LANDBOU KORT NUWE PLANNE OM ESKOM-KRISIS TE OMSEIL
“DIE DING MET ESKOM . . . dis ’n hele deurmekaarspul.”
Vir ’n oomblik hoor jy die kwaad in mnr. Hannes de Waal se stem.
“Maar wat kan ’n mens daaraan doen?”
As uitvoerende hoof van die Sondagriviersitrusmaatskappy en voorsitter van die Suider-Afrikaanse Sitruswerkersvereniging sien De Waal die verwoestende impak wat die huidige vlaag beurtkrag – die ergste in Suid-Afrika se geskiedenis – op sy bedryf het.
Geen aspek van die landbou spring die verwoesting vry nie: Melkboerderye moet op kragopwekkers staatmaak, abattoirs kan nie hul vleis dadelik verkoel en teen die regte temperatuur hou nie, graanlewerings loop nie volgens skedule nie en veesuipings word onderbreek.
Daarby is plaasveiligheid in die gedrang omdat die meeste selfoontorings nie tydens beurtkrag werk nie, wat alarms en kamerastelsels raak.
BRANDSTOFPRYS
De Waal sê dat sommige sitrusstreke tot agt uur per dag sonder krag is. In die spitstyd van die oes- en uitvoerseisoen kan boere nie hul vrugte in koelkamers verkoel nie. Uitvoervrugte wat na hawens geneem word, vrot, want ook die kragtoevoer van die hawens se koelkamers word afgesny.
Boonop is diesel tans R10,31 per liter duurder as ’n jaar gelede, en is kragopwekkers dus nie ’n volhoubare opsie nie.
“Ons gebruik groot masjinerie in ons produksielyne.
Die koste om kragopwekkers te gebruik en die masjinerie in stand te hou, is groot.
“Boere verbeur ook hul waterkwotas vir besproeiingstyd wanneer die krag af is. As dit in die voorseisoen voortduur, gaan hulle baie swaarkry.”
De Waal vrees talle boerderye sal nie kan herstel van die reuse- finansiële verliese wat hulle tans ly nie.
“Die vrugtebedryf het kundige ingenieurs wat na alternatiewe oplossings soek. Ons moet ’n stelsel kry wat so doeltreffend moontlik met so min moontlik werk.”
Hy sê nie alle boere kan dit bekostig om ten volle op sonen windkrag te steun nie.
FINANSIERING
Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê beurtkrag kos die landbou miljarde rande en dat “nie almal in ’n posisie is om die ekonomiese aanslag te oorleef nie.
“Daar is boere wat nie eens hul kunsmis op die land deur besproeiingstelsels kan uitkry nie. Die stelsel benodig gemiddeld 10 uur per dag om kunsmis toe te dien. Wat gewoonlik in een dag gedoen word, het nou drie dae nodig. Die boerderystelsel raak agter en die boere staar verdere oesverliese in die gesig.”
Hy sê een van die oplossings vir die landbousektor is om in gesprek te tree met banke en gesamentlik in hernubare energie te belê deur opwekkingsenergie te gebruik as sekuriteit.
De Waal waarsku dat die sitrusbedryf binne die volgende drie jaar aansienlik kleiner wees tensy die situasie verander.