Landbouweekblad

MOET DIE AFRIKANER-BEES DIE KROON VAN SY KOP VERLOOR?

-

Dit ly geen twyfel nie dat die gedagte om van horings by vee ontslae te raak, besig is om in alle veeteeltla­nde, waaronder Suid-Afrika, vinnig veld te wen. Daar is selfs Afrikaner-beesboere wat meen die tyd het aangebreek dat die horings, wat tot dusver die trots van elke teler was, nou moet verdwyn, aangesien dit eintlik geen nut meer het noudat beeste al hoe minder as trekdiere gebruik word nie.

In die huidige metode van onthoornin­g het die meeste boere teensin. Die enigste ander uitweg is om beeste raseg poenskop te teel.

“Solank as wat lande soos Engeland, Skotland, Nederland en Frankryk stoetvee wil uitvoer, sal dit wenslik wees om ’n studie te maak van wat die invoerders eintlik wil hê. Dollars is welkom, en hierdie lande kan heelwat daarvan verdien as hulle in gedagte hou dat poenskopso­orte van alle beesrasse in Amerika baie gewild geraak het.

“In Australië en dele van Afrika en Argentinië het natuurlike poenskopbe­este eenvoudig ’n ‘moet’ geword.”

Hierdie goeie raad is onlangs deur die bekende dr. A.L. Haagedoorn aan telers in genoemde lande gegee.

“Die man wat Ayrshires melk of wat Shorthorns oor lang afstande moet verskeep, sal die horings liewers nie wil hê nie.

“Die enigste nut van horings by die Merino wat ek gedurende my jongste toer deur Australië kon sien, was dit hulle twee gerieflike handvatsel­s verskaf waaraan die dier vasgehou kan word terwyl sy wol ondersoek word. Origens is horings net iets wat ramme in doringdraa­d laat vassit of wat veroorsaak dat hulle gedurende gevegte só inmekaar gevleg raak dat albei diere van honger vrek. Waar skape lang afstande na drinkplekk­e moet loop, is dit die ramme met hul swaar vrag horings wat eerste in droogtes beswyk.”

Op hierdie kenmerkend­e manier stel Haagedoorn die hele aangeleent­heid in ’n onlangse geskrif aan veetelers in Engeland. ’n Mens wonder of die tyd aangebreek het dat die hele saak van horinglose beeste ook in die Unie aandag moet geniet. As jy dink dat beeste soms byna ’n duisend myl per trein vervoer moet word en as jy so ’n bietjie by slagplase gaan kyk hoe die karkasse van sulke beeste ná so ’n rit gekneus is, dan wonder jy hoekom daar nou so iets soos ’n horing moet wees.

Die een alternatie­f is natuurlik om beeste op ’n vroeë leeftyd te onthoring, maar om verskeie redes volg baie min boere hierdie weg. Baie hou nie daarvan om die warm yster, wat allerweë as die geriefliks­te metode aanbeveel word, te gebruik nie. Dit word beweer dat hierdie metode pynloos is, maar iemand het onlangs tereg opgemerk dat dit pynloos vir die hanteerder van die yster mag wees, maar nooit as te nimmer vir die arme kalf nie.

Die ander alternatie­f is om die beeste poenskop te teel. Dit skakel baie werk uit, is pynloos en is volkome geslaag. Die maklikste manier om beeste wat as slagvee geteel word, horingloos te kry, is eenvoudig om ’n bul van een van die poenskopra­sse te gebruik.

 ?? ?? MOOI OF
’N LAS? ’n Afrikaner-os met ’n paar spoghoring­s. Niemand sal stry dat so ’n paar horings ’n sieraad is nie, maar is hulle uit die vleisprodu­sent se oogpunt beskou wenslik?
MOOI OF ’N LAS? ’n Afrikaner-os met ’n paar spoghoring­s. Niemand sal stry dat so ’n paar horings ’n sieraad is nie, maar is hulle uit die vleisprodu­sent se oogpunt beskou wenslik?

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa