POLITICI KAN NIE SKULD VIR RAMPE NÉT OP KLIMAATSVERANDERING PAK
WETENSKAPLIKES kan deesdae bepaal tot watter mate klimaatsverandering uiterste weergebeurtenisse vererger of waarskynliker maak. Dit beteken egter nie dat politici klimaatsverandering vir alles kan blameer en niks doen om ’n land veerkragtiger te maak nie.
So sê dr. Friederike Otto, senior dosent aan die Grantham-instituut by die Imperial College in Londen en medeleier van World Weather Attribution (WWA). Dié organisasie ondersoek die invloed van klimaatsverandering op uiterste weergebeure.
Klimaatsverandering is “die wêreld se grootste krisis”, sê Otto op knowablemagazine. org. “Dit is belangrik om mense bewus te maak van die gevare daarvan, hoe dit vloede, droogtes, orkane en veldbrande vererger, en dat die mensdom alles in sy vermoë moet doen om kweekhuisgasvrystellings te verminder.”
Sy meen dit kan vir politici aanloklik wees om klimaatsverandering vir alle rampe te blameer, en hulself sodoende van verantwoordelikheid te onthef.
“Ons kan nie net na die groot vrystellers van kweekhuisgasse vir oplossings kyk nie. Daar is ’n plaaslike verantwoordelikheid vir goeie regering, infrastruktuur en waarskuwingstelsels wat werk.”
Klimaatsverwante rampe word intens beïnvloed deur plaaslike beleid oor hoe landbouproduksie plaasvind en natuurlike landskappe beskerm word. “Langdurige probleme met maatskaplike dienste, opvoeding en goeie regering kan nie geïgnoreer word nie.”
Sedert sy stigting in 2014 het die WWA reeds verskeie voorvalle van skielike koue, droogtes, uiterste reëngebeure, hittegolwe en storms wêreldwyd ondersoek.
“Meestal het klimaatsverandering ’n noemenswaardige rol gespeel om dié gebeure waarskynliker en erger te maak.”
Die hittekoepels oor die weste van Amerika verlede somer en in Siberië in 2020 is daardeur aangedryf.
“As politici die wetenskap in die gevalle kan uitwys en klimaatsverandering ’n moordenaar noem, kan dit hulle tog help om beleid deur te voer wat kweekhuisgasvrystellings sal beperk.”
Otto is bevrees dat geld wat ryk lande aan arm lande beloof om by klimaatsverandering aan te pas, meestal verkeerd bestee gaan word.
“Ontwikkelingsbanke is geneig om groot infrastruktuurprojekte soos damme te finansier, pleks van langtermynprogramme wat regeervermoë en opleiding verbeter, armoede verminder en korrupsie beveg.
“Die meeste mense dink aan tegnologie as hulle aan aanpassing dink. Navorsing toon egter dat goeie regeervermoë eintlik ’n land se veerkragtigheid in rampe bepaal.
“Beter infrastruktuur is dikwels nodig, maar dit sal nie behoorlik werk in samelewings met swak regulasies en opvoeding nie.”