WALRICH: IS DÍT DIE SKAAP VAN DIE TOEKOMS?
Suid-Afrikaanse wolboer soek na ’n skaap met wol soos dié van die Merino, maar wat terselfdertyd ook goeie vleiseienskappe het. So ’n skaap bestaan moontlik reeds in die Republiek — die ras is miskien nog net nie so goed bekend nie.
Die afgelope paar jaar heers daar ’n mate van onsekerheid by die Suid-Afrikaanse wolboer. Wolpryse het gedaal en meteens voldoen die Merino, ’n skaap wat jare lank met wol gepak is, nie meer ten volle aan die vereistes van die ekonomie nie. ’n Mens hoor dikwels die bewering dat daar, terwyl die wolpryse so hoog was, nie genoeg aandag aan die grootte en bouvorm, vrugbaarheid en melkproduksie van die Merino gegee is nie.
Kruisteling het al hoe meer begin kop uitsteek, en elke dag waarsku landbouleiers dat onoordeelkundige kruising vermy moet word. Die Merino, wat die wolboer so lank gedra het, sê hulle, moenie nou ter wille van omstandighede weggeteel word nie.
Intussen het ’n relatief onbekende skaap, die Walrich, in die afgelope paar jaar sterk op die voorgrond getree. Dit is ’n ras waarvan die wol ten opsigte van lengte, fynheid, hantering en olie-inhoud ál die kenmerke van goeie Merinowol toon. Terselfdertyd is dit ’n groot, swaar skaap met ’n groot raamwerk, asook goeie vleiseienskappe.
Landbouweekblad het met mnr. Alan Higgs van die plaas England, Tweespruit, die eienaar van die oorspronklike Walrich-stoetery waaruit die nuwe ras ontwikkel is, gaan gesels. Hy het die geskiedenis van die ontstaan van dié betreklik nuwe Suid-Afrikaanse skaapras aan ons geskets en sommer ook vertel hoekom die Walrich die wolskaap van die toekoms kan wees.
Die “vader” van die Walrich was wyle mnr. Jock Higgs wat op die plaas Richmond by Zastron geboer het. Hy het ’n Merinostoetery besit met nakomelinge van ingevoerde Australiese skape. Omdat die woleienskappe van die Merino reeds in daardie dae oorbeklemtoon is, het Higgs die fout raakgesien en meer aandag aan bouvorm en grootte geDie gee. Die gevolg van sy teelbeleid was ’n groot skaap — glad, maar met genoeg wol van mediumsterkte en met ’n groot stapel.
Intussen het mnr. A. Gibaud van die plaas Chesterton, Molteno, ’n groep Franse PrecoceMerino’s ingevoer. Die Precoce was veral bekend as ’n groot skaap met ’n fyn wol van A-lengte — dus tipies Merino, hoewel miskien ’n bietjie fyner. Dit was ook bekend vir vrugbaarheid en vinnige groei.
In 1930 het Higgs die Precoce-ramme by Merino-ooie gebruik. Die idee was nie om ’n nuwe ras te teel nie, maar om die bestaande Merino só te verbeter dat dit ’n ekonomieser ras sou wees. Drie Precoce-ramme is met 100 streng gekeurde Merino-ooie gepaar. Selfs die eerste lammeroes het ’n groot verbetering getoon.
Higgs het ’n program van streng keuring gevolg en ná baie jare het ’n Merino met verbeterde eienskappe te voorskyn getree.
Van die begin af is ook streng teelaantekeninge gehou — iets wat die huidige telers in staat gestel het om hul skaap as ’n nuwe ras te laat registreer en dit só erken te kry.
(Die Dohne- en Walrich-skaaptelersgenootskap het in 1982 geamalgameer om die Dohne-Merino-skaaptelersgenootskap te vorm. — Red.)