HARD OF SAG?
Dit is wêrelde vanmekaar. Wat op Suid-Afrikaanse plase en in ons boere se kop aangaan, en waarmee Europese boere hulle ophou.
Begin maar met die natuurlike omgewing. Europa bly betreklik sagte wêreld. Groen, getem en prentjiemooi. Brittanje, Skotland en Ierland waardeur ons as gesin onlangs gereis het, is ’n landskap deurkruis met eeue oue klipmure, plantverstrengelde heinings, en skape en beeste wat rustig en vergenoegd op hoëgehalteweiding hul dae deurbring in die skadu van die laaste stukkies lowergroen woud wat eens op ’n tyd die eilande bedek het.
As ’n mens so na dié wêreld kyk, kan jy verstaan hoekom Brittanje op ’n kol as die wêreld se stoetplaas bekend gestaan het. Tot vandag toe is veral Britse beesrasse, soos die Angus, van die grootste en talrykste ter wêreld, terwyl alles van Jack Russell-hondjies tot Leghorn-hoenders nog ’n plek op talle Suid-Afrikaanse plase het.
Kyk jy egter ’n bietjie nader na die Europese landbou, is daar ook ’n sagtheid te bespeur wat geen lêplek op klipharde Suid-Afrikaanse plase sal kry nie.
In Irish Farmers Journal is die resultate van die nasionale landbou-opname gepubliseer. As lid van die Europese Unie (EU) trek Ierland groot voordeel uit die ruim subsidies wat opsy gesit word vir die landbou. Maar ondanks al die geld wat in die landbou gestort word, is die resultate van die opname meer as net ietwat onrusbarend.
Die gemiddelde plaasinkomste van Ierland se 85 000 plase is in die omgewing van €34 367 (R585 270) — ’n volle 20%-verbetering teenoor 2020.
Melkplase bly die winsgewendste boerderytipe, met ’n gemiddelde plaasinkomste van €97 350 (R1 657 871). Kuddes is gemiddeld 91 koeie groot, en die gemiddelde melkprys staan op R6,80 per liter. Sowat vier uit tien melkplase (39%) het dit reggekry om meer as €100 000 (R1 703 000) te verdien, terwyl 13% tevrede moes wees met minder as €30 000 (R510 900).
Speenkalfprodusente trek aan die heel kortste ent van die Ierse landbou, en ondanks groei van byna 30% in die bedryf se inkomste, kon die gemiddelde speenkalfprodusent maar net €10 927 (R186 087) in die bank kry.
Geen wonder dan nie dat byna 40% van alle speenkalfprodusente elders werk moet gaan soek om hul inkomste aan te vul, en dat regstreekse subsidies van die EU ’n verstommende 138% beloop het teenoor die plaasinkomste.
Inkomste op Ierse saaiplase het met ’n ongekende 77% op ’n jaargrondslag gegroei, met die gemiddelde saaiplaas wat €58 995 (R1 004 684) kon inbring. Net 16% van saaiboere kon meer as €100 000 (R1 703 000) verdien.
Regstreekse subsidies het 47% van saaiboere se inkomste uitgemaak.
Terug in Suid-Afrika is dit byna asof die staat se bydra tot die landbou in lynregte teenstelling met dié van die EU is. Pleks van boere bystaan, voel dit soms of daar aktief gewerk word om boere se winsmarges weg te kalwe. Van fase 6-beurtkrag tot swak paaie en ’n onvermoë om alles van entstofproduksie tot bek-en-klouseeruitbrekings te bestuur, is die staat ongelukkig gereeld meer van ’n las as ’n bate.
Maar ondanks dié struikelblokke, en miskien partykeer juis te danke daaraan, kry Suid-Afrika se boere dit steeds reg om die land en streek te voed.
Wat jou onwillekeurig laat wonder waar die goue middeweg vir ’n vooruitstrewende landbou lê, en of die Europeërs hul boere nie eintlik ’n groot onguns bewys deur hulle so ruim te ondersteun nie.