Landbouweekblad

Vroegwinte­r raak ál droër

- — ALANI JANEKE

DATA van die afgelope dekade dui aan dat daar in April en Mei ál minder reën in die winterreën­gebiede val, terwyl veral Junie heelwat meer kry.

Mnr. Johan van den Berg, ’n onafhankli­ke landbouwee­rkundige, sê Malmesbury in die Swartland het sedert 2010 meer as 22% van sy reën in Junie gekry, en heelwat minder as voorheen in April en Mei. Dieselfde geld Bredasdorp in die SuidKaap, wat meer reën later in die winter gekry het. “Langtermyn­neigings toon dus ’n effense verhoging in reënval van Junie tot Augustus.”

Volgens die langtermyn­gemiddelde vir Malmesbury kom sowat 7% van dié distrik se jaarlikse reënval in April voor, 12% in Mei, 18% in Junie, 16% in Julie, 15% in Augustus en 10% in September. In die Bredasdorp-omgewing val 10% in April, 9% in Mei, 12% elk in Junie en Julie, 11% in Augustus en 9% in September.

Van den Berg sê met dit in gedagte kan die El Niño Suidelike Ossilasie-verskynsel en die matige La Niña-stelsel wat steeds voorkom, ook ’n impak op die winterreën­val hê. Die La Niña-verskynsel oorheers weerstelse­ls sedert Julie 2021.

LA NIÑA SE EFFEK

“In soortgelyk­e seisoene in die verlede, waar ’n La Nina-stelsel weerstelse­ls oorheers het, het daar taamlike swaar reën gedurende die winter ook oor dele van die winterreën­gebied en selfs oor die suid- en ooskus voorgekom.”

Die La Niña-stelsel het die afgelope somerseiso­en tot swaar neerslae en in sommige gevalle rekordhoev­eelhede reën gelei.

In 2011, toe daar ’n La Niña soortgelyk aan vanjaar geheers het, het daar op 7 tot 9 Junie 2011 baie swaar reën en vloede oor die Overberg, Wynland-distrik, Eden-distrik en die Sentraal-Karoo voorgekom, wat groot skade veroorsaak het.

“Soortgelyk­e voorvalle het ook voorgekom tydens die La Niña-verskynsel­s van die 1988-’89-seisoene, asook in 1974, 1975 en 1976, toe swaar reën en baie sterk windstorms groot skade veroorsaak het.”

AUSTRALIË

Die Australies­e buro vir meteorolog­ie het onlangs luidens ’n verklaring gesê klimaatmod­elle dui aan ’n sterk negatiewe Indiese Oseaandipo­ol (IOD) is tydens die winter moontlik. ’n Sterk negatiewe IOD kan bydra tot hoër reënval oor dele van Australië en Suid-Afrika.

Ooreenkoms­te bestaan tussen die twee lande se klimaatsto­estande omdat hulle op dieselfde breedtegra­ad lê.

“Die negatiewe IOD verhoog die kans op bonormale winter- en lentereënv­al vir ’n groot deel van Australië. Die voorspelde see-oppervlakt­emperatuur­patroon in die tropiese Stille Oseaan is steeds tot voordeel van gemiddelde tot bogemiddel­de winterreën vir (veral) die oostelike dele van Australië.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa