BLOKKETTINGTEGNOLOGIE TOT DIE REDDING?
Naspeurbaarheid en biosekerheid in die veebedryf is onder die loep geneem op ’n paneelbespreking van AgriVoice en die Noordwes-Universiteit op die Nampo-oesdag.
Me. Elandri de Bruyn, bedryfshoof van Wagyu Suid-Afrika, het gesê dié bedryf pas naspeurbaarheid op twee vlakke toe en gebruik kameras om die marmering van karkasse te gradeer. Sodoende kon dit internasionale deure wat tydens die uitbreking van bek-en-klouseer in Suid-Afrika toeswaai, weer “oopskop”.
Die bedryf besef hoe belangrik die insameling van diere se data is. Dit moet reg gebêre en aan die regte mense beskikbaar gestel kan word.
Mnr. Dawie Roodt, senior ekonoom van die Efficientgroep, glo blokkettingtegnologie gaan toenemend in ál meer bedrywe gebruik word. “Die veilige bêre van inligting skep meer internasionale handelsgeleenthede, want die uitruil van inligting ken geen grense nie. Veilige inligting oor onder meer eienaarskap en genetiese eienskappe sal handel baie vergemaklik.”
Volgens mnr. André Vos, uitvoerende hoof van Vleissentraal, is naspeurbaarheid en biosekerheid onskatbaar. Dit is broodnodig dat afslaers gesonde diere moet verkoop.
Oor die toepassing van ’n naspeurbaarheidstelsel het hy gesê: “As jy in jou eie bedryf ’n verskil wil maak, moet jy maar ’n paar rand bestee en vooruitgaan.”
Die veebedryf moes die afgelope jaar vinnige aanpassings maak weens die bek-en-klouseeruitbrekings.
“Alle veilingskrale identifiseer nou siek diere. Ons is ligjare voor van waar ons ’n jaar gelede was. As die staat nie sy volle rol kan vervul nie, moet ons dit self doen.
“As ons kon aanpas deur ’n dier vas te maak en te kyk of dit sere in die bek het, kan dit nie so erg wees om naspeurbaarheid toe te pas nie. Ons moet net begin.”
— ALANI JANEKE