust-stoetery word deur Jan as redelik vroegryp bestempel. Hy het voorheen altyd met groot skape van tot drie jaar oud geskou, maar deesdae is die neiging maksimum twee jaar sodat skouramme gouer op die mark kom.
“Ek het in 1970 begin skou sodat ek hulle met ander telers se stoetskape kon vergelyk.” Hy het 45 jaar lank aan skoue deelgeneem, maar in 2016 opgehou en al sy aandag aan die boerdery bestee. In dié tyd is hy 21 keer as die teler van kampioene op skoue aangewys, het 20 keer die meeste punte aangeteken en het talle Suid-Afrikaanse kampioene opgelewer.
Jan verkies ’n 12-maande-lamstelsel
Die idee was nie om die vleis minder te maak nie, maar om meer wol by te sit.
met twee groepe ooie. Die maand wanneer die een groep ooie lam, word die ander groep gedek. Dit versprei die werklas beter omdat albei groepe baie arbeid verg.
Die speenlammers gaan dadelik na bemeste smutsvingergras of weimielies, na gelang van die ooigroep. Die plaas bestaan uit gelyke dele aangeplante smutsvingergras, natuurlike weiding en saailande.
Die ooie word op 12-14 maande gedek en lam dan op 18-20 maande wanneer hulle sterk genoeg is om hul lammers mooi groot te maak.
VERSKILLENDE FAMILIELYNE
Die stoetery pas handdekking toe omdat Jan die mees geskikte ram vir elke ooi uit een van die sewe tot nege familielyne kies om inteling te voorkom. Daarvoor word elke ooi se lam ná speen op grond van sy voorkoms geëvalueer sodat die regte ram volgens tipe en lyn vir haar volgende dekking gebruik kan word.
“Daar is egter min verskille tussen die lyne. Ek bring ook soms nuwe teelmateriaal van ander voorste telers in nadat ek hulle dopgehou en gesien het watter waarde hulle kan toevoeg.”
Die eerste seleksie vir ramme en ooie is met speen wanneer die beste lammers op grond van rasegtheid en visuele voorkoms behou word. Die tweede seleksie geskied op dieselfde grondslag met die tweede weging. Lammers wat uitsak, word uitgeskot, maar daar is baie min.
Dit gaan gepaard met wegings op 100120 dae nadat die lammers gespeen is en op 270 dae nadat speengroei verby is. Dan kan die speenpersentasie en naspeense groei bereken word.
Die ramme word op 12-14 maande gekeur, daarna uitgegroei en vir die produksieveiling gereed gemaak deur vir hulle ’n bietjie ekstra voeding te gee.
VINNIG VERBETER
Volgens Vosloo het Jan se Vleismerino’s vinnig verbeter sedert hy in 1978 besluit het om die teelkudde met die helfte te verminder en net die beste teelooie te bekom. Hy hou met ooikaarte nougeset rekord van produksie om hom met seleksie te help.
Die ooie se reproduksie het verhoog en gemiddeld 5,2 lammers is al per ooi oor ’n tydperk van 24 maande gespeen. Die feit dat hy die moeders se rol in teling uiters hoog aanslaan, dra by tot hierdie suksesse.
Jan eksperimenteer voortdurend met kombinasies en gebruik korrektiewe paring om leemtes en funksionaliteit te verbeter. Hy hou van struktuur en hou altyd aan met ’n metode of rantsoen totdat hy van iets beters of ekonomieser oortuig is.
Hy is nie suinig met sy kennis wat oor soveel dekades opgebou is nie. Hy bied byvoorbeeld jaarliks saam met die SA Vleismerino-genootskap ’n tweedaagse kursus vir boere op sy plaas aan. Daar kan jong boere en ander mense wat meer van die ras en die boerdery wil weet, aan die voete van Gamaliël leer.
Jan was 17 jaar lank (vanaf 1995 tot 2012) ’n raadslid van die genootskap.
GOEIE PLANMAKER
Hy is nie net ’n meesterteler van Vleisme
rino’s nie, maar het ook planne beraam om die boerdery vlot te laat verloop. Omdat die distrik erg onder veeverliese deurloop weens roofdiere en veediewe, is daar Anatoliese herdershonde, Spaanse donkies en volstruise by die veetroppe op die plaas om hulle te beskerm.
Die honde is baie waaksaam en omdat hulle by die skape grootword, beskerm hulle die kleinvee deeglik. Die Spaanse donkie is ’n groot dier en lyk baie intimiderend. Vir ’n volstruis is mense van nature lugtig, en saam het dit veeverliese feitlik laat verdwyn.
Jan gebruik ook halsbande met ’n elektroniese toestel om sommige skape se nekke wat deur ’n selfoon alarm maak as die skape onnatuurlik optree, soos om snags te hardloop.
Vir ekstra inkomste teel hy met die honde en verkoop kleintjies aan ander veeboere, terwyl hy ook enige oortollige volstruiskuikens van die hand sit.