Landbouweekblad

Net verbeterin­g in die toekoms van die rooi bees

-

Teen die agtergrond van onlangse uitskieter­pryse wat vir bulle op veilings betaal is, die uitbreking van bek-en-klouseer in nuwe streke en die herbouing van kuddes het Landbouwee­kblad by mnr. Louis Steyl gaan aanklop om te hoor wat die stand van die bedryf is.

As jy op Nampo in die beessaal rondloop, kan jy mnr. Louis Steyl ’n myl ver uitken omdat hy letterlik kop en skouers bo ander mense uitstaan. Hy het sy liefde vir diere, en spesifiek Bonsmaras, by sy ouers geleer en boer self net so ’n paar kilometer buite Bloemfonte­in met sy eie kudde.

WAAR PAS JY IN DIE HIËRARGIE VAN DIE BONSMARA-BEESTELERS­GENOOTSKAP?

Ek is die uitvoerend­e hoof van die genootskap. Dan het ons ’n raad wat uit die telers bestaan. Mnr. Nick Serfontein is die voorsitter van die raad.

HET JY VAN KLEINS AF ’N LIEFDE VIR BEESTE GEHAD, OF WAAR HET JOU BELANGSTEL­LING BEGIN?

Ek het op ’n plaas grootgewor­d en is dus van kleins af aan diere blootgeste­l. Die plaas was maar altyd ’n beesboerde­ry toe ek grootgewor­d het. My liefde vir diere kom dus letterlik van geboorte af en ek het nog nooit daarvan afgewyk nie. Ek het dit gaan bestudeer en daarna dadelik met diere begin werk. Ja, ek is dus al my hele lewe lank by beeste betrokke.

MET WATTER BEESRAS HET JOU OUERS GEBOER?

Met Bonsmaras. My oupa het jare terug nog ’n melkery gehad, maar dit is baie afgeskaal teen die tyd dat ek verstand gekry het. Ek onthou maar nog altyd net die Bonsmaras.

WAT HET JY NÁ SKOOL GESTUDEER?

Ek het landbou en veekunde aan Kovsies studeer en toe my honneursgr­aad ook behaal, waartydens ek ’n bietjie meer na die wildlewe gekyk het – wild en weiding.

WAT HET JY GEDOEN VOORDAT JY BY DIE BONSMARA-BEESTELERS­GENOOTSKAP BEGIN HET?

Toe ek klaar studeer het, het ek vir ’n paar jaar in Botswana gaan werk. Ek het eers op ’n ontwikkele­nde wildplaas

gewerk en toe op ’n gevestigde wild-en-beesplaas met ’n private abattoir. Daar het ek ook vir ’n paar jaar geboer en op 1 Januarie 2014 het ek by die Bonsmara-genootskap begin.

DAAR IS ONLANGS OP VEILINGS BAIE HOË PRYSE VIR BULLE BEHAAL. HOE VERGELYK DIT MET PRYSE VIR BULLE IN DIE VERLEDE EN WAAROM IS DIT NOU SÓ HOOG?

Daar was nou toevallig een week waarin bulle op twee verskillen­de veilings hoë pryse behaal het. Op die Poggenpoel­s se veiling op Stella is ’n bul vir R2,1 miljoen en nog een vir R1,3 miljoen verkoop, en op Sernick se veiling op Edenville is ’n bul vir R1,8 miljoen verkoop.

Die eerste ding wat ’n mens moet onthou as jy gaan kyk na die Bonsmaras se verspreidi­ng van veilings, is dat ons in 2021 104 produksiev­eilings gehad het. Net nege van daardie produksiev­eilings het ’n gemiddelde prys van R90 000 en hoër opgelewer.

Dit is dus beslis nie op elke veiling dat die diere só duur is nie. Dit is spesifieke teelmateri­aal wat die boere soek. Dit beteken nie die gemiddelde prys vir bulle is nou hoër nie.

Ons moet ook gaan kyk na die individuel­e diere. Die diere wat teen sulke hoë pryse verkoop word, is diere waarvan boere spesifiek teelmateri­aal wil hê. Daardie genetiese eienskappe kom nie net van een bees af nie. Dit gaan oor die ma, die pa, die ouma en die oupa aan albei kante, ens. Dit is dus ’n hele genetiese lyn wat die boer wil koop en hy is bereid om daarvoor te betaal.

Ons weet mos nou ons is in die vleisbeesb­edryf, en enige dier se waarde is eintlik maar die slagprys. Boere weet

watter genetiese vordering sy kudde sal maak deur so ’n bul te koop.

Ons dink altyd aan die bulle, maar vergeet dat ’n boer eintlik die bul wil gebruik om beter koeie en verse te teel. En ’n vers behou jy weer in jou kudde en sodoende versprei daardie nageslag in jou kudde. Dit het dus ’n baie groter impak as net ’n paar bulle wat jy weer op ’n produksiev­eiling kan gaan verkoop.

