Stadige registrasie kos SA broodnodige mededingendheid
DIE landbou het ’n voorspelbare en tydige reguleringsproses vir plantbeskermingsprodukte nodig om mededingend met sy uitvoerprodukte te kan bly.
Só het mnr. Rodney Bell, uitvoerende hoof van CropLife SA, op die landbousakekamer Agbiz se kongres in Noordwes gesê. Hy het sy kommer oor die huidige stadige proses uitgespreek, veral in die lig van toekomstige nuwe Europese vereistes vir ingevoerde produkte.
“Die groot administratiewe tenk ‒ die Europese Unie (EU) ‒ beweeg taamlik vinnig vorentoe met sy Green Deal en ons gaan produkte hê wat van die mark verdwyn.”
Die Green Deal stel mikpunte om klimaatsverandering te bekamp. Sy Farm to Fork-strategie beoog om onder meer plaagdodergebruik teen 2030 met 30% te verminder en die oppervlakte onder organiese produksie van 8% tot 25% te verhoog.
Daar is volgens Bell plaaslik ’n agterstand van drie jaar om ’n nuwe produk te registreer, wat nie die drie tot vier jaar vir toetsing vooraf insluit nie.
As sekere produkte van die mark verdwyn, sal plaaslike produsente nie die jongste innoverings en tegnologieë tot hul beskikking hê om mededingend te kan bly nie. Dít terwyl kongresafgevaardigdes wat ’n tuinboubesprekingsessie bygewoon het, gesê het ander lande se tariewe verlaag reeds hul mededingendheid.
ONVOORSPELBAAR
Die plantbeskermingsbedryf sal baie graag in ’n vennootskap met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling wou werk, maar prosesse moet vinniger verloop. “Ons sal binnekort ’n situasie hê waar ons uitvoerboere nie mededingend is nie omdat ons ou tegnologie gebruik wat nie aanvaar word nie.”
Bell het gesê innovering kom nou stadiger na die plaaslike mark. “Ons het lede wat nie nuwe tegnologie na Suid-Afrika wil bring nie. Hulle sê: Jul reguleringsproses is nie voorspelbaar
nie, nie meetbaar nie, en ons weet nie hoe lank dit gaan duur nie. Waarom moet ons moeite doen? Kom ons neem ons nuwe tegnologieë na ander lande.”
Dit is nie dat die bedryf regulasies wil omseil nie. Regulasies is volgens Bell noodsaaklik om die omgewing, verbruikers en die gebruikers van die produkte te beskerm.
VRYSTELLINGS
Wat die toekomstige EU-vereistes betref, is dit die “spieëlklousules” in die Farm to Fork-strategie wat Suid-Afrikaanse produsente gaan raak. “As boere dáár aan die regulasies moet voldoen, moet boere van waar ingevoerde produkte kom, ook voldoen.”
Die strategie maak wel voorsiening vir vrystellings. Die bedryf sal egter die hulp nodig hê van die departement van handel, nywerheid en mededinging, asook Croplife se internasionale en streeksliggame, wat met EU-amptenare onderhandel, om druk uit te oefen vir vrystellings om produkte te kan gebruik wat nie meer in die EU gemagtig of geregistreer is nie.
Bell was krities oor die moontlikheid dat die EU bloot gaan besluit dat hy nie meer produkte gaan aanvaar wat geproduseer is met ’n aktiewe bestanddeel of plaagdoder wat nie daar geregistreer is nie.
Subtropiese vrugte word nie in Europa verbou nie en verder is daar plae in Afrika wat nie in Europa voorkom nie. “Hulle kan nie ’n algehele verbod op sekere aktiewe bestanddele hê nie.”