LANDBOUWERKTUIE WAT TONNE WEEG ‘NIE GOED VIR GROND’
MODERNE oesmasjiene en ’n Diplodocus-dinosourus laat almal omtrent ewe groot voetspore in die grond, sê Switserse en Sweedse navorsers betrokke by ’n nuwe studie in die vaktydskrif PNAS. Volgens hulle weeg plaaswerktuie deesdae byna soveel soos Sauropoda, die grootste diere wat ooit op aarde geleef het.
In die Jurassic Park-flieks word hulle uitgebeeld as reusagtige, vriendelike, langnek-“veggiesaurusse”. Die grootstes het 60 ton geweeg – soveel soos ’n hedendaagse volgelaaide stroper.
In ’n artikel op die webwerf The Conversation skryf prof. Jess Davies, wat ’n leerstoel in volhoubaarheid aan die Lancaster-universiteit beklee, en sy kollega dr. John Quinton, ’n grondkundige, hieroor.
Hulle sê trekkers en ander plaastoerusting het die afgelope 60 jaar tot reuse-proporsies toegeneem, tesame met die uitbreiding van grootskaalse intensiewe boerderye. ’n Oesmasjien weeg deesdae tien keer meer as wat die geval in die 1960’s was. Daarby het die wiele ooreenstemmend vergroot.
“Die gewig van diere of werktuie maak saak omdat grond net ’n sekere hoeveelheid druk kan hanteer voordat dit chronies verdig word. Dit lyk dalk nie so nie, maar die grond is ’n ekostelsel wat uit brose strukture van porieë en tonnels bestaan wat toelaat dat lug sirkuleer en water plantwortels en ander organismes kan bereik.”
Voertuigbande, diere se hoewe en mense se voete plaas alles druk op die grond. Dit gebeur nie net op die oppervlak nie, maar ook dieper in die grond. Verdigting maak dit moeilik vir plