GEE JOU BOORGATE NUWE LEWE
Dit maak meer sin — ekonomies én prakties — om water ondergronds op te gaar as in damme, veral in die droë, warm gebiede waar verdamping baie hoër is as die jaarlikse reënval. Kunsmatige akwifeeraanvulling sal waarskynlik ál belangriker word vir Suid-Afrikaanse dorpe en boere namate klimaatsverandering sy kloue inslaan.
Reënvalpatrone het reeds verander wat betref intensiteit, volume en interval. Daarom het die staat die inwerkingstelling van verskeie aanvullingskemas in die nasionale grondwaterstrategie en die water-en-sanitasiemeesterplan opgeneem.
Mnr. Fanus Fourie van die grondwaterdivisie van die geologiese vereniging van Suid-Afrika en me. Danita Hohne van die departement van water en sanitasie sê water kan as ’t ware “gebank” word vir die droë jare wat kom. Daar is baie opgaarplek onder die grondoppervlak.
Hulle beantwoord vrae oor hoe dit werk.
WAT IS AKWIFEERAANVULLING?
Kortom behels dit die aanvulling van grondwater (ondergrondse water) met natuurlike bronne, soos reënwater. Hoe meer dit reën, hoe meer aanvulling behoort plaas te vind, maar dit gebeur nie altyd nie. Veral met droogtes daal grondwatervlakke te ver, en duur dit lank om te herstel.
Kunsmatige aanvulling of die bestuur van akwifeeraanvulling is wanneer ander maniere gebruik word om water vinniger deur die geologiese lae te laat syfer en tot in die akwifeer te kry as deur die natuurlike prosesse.
Die hoofrede vir die bestuur van akwifeeraanvulling is om meer water vir latere gebruik op te gaar. Daarbenewens kan dit ook gebruik word om die gehalte van die grondwater te verbeter, see- of brakwater terug te hou, en vir die verhoging van die lewering en volhoubaarheid van die watervooraad.
WAAR STAAN SUID-AFRIKA VERGELEKE MET ANDER LANDE?
Suid-Afrika was die tweede land ter wêreld wat ’n strategie opgestel het om kunsmatige aanvulling te bevorder – reeds in 2007. Hierdie projek het verskeie dokumente opgelewer wat help met beplanning en toepassing. Die dokumentasie en nog besonderhede is beskikbaar op die webwerwe www.artificialrecharge.co.za en www. dws.gov.za/Groundwater/Artificial%20 Recharge.aspx.
Bykomend tot die inwerkingstelling van die strategie word daar ’n handleiding be
oog om klein skemas te ontwikkel.
In Australië en Amerika word kunsmatige aanvulling op groot skaal toegepas. In Indië word duisende klein skemas deur die staat en boere gebruik om grondwater volhoubaarder te maak. Wat kunsmatige aanvulling in Afrika betref, hou Suid-Afrika die rekord met 18 skemas.
WAT IS DIE POTENSIAAL IN SUID-AFRIKA?
Die metodes kan reg oor Suid-Afrika toegepas word. Die doeltreffendheid en sukses gaan van ’n paar faktore afhang. Dit sluit in die beskikbaarheid van water om aan te vul, of die akwifeer die water kan inlaat of nie, die watergehalte, die aanvullingsmetode, die omgewingsimpak, wetlike vereistes, koste, en die bestuur en onderhoud van die skema. Die grootte van die skema bepaal gewoonlik hoe groot die impak sal wees.
Suid-Afrika het al in die 1950’s met amptelike aanvullingskemas begin, hoewel op ’n klein skaal. In die 1980’s is die eerste groot skema by Atlantis gebou. Dit is vandag nog in bedryf. Dit word ook op groot skaal gedoen aan die Weskus, en by Postmasburg, Sishen en Polokwane.
In die Noord-Kaap word dit op kleiner skaal gedoen om water aan dorpe soos Carnarvon, Van Wyksvlei, Loeriesfontein en Williston te verskaf. ’n Nuwe ontwikkeling vind ook plaas by Sutherland, terwyl verdere skemas by Williston, Brandvlei, Loeriesfontein en Calvinia sterk moontlikhede is.
Nie-amptelik is daar in die afgelope twee eeue skemas op plase ontwikkel.
HOE WORD DIT GEDOEN?
Daar bestaan verskeie tipes of metodes van aanvulling, soos SKETS 1 toon. Die soort aanvulling kan basies in twee groepe opgedeel word, naamlik infiltrasie en direkte aanvulling. Met infiltrasie (waar water in damme of panne opgevang word) word die grond as filter en suiweringsmedium gebruik en die natuurlike aanvullingsproses word eenvoudig nageboots.
Met regstreekse aanvulling word die water deur ’n boorgat direk in die akwifeer
geplaas. Die metodes kan ook in kombinasie gebruik word, maar sal verskil ten opsigte van koste, onderhoudsvereistes, die spoed van aanvulling en die opportunistiese aard van die waterbron.
KAN BOERE DIT DOEN?
Ja. Daar is reeds baie gronddamme op plase wat gebou is vir veesuipings, maar wat ook die grondwater voed. Dit het egter al erg toegeslik. Infiltrasie kan verbeter word deur die slik uit te grawe. Slote van 1 m breed wat in die vloer van damkom gegrawe word, is baie doeltreffend.
Dit sal help dat al die reënwater nie op die oppervlakte lê en verdamp nie, maar eerder vinniger insak. Dit is natuurlik net nodig om die damme skoon te maak wat bokant die boorgate lê.
Dan kan daar gekyk word na droë lope of strome op plase (infiltrasietenkmetode) wat op ’n opportunistiese manier water ná ’n skaars reënbui opvang. Die bou van deurlaatbare klipskanse in die stroom vertraag die afloop van die water genoeg om
dit te laat insak. Die versperrings dien ook as erosiewerende strukture. Die aanvulling is natuurlik baie minder in gebiede waar geen of min plantegroei voorkom.
Die lengte en hoogte van versperrings sal egter deur ’n hidroloog bepaal moet word en ’n algemene magtiging sal deur die departement toegestaan moet word ingevolge afdeling 21 (c) en (i) van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998). Hierdie strukture moet verkieslik meer as 100 m stroomop van die naaste produksiegate geplaas word om genoeg tyd te gee vir infiltrasie in die akwifeer.
Net soos damme wat gereeld geskraap moet word, sal die klipversperrings ook in stand gehou moet word.
HOE KAN BOERE REËNWATER DIREK IN BOORGATE INKRY? KAN DROË OF SWAK BOORGATE IN DIE KAROO GEBRUIK WORD?
Reënwater wat van dakke opgevang word, kan direk in boorgate ingepomp word. Stormwater wat in spruite afkom, kan ook na infiltrasiepoele of boorgate gekanaliseer word. Hierdie water moet egter gesuiwer word van modder en grond deur dit deur ’n filter te laat vloei ( SKETS 2 ). Die filter kan sand, klip of materiaal wees.
Indien modder of slikwater in die boorgat toegelaat word, sal dit toeslik. Sulke infiltrasiegate sal weer oopgeblaas moet word.
IS DAAR ENIGE GEVARE?
Omdat reënwater gebruik word, word dinge so natuurlik moontlik gehou. Maar as ander bronne oorweeg word, bestaan daar gevare van bakterieë wat die boorgate kan besoedel of die waterdraende breuke toegroei. Afloopwater van besoedelde plekke, soos werkwinkels (olie), vuilgoed
hope, veekrale en landerye wat met gif of kunsmis behandel is, moet vermy word as waterbron vir aanvulling.
KAN BESTUURDE AANVULLING DIE WATERGEHALTE VERBETER?
Met die monitor van watervlakke en watergehalte op bestaande plekke waar aanvullingskemas geïnstalleer is (voor en ná die installering van die skema) is oor jare goeie verbetering in die grondwaterbron gesien. Om die sukses van die skemas te verhoog, moet ’n professionele geohidroloog egter genader word vir hulp. ’n Lys van professionele geohidroloë is beskikbaar by gwd.org.za/professionals-list.
Met reënwater kan gehalte verbeter of gesorg word dat dit ten minste dieselfde bly en nie verswak nie. Met versnelde aanvulling is die water vir ’n korter tyd aan die geologie blootgestel om met die minerale te reageer.
HOE REAGEER DIE AANVULLING MET DIE BESTAANDE WATER: DRYF DIT BO-OP OF MENG DIT MET DIE BRAKKER WATER?
Die metode wat gebruik word, gaan bepaal hoe die vermenging van die aanvulwater en akwifeerwater plaasvind. Boorgataanvulling laat water direk in die akwifeer invloei en die aanvullingswater sal dan ’n sone om die boorgat vorm. Die water sal aan die kante van hierdie sone meng. Daar moet ook onthou word dat grondwater van hoër na laer dele vloei. Dus sal die aanvullingswater ook in die rigting van laer dele vloei.
HOE SKAKEL AANVULLING IN BY ANDER METODES, SOOS WATERSUIWERING?
Die beste manier om volhoubare watersekerheid te hê, is om die bronne van waar water verkry word, te diversifiseer. ’n Kombinasie van bronne kan gebruik word.
As daar gekyk word na bronne van watersuiwering, word daar gedink aan soutof brakwater en rioolwater. Dit is baie ingewikkeld en sal deur ’n geregistreerde geohidroloog gedoen moet word. As rioolwater gebruik word, moet dit baie goed gesuiwer word. Om die proses te bestuur, sal baie goeie monitering moet plaasvind van watergehalte en -vlakke by alle punte van die bron. Op Kathu en Postmasburg is selfs mynwater gebruik om die dorpe se grondwater aan te vul.