SPRINGBOKVLAKTE SE TURF KAN GROOT WINSTE BRING
TERWYL saaiboere in die meeste van Suid-Afrika se produksiegebiede die gordel ál stywer trek om die impak van peperduur kunsmis saam met hoë brandstof-, arbeids- en ander insetkoste te oorleef, sien boere op Limpopo se Springbokvlakte uit na ’n baie goeie produksieseisoen.
Normaalweg is boerdery op dié vlakte nie maklik nie, sê mnr. Willem Groothof, Graan SA se hoofbestuurslid vir Limpopo.
Groothof boer self naby Settlers op dié plat strook aarde wat vanaf die Pienaarsrivier vir 130 km in ’n noordoostelike rigting strek en geken word aan warm somers en droë winters. Hy sê met ’n gemiddelde reënval van omtrent 600 mm per jaar moet boere in dié gebied konserwatief bly in hul aanplantingsbesluite en twee keer dink voor hulle goeie oesjare se winste bestee.
TURFGROND
Dit is egter die vrugbare swart turfgrond van die Springbokvlakte wat boere se somme vanjaar kan help klop. “In ’n jaar soos hierdie wanneer kunsmispryse saam met ander insette net te hoog is, kan vlakteboere wegkom sonder om te bemes danksy die vrugbaarheid van ons turfgrond.”
Die keuse om minder of glad nie te bemes nie, behoort eerder die uitsondering as die reël te wees. “Ons moenie ons grond myn nie. Ek weet daar is boere op die vlakte wat jare lank plant sonder om te bemes en op sulke plase neem opbrengste al ’n lang tyd af.
“Dit is egter die boere wat na hul grond omsien en elke jaar die voedingstowwe en minerale terugsit wat hul plante gebruik, wat met gemak steeds ’n goeie oes kan kry sonder om in ’n moeilike jaar soos vanjaar te bemes.”
Die goeie reën wat in April op die vlakte uitgesak het, het ook gesorg dat die grondprofiel vol water is en die swaar klei is bekend om sy vermoë om vog te hou. Groothof sê met minimale opvolgreën vroeg in die somer kan boere met vrymoedigheid in November begin plant.
“Dinge lyk regtig belowend vir die volgende seisoen. Ons het die afgelope reënseisoen al 800 mm reën gehad.”
OLIESADE
Met die goeie pryse wat boere tans vir sonneblomsaad en soja verdien, is daar ’n groot swaai na dié gewasse, sê Groothof. Op die vlakte kraai sonneblom egter koning danksy dié gewas se lae insetkoste teenoor sy inkomstepotensiaal. Sonneblom is boonop goed aangepas om in die vlakte se grond en klimaatsomstandighede te groei met aansienlik minder risiko’s as byvoorbeeld manna, wat geneig is om onder vinke deur te loop. Mielies se insetkoste is vir baie vlakteboere te hoog teenoor die verdienste daaruit.
KLEIN IMPAK
Hy sê hoewel die Springbokvlakte Limpopo se grootste graanproduksiegebied is, is dit te klein om ’n strategiese rol in Suid-Afrika se graanreserwes te speel. Boere op die vlakte se vermoë om vanjaar met min of geen kunsmis oor die weg te kom, kan dus nie ’n noemenswaardige impak op die nasionale mielie-oes hê nie.
Hy raai boere aan om aan te hou plant wat hulle beoog het. Daar word jaarliks gemiddeld 110 000 ha sonneblom en 18 000 ha sorghum op die Springbokvlakte geplant, asook ’n taamlike hoeveelheid katoen, sojabone, grondbone en ’n bietjie mielies. Sitrus en kontantgewasse word ook onder besproeiing verbou.