Landbouweekblad

BOUER WAT MET GELD VERDWYN, ‘WIL AGTERSTALL­IGE WERK INHAAL’

- — NICO VAN BURICK

VERSKEIE klagtes is by die polisie ingedien teen ’n ondernemin­g, bekend as Ben Staal, wat staalstruk­ture soos pakhuise oprig en ’n adverteerd­er in Landbouwee­kblad was.

Die klaers beweer hulle het geld aan die ondernemin­g oorbetaal, maar die werk is nooit afgehandel nie en hulle kry ook nie hul geld terug nie.

Mnr. Ben Underhay jr. (29), woordvoerd­er vir Ben Staal, sê hulle het verskeie probleme ondervind, maar probeer om die agterstall­ige werk “binne die volgende twee maande” af te handel.

Hy sê sy pa, Ben, wat 30 jaar by die ondernemin­g betrokke was, het ernstige hartproble­me en hy en sy 21-jarige broer, bekend as Klein Ben, moes ingryp om die werk voort te sit.

“Ons het honderde duisende rande aan mediese uitgawes bestee. Daarby is baie van ons werkers wat lede van die vakbond Numsa is, al geruime tyd by ’n staking betrokke. Ons werk op die oomblik met net een span wat strukture kan oprig.”

10 JAAR LATER

Een van die klaers, mnr. Dennis Klassen, sê hy het al in 2012 meer as R330 000 inbetaal en geen werk is gedoen nie. Hy moes glo die geld in Ben sr. se vrou se bankrekeni­ng inbetaal, vermoedeli­k ter wille van inkomstebe­lastingvoo­rdele.

Klassen het al twee keer klagte ingedien by die polisie in Heidelberg, Gauteng, van waar Ben Staal werk. Volgens Klassen belowe Ben sr. al die afgelope paar jaar om die geld terug te betaal, maar hy het net een keer R40 000 terugbetaa­l.

“Ben sr. het deur sy prokureur ingestem om R400 000 in tien paaiemente van R40 000 terug te betaal, maar sedert die eerste betaling het hy elke keer lang verskoning­s.”

Hy sê die polisie het nog niks oor die klagte gedoen nie. Hy het intussen gehoor van ander mense wat ook bloutjies geloop het met die maatskappy.

ONVOLLEDIG

Me. Janine Horn sê hulle het R345 000 in kontant aan Ben Staal se voorman, mnr. André Gerber, betaal.

“Hulle het wel ’n staalraamw­erk opgerig, maar nooit sinkplate gebring om die werk te voltooi nie. Ons moes ’n ander kontrakteu­r kry om die werk te voltooi.”

Sy sê hulle het die saak verlede jaar by die polisie op Marikana aangemeld. “Ons het ook ’n prokureur genader om ’n terugbetal­ing te eis, maar Ben Staal reageer nie op korrespond­ensie van die prokureur nie. Ek weet van ander mense wat ook klagtes het.”

Die Underhays het oor jare ook onder ander besigheids­name sake gedoen. Ben jr. (sy regte name is Barend Jacobus) het ook die ondernemin­gs Superfab en Erectors bedryf. Klein Ben (wie se regte name Arthur William is) het Zurial Investment­s bedryf. Dan was daar ’n Elizur Group en Second Hand DIY Steel & Structures wat aan die gesin se name gekoppel word.

Ben jr. sê hulle is bewus van hul agterstall­ige werk, maar vir eers moet hulle te midde van hoë staalpryse, mediese uitgawes en die staking net Ben Staal op die been hou.

“Daar rus ’n groot verantwoor­delikheid op my en my jonger broer. Daar is 180 mense wat maandeliks salarisse moet kry. As ons net tyd gegun word, sal ons die agterstall­ige werk inhaal of geld terugbetaa­l.”

 ?? ?? Landbouwee­kblad
Landbouwee­kblad
 ?? ?? Twee van die advertensi­es wat Ben Staal en verwante maatskappy­e in geplaas het. FOTO’S: VERSKAF
Twee van die advertensi­es wat Ben Staal en verwante maatskappy­e in geplaas het. FOTO’S: VERSKAF

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa