DIÉ WEEK IN DIE LANDBOU
VERSIGTIG OPTIMISTIES
Landbousakevertroue het volgens die jongste indeks van Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie hieroor in die tweede kwartaal vanjaar met 2 punte tot 60 gedaal. Die subindeks oor algemene ekonomiese toestande het met 5 punte tot 43 gedaal. Die neutrale punt is 50. Die oorhoofse punt van 60 dui daarop dat landboubesighede breedweg steeds optimisties is oor bedryfstoestande in Suid-Afrika, maar die lae punt oor algemene ekonomiese toestande weerspieël onsekerheid weens geopolitieke spanning, inflasie, ’n verstadiging in internasionale ekonomiese groei en plaaslike faktore soos beurtkrag, sê mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz. Lees meer by bit.ly/3Ojw2nc.
RIGTINGLOOS
Twee sekuriteitswagte wat in die Noord-Kaap die pad byster geraak het, het vroeër vandeesmaand aanleiding gegee tot ’n vals berig dat twee voormalige soldate van 32 Bataljon namens die Land Bank by ’n plaas tussen Sutherland en Williston ingebreek het om die plaas oor te neem weens onbetaalde skuld. Die DA het selfs ’n verklaring daaroor uitgereik. Volgens Agri Noord-Kaap was die “besetting” inderwaarheid weens ’n misverstand ná twee sekuriteitswagte op die verkeerde plaas aangekom het om te keer dat die plaas verkoop word voordat die skuldenaar wat die twee wagte gestuur het, betaal is.
TWAK NAT
Die appèlhof het vroeër vandeesmaand in die tabakwaardeketting se guns bevind in ’n saak teen die regering oor die verbod op tabakhandel wat tydens die covid-19-pandemie ingestel is.
Die hof het bevind die regering se regverdiging vir die verbod op die wettige verkope van tabakprodukte was sonder voldoende meriete. Mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van die landboubelangenetwerk Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief (Saai), sê tabakwerkers, -boere en -verwerkers sal moontlik vergoeding kan eis vir finansiële verliese wat hulle weens die verbod op die wettige verkope van tabakprodukte gely het. Lees meer by bit.ly/3O5rSPX.
VEEBOERE BY KRUISPAD
Die hoë pryse van landboukommoditeite soos grane kan ’n verlammende effek op die veebedryf hê. Prof. Johan Willemse, onafhanklike landbou-ekonoom, het op die Vrystaatse jaarvergadering van die Rooivleisprodusente-organisasie gesê sommige hoenderen varkvleisprodusente kan reeds nie meer winsgewend sake doen nie. Hy meen veeboere sal dit moet oorweeg om hul speenkalwers van die veld af te bemark pleks van deur voerkrale, want dit gaan te duur word om diere intensief te voer. Hy voorsien dat stagflasie en ’n geopolitieke verdeeldheid die veranderende globale ekonomie se voorland is. Lees meer by bit.ly/3O0rDWs.