DINK NUUT OOR HOENDERVLEIS
Ek was lank in die hoenderbedryf werksaam en weet dus dat dit ’n baie dinamiese bedryf is, met sy eiesoortige probleme wat veroorsaak word deur invoer, strawwe mededinging tussen verskillende produsente, probleme ten opsigte van geskikte en deurlopende watervoorsiening en deurlopende kragvoorsiening, om maar ’n paar te noem.
Hierdie faktore is egter ’n gegewe, en dus moet daar gekyk word na maniere om sommige van hierdie probleme te oorbrug en winsgewender te word.
As uit ’n verbruikersoogpunt na hoenderprodukte gekyk word, is daar ’n paar punte wat vir die klant uitstaan, naamlik gehalte, aanbieding, eenvormigheid, waarde vir geld, bekostigbaarheid en hoeveel pakke nodig is om sy of haar gesin te voed.
As ons aanvaar dat die gehalte, aanbieding en eenvormigheid te alle tye redelik dieselfde is, lê die problem by bekostigbaarheid en waarde vir geld. Die ekonomiese omstandighede in Suid-Afrika druk alle verbruikers, maar raak die armste van die armes die meeste. Hou in gedagte dat hoenderprodukte steeds die goedkoopste proteïen beskikbaar is, maar dit beteken nie dit is bekostigbaar vir die grootste deel van ons bevolking nie.
Die produsente van hoendervleis is ook onder druk om die somme te laat klop.
Waar bring hierdie feite ons? Bekostigbaarheid is heel boaan die lys. Ek is van mening dat hoenderprodusente uiters innoverend is wat produkte betref wat vir die hoërinkomstegroepe van groot waarde is, maar nie ’n groot bydrae lewer nie tot bekostigbare produkte vir die laerinkomstegroepe, wat, soos almal weet, verreweg die meerderheid van Suid-Afrika se bevolking uitmaak. Ons moet net onthou dat arm mense se beperkte geld baie belangrik is en dat hulle dus op waarde vir geld aandring.
Dit bring my by twee produkte wat ’n hoë volume beslaan en deur ’n baie groot deel van die bevolking gekoop word as gevolg van die inhoud daarvan en die historiese prys daarvan, maar wat lankal nie meer bekostigbaar of waarde vir geld isnie.
Die vars, laegewigproduk (dus bekostigbaar) se prys was 20 jaar gelede R19,99 per kg. Nou is dit R39,99 per kg. Dit
is die werklikheid. Daarom meen ek hoenderprodusente moet meer innoverend wees om die armstes van die armes te help sonder om hul winsgewendheid te beïnvloed.
Sedert die ontstaan van hoenderproduksie word ’n hoenderkarkas in agt stukke opgesny. Daar is beperkte produkte wat vandag uit nege stukke bestaan, dit is verreweg nie genoeg nie.
Daar is baie innovering wat by vars porsies gedoen kan word, veral as ’n mark iewers in die buiteland ontwikkel kan word vir ontbeende borsies. Winsgewendheid kan vir hoenderprodudente verbeter en arm mense kan laegewig, vars braaipakke teen bekostigbaarder pryse koop.
Kitsbevrore hoender met meer porsies per pak teen dieselfde gewig, dus 2 kg, kan meer mense in ’n huishouding voed. Niemand wil ’n borsstuk, waar die twee borsstukke 42% van die geslaggewig uitmaak, hê nie.
JOHAN HUNTER Brief per e-pos ontvang