G’N OMDRAAIKANS MEER VIR DIÉ MARKTE
’N SPANPOGING gaan nodig wees om Suid-Afrika se 23 varsproduktemarkte te red. Dié markte is van deurslaggewende belang vir die landboubedryf en daar moet op alle moontlike vlakke saamgewerk word om hul toekoms te verseker.
Dít is die slotsom waartoe sprekers gekom het op ’n paneelgesprek van Aartappels SA in Pretoria oor die belangrikheid en toestande by varsproduktemarkte.
Mnr. Willie Jacobs, uitvoerende hoof van Aartappels SA, het gesê daar is algemene onkunde oor die belangrikheid van die markte. Die mikpunte met die gesprek was om die belangrikheid te beklemtoon, die werklikhede by markte uit te lig en na gemeenskaplike oplossings te soek.
Dr. Johan van Deventer, ’n kenner van markte en afgetrede besturende direkteur van Freshmark, het gesê die informele markte vorm vandag 60% van die omset van varsproduktemarkte. Hierdie handelaars, wat hul produkte langs die pad verkoop, kan nie sonder die markte bestaan nie.
FORMELE HANDEL
Formele handel het begin wegbeweeg van dié markte. Van Deventer het Freshmark as ’n voorbeeld voorgehou wat net 3% van sy produkte op markte koop en 97% direk by verskaffers.
“Daar moet vasgestel word hoekom hulle wegbeweeg het en wat gedoen kan word om van hulle terug te lok. Almal dink dit is die kettingwinkels wat teen die markte werk, maar dit is nie altyd die geval nie.
“Wat uie betref, koop kettingwinkels minder as 20% van die uie en die res gaan na die varsproduktemarkte toe. Ek is seker dit is ook die geval met aartappels. ’n Gevoelige produk soos sampioene sal dalk andersom werk.”
Dr. Marlene Louw, senior ekonoom by Absa, het gesê ’n groot probleem is die gebrek aan omvattende data oor die varsproduktemarkte, hul gesamentlike omset en die totale produksie in die varsproduktebedryf. Daar sal in ’n groter mate saamgewerk moet word om data uit te ruil tot almal se voordeel.
HOOP VIR JOHANNESBURG
Wat die onderskeie markte betref, was daar goeie en slegte nuus. Die Johannesburgse varsproduktemark het in Februarie ’n nuwe raad gekry en dit wil voorkom of daar ernstige pogings is om die mark reg te ruk.
Mnr. Thokozani Thwala, raadsvoorsitter, het gesê daar is daagliks gemiddeld 13 000 handelaars wat transaksies doen en hulle wil met almal in die bedryf saamwerk.
’n Groot probleem is beurtkrag, en die raad gaan nou R25 miljoen aan twee kragopwekkers bestee. Die mikpunt is om, saam met City Power, die mark binne drie jaar onafhanklik van die nasionale netwerk te maak.
Volgens Van Deventer is daar nie ’n tekort aan geld nie. “Die bruto inkomste van die mark is R430 miljoen per jaar. As dit reg bestuur word, is daar genoeg geld vir onderhoud, skoonmaakdienste, ensovoorts.”
Thwala het bevestig gesprekke word met die stadsraad gevoer om vir die volgende drie jaar al die winste van die mark aan ontwikkeling te bestee.
Vir hierdie jaar is R150 miljoen beskikbaar om in die mark te belê, en daar is ’n verdere R350 miljoen in die bank. Die mark se omset is R8,6 miljard per jaar.
TSHWANENAGMERRIE
Me. Theresa Fredericks, visepresident van die instituut vir markagente (Imasa) wat self ’n agent in Tshwane en Johannesburg is, sê in teenstelling hiermee gaan die Tshwane-mark se volle inkomste na die stadsraad. Hulle is gelukkig as hulle 5% daarvan kry om in die mark te herbelê. ’n Regsproses is tans aan die gang met die stadsraad hieroor.
“Verlede jaar het ons R10 miljoen gekry en nou R18 miljoen. Ons omset is net onder 50% van die Johannesburg-mark, dus is hierdie bedrag ’n druppel aan die emmer.”
Volgens Fredericks is daar ook ernstige bestuursprobleme. “As 50% van die personeel die dag by die werk is, is dit wonderlik. Daar is ook geen samewerking van die bestuur se kant nie en diensverskaffers doen nie hul werk nie.
“Daar is ’n kragopwekker wat al sowat agt jaar nie meer werk nie, maar steeds word gereeld betaal vir onderhoudswerk daaraan.
“Daar word R250 000 per maand vir skoonmaakdienste betaal, maar die hele mark is smerig vuil. Daar is ook 13 lokale wat al twee jaar net gesluit is sonder dat dit enigsins skoongemaak word, bloot omdat daar nie in 2020 skoonmaakdienste daarvoor aangestel is nie.”
Mnr. Francois Knowles, registrateur van die landbouprodukte-agenteraad (Apac), het gesê daar is nie meer ’n omdraaikans met markte nie. Dit moet herstel word. Dit moet in die kollig wees, want dit is waar pryse bepaal word.
“Ons moet die werklike kwessies erken, soos gebrekkige sekuriteit, swak onderhoud, soos paaie met slaggate wat net geïgnoreer word, en markte wat vuil is. Hierdie basiese tekortkominge moet reggestel word.”
NICO VAN BURICK