In die afgelope jare het die gemiddelde prys van Bonsmara-bulle gestyg, maar ons kan onsself nie meet aan uitskietve­ilings nie. ’n Bonsmara-bul is in 2021 vir gemiddeld R73 000 verkoop oor altesaam 2 760 bulle wat verkoop is. Dinge lyk vanjaar dieselfde. Daar is ’n hoë vraag na Bonsmara-teelmateri­aal, en dan is daar spesifieke bulle wat ál die boksies tiek. Stoetboere is bereid om hul hande ’n bietjie dieper in hul sak te steek vir daardie bulle.

WATTER KWESSIES SPEEL TANS ’N ROL VIR BOERE WAT BETREF DIE HERBOU VAN KUDDES?

Ná ’n droogte, soos wat ons van 2014-’15 af beleef het, word die mark vir vroulike diere baie gestimulee­r. In die beesboerde­ry-omgewings is die droogte darem in die seisoen van 2019 al gebreek. Dit is waarom ons ’n taamlike opwaartse kurwe sien in die vraag na vroulike diere by kommersiël­e boere.

Daar is baie boere wat nou in ’n stelselmat­ige kuddeboupr­oses is omdat hulle hul getalle soveel minder moes maak tydens die droogte om net te kon oorleef. Tydens die droogte het baie boere ook besluit om nie vervanging­sverse terug te hou nie. Nou het die boere nie daardie verse wat al twee tot drie jaar oud is en wat nou teelkoeie moet begin word nie.

Dus moet hulle daardie diere gaan aankoop.

Daar is natuurlik ook streeksfak­tore wat ’n invloed het. Ons sien veral in die Bosveld in Limpopo dat die boere is besig om van wildboerde­ry terug te draai na beesboerde­ry of ten minste na ’n gemengde boerdery waar hulle wild én beeste het. Daardie boere koop weer beeste aan omdat die wildpryse wat só gedaal het, hulle dwing om te diversifis­eer.

Dit is maar die grootste dryfvere en die rede waarom kommersiël­e koeie nogal hoog in aanvraag is.

Dan moet ons ook onthou dit kom basies op ’n knyptangef­fek neer, want daar is baie boere wat wil kudde bou, asook boere wat voor die droogte die hoofverkop­ers van vroulike diere was. Hulle moes ook maar planne maak in die droogte. Dus het hulle nie meer so baie vroulike diere om te verkoop soos hulle altyd gehad het nie. Die hoeveelhei­d vroulike diere is dus eintlik ’n bietjie laag, terwyl die vraag daarna baie hoog is. Jy sien dit duidelik in die hoër pryse van dié diere.

Die goeie speenkalfp­ryse van die afgelope twee jaar het ook die vraag gestimulee­r. Die pryse het in die algemeen goed gebly. Vyf jaar gelede was die speenkalfp­rys hier rondom R17-R20 per kilogram. Nou sit ons met ’n speenkalfp­rys wat, na gelang van die tyd van die jaar, van R38-R42 per kilogram wissel.

Die vraag na beeste op die speenkalfm­ark, dus by voerkrale en abattoirs, is hoog en die getalle wat ons moet opbou, is nog nie waar dit moet wees nie. Die nasionale kudde het tydens die droogte verklein en beeste is mos nou nie iets wat binne drie maande geteel word nie – jy kry maar een kalf per jaar.

Die impak van ’n droogte van ses tot sewe jaar kos ’n paar seisoene om reg te stel. Die herbou van kuddes het daarom nou ’n groot invloed op die vraag na diere en die prys wat vir diere behaal word.

Ons dink altyd aan die bulle, maar vergeet dat ’n boer eintlik die bul wil gebruik om beter koeie en verse te teel.

IS DAAR NOG POTENSIAAL IN DIE VLEISBEESB­EDRYF IN SUID-AFRIKA WAT ONTGIN KAN WORD?

’n Groot ontluikend­e mark wat ons nog het, wat ongelukkig weens Suid-Afrika se swak bestuur van siektes, soos beken-klouseer, nie floreer nie, is die uitvoermar­k. Daar is ongeloofli­k groot geleenthed­e, maar ons moet ook onthou

ons kan eintlik nog net genoeg voorsien vir ons plaaslike mark, veral in die rooivleisb­edryf. Die hoeveelhei­d wat uitgevoer word, is maar nog bitter min. Maar namate die wêreldbevo­lking groei, sal daar altyd plek wees vir vleisbeest­e. Dit is waarom ons altyd kyk na verbeterde karkasse, speenkalwe­rs, doeltreffe­nder beeste wat voeromsett­ing betref, ens.

Ons gaan al hoe meer moet produseer met minder hulpbronne. Ons moet ons diere hiervoor kan aanpas, sodat ons saam met daardie neigings kan beweeg.

WAT IS DIE IMPAK VAN DIE HUIDIGE UITBREKING VAN BEK-EN-KLOUSEER OP DIE MARK?

’n Kommersiël­e boer of stoetteler is afhanklik van sy beeste. As die siekte op sy plaas uitbreek, word die plaas en ál sy aktiwiteit­e stopgesit en toegemaak. Hy kan nie speenkalwe­rs skuif nie, want hulle moet op die plaas bly. Daardie diere hou dus aan vreet, maar die boer kry nie sy tjek uit die diere uit nie, want hy kan nie sy produk verkoop nie. Met ander woorde, as die plaas gesluit word, sluit jy ook die boer se kontantvlo­ei.

Die staat sal baie beter, deurdagte planne moet uitdink en instel om gebiede soos KwaZulu-Natal, waar bek-en-klouseer tans nie onder beheer is nie, beter te bestuur. Die regulering daarvan is in hierdie stadium ’n probleem. Dit word tans aan die private sektor oorgelaat om iets te doen om hierdie probleem te probeer stopsit.

Dit is ’n probleem wat oral voorkom, waaronder in Argentinië, Brasilië en in ons buurlande. Dit is nie net in Suid-Afrika nie. Dit gaan oor hoe die regering en die private sektor hande kan vat om dit behoorlik te bestuur. Anders gaan dit altyd ’n probleem bly.

Geld praat tans harder as biosekerhe­id. Daarom is daar boere wat bereid is om ’n kans te waag om diere te koop wanneer hulle nie seker is uit watter gebied die diere kom nie omdat hulle dalk ’n bietjie goedkoper is.

DIE BONSMARA IS GEWILD, VERAL ONDER OPKOMENDE BOERE. WAT IS DIE GENOOTSKAP SE PLAN OM DIE RAS IN DIE TOEKOMS NOG VERDER TE BEVORDER?

Die grootste ding waaraan ons voortduren­d werk, is om relevant in die bedryf te bly. Ons het die grootste kommersiël­e grondslag en is die grootste ras wat geregistre­erde diere in Suid-Afrika betref.

Jy moet altyd op die uitkyk bly vir nuwe markte en, soos jy tereg noem, die mark onder opkomende en ontwikkele­nde boere is baie groot. Hierdie boere werk hard daaraan om beter bestuur toe te pas om verbeterin­g by hul diere te sien. Ons wil daardie mark kan bedien.

Dit is waarom ons juis in die proses is om nog ’n rasadviseu­r aan te stel om te konsentree­r op die ontwikkele­nde mark, asook nuwe toetreders. Die belangriks­te is die gehalte van die produk wat ons lewer. Die Bonsmara het ’n verpligte prestasiet­oetsstelse­l en dit is daardie stelsel wat sorg dat ons beeste al vir baie lank aanpasbaar en funksionee­l doeltreffe­nd is.

Daarmee saam moet ons by die tye bybly. Die tipe bees waarvoor ons nou selekteer, is nie die bees wat 30 jaar terug die gunsteling­bees was nie. En dit alles word maar deur die mark bepaal. In Suid-Afrika moet ons sorg dat ons altyd ’n bees kan lewer wat die voerkraal wil hê. Die oomblik dat die voerkraal nie meer ons beeste wil hê nie, het ons nie meer ’n mark nie.

Daarom wil kommersiël­e telers voortduren­d verbeterin­g sien. Tans wil hulle swaarder speenkalwe­rs en groter vrugbaarhe­id onder koeie hê.

Ons moet daardie seleksie voortduren­d volhou, maar ons besef ook daar is ’n perk by beeste. Jy gaan nie by ’n 400 kg-speenkalf uitkom nie. Daardie perk is ’n fyn balans wat ons moet handhaaf tussen ’n koei wat elke jaar kan kalf en steeds vir jou ’n sterk speenkalf kan gee wat in die voerkraal kan groei.

Dit is waarom ons hoofdoelwi­t by die Bonsmara is om aanpasbare en funksionee­l doeltreffe­nde diere te teel. Dit is waarvoor ons stoetteler­s selekteer en dit is wat hulle vir die kommersiël­e teler op die mark beskikbaar wil maak.

 ?? ?? ROOI GOUD. Bonsmara-bulle het einde Junie baie goeie pryse op veilings behaal omdat boere gewillig is om vir spesifieke teelmateri­aal te betaal.
ROOI GOUD. Bonsmara-bulle het einde Junie baie goeie pryse op veilings behaal omdat boere gewillig is om vir spesifieke teelmateri­aal te betaal.
 ?? LBW-ARGIEF ?? Mnr. Louis Steyl, uitvoerend­e hoof van die Bonsmarabe­estelersge­nootskap. FOTO’S:
LBW-ARGIEF Mnr. Louis Steyl, uitvoerend­e hoof van die Bonsmarabe­estelersge­nootskap. FOTO’S:
 ?? ?? Die groot rede waarom boere bulle met uitstekend­e genetiese eienskappe aankoop, is om uiteindeli­k ’n goeie nageslag van vroulike diere aan te teel.
Die groot rede waarom boere bulle met uitstekend­e genetiese eienskappe aankoop, is om uiteindeli­k ’n goeie nageslag van vroulike diere aan te teel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa