ONSEKER OOR KOS
Suid-Afrika kan diep dankbaar wees vir die skamele 30 000 of so boere wat die vermoë en kundigheid het om genoeg kos vir die land se meer as 60 miljoen mense te produseer. Maar dit is nie al nie. Daar is ook nog boere wat landbouprodukte van wêreldgehalte uitvoer en broodnodige valuta en ekstra inkomste vir Suid-Afrika verdien.
Vir ’n land om in sy eie kosbehoeftes te kan voorsien, is seldsamer as wat ’n mens dink. Volgens beramings sal gemiddeld net 36% van lande teen 2100 genoeg kos vir hul bevolking kan verbou.
Daar is juis tans ernstige vrae oor die beskikbaarheid en toenemend die bekostigbaarheid van kos, ’n werklikheid wat Suid-Afrika se landbouvermoëns net verder onderstreep. Die feit dat 30% van die wêreld se koringoes in gedrang kan wees vanweë die oorlog in Oekraïne en sanksies teen Rusland, asook ’n moeilike plantseisoen op plekke in die Midde-Weste van Amerika, dra by om die wêreld se kosstelsel deurmekaar te krap.
Die kommer oor kos is nou só groot dat dit selfs die opmars van globalisasie help stuit, merk prof. Johan Willemse in dié uitgawe op
Lande skort toenemend hul kosuitvoer op, terwyl hulle die plaaslike mark teen alle internasionale mededinging beskerm.
Dít is wat Suid-Afrika se sitrusbedryf oorgekom het toe die Spanjaarde onlangs ’n groot klip in die pad van ons sitrusuitvoer na Europa gerol het. Deur kommer oor swartvlek in te span, sonder veel geldige wetenskaplike bewyse, kon Spanje Suid-Afrika se uitvoer aansienlik bemoeilik. En met ons landbou wat 50% van sy inkomste deur uitvoer verdien, het ons elke uitvoermark nodig.
Suid-Afrika se weiering om Rusland vir sy inval van Oekraïne te veroordeel, plaas ons ook stewig in die kamp van die Brics-lande China, Rusland en Indië, en vervreem ons polities van Europa en Brittanje, steeds die grootste uitvoermark vir baie van ons landbouprodukte. ’n Ongemaklike stand van sake.
Dan is daar die bedreiging van Suid-Afrika se uitvoermarkte deur ons eie politici, iets waaroor Jaco Minnaar, voorsitter van Agri SA, onlangs op Mpumalanga Landbou se kongres gewaarsku het. Boere en verwerkers moet versigtig wees, het hy gesê, om die kwessie van voedselsekerheid ligtelik in te span om punte teen mekaar aan te teken. Hulle kan straks die regering die skrik op die lyf jaag en hom laat besluit om landbou-uitvoer op te skort in ’n ondeurdagte poging om plaaslike kosvoorrade te beskerm!
Wat nogal ’n ironiese reaksie sal wees, aangesien Suid-Afrika reeds met die onrusbarende werklikheid worstel dat mense van honger sterf, ondanks al die kos wat ons boere betreklik goedkoop verbou. In die afgelope jaar en half het 14 kinders onder die ouderdom van vyf jaar net in die Nelson Mandelabaai-metropool van honger gesterf, berig Daily Maverick, met 216 gevalle van akute wanvoeding wat ook aangeteken is. Op Butterworth in die voormalige Transkei het sewe kinders in Januarie en Februarie vanjaar van honger gesterf. En só gaan dié diep skokkende lys aan.
Van Suid-Afrika se 60 miljoen mense het 10,2 miljoen (17%) die afgelope week honger gely, terwyl 2,4 miljoen (4%) elke dag van die week honger ly. Daar is 1,5 miljoen kinders met verpotte groei — dit is drie uit elke tien Suid-Afrikaanse kinders wat reeds ’n verstandelike en fisieke agterstand het. Waarlik onvergeeflike statistieke vir ’n land wat genoeg kos produseer.
Is dit nie iets waaraan die landbou in die breë moet aandag gee nie? Om dié wat reeds kos sinvol versprei, meer by te staan? Organisasies soos Gift of the Givers en Food Forward SA. Want is mense kos gee dan nie wat ons boere doen nie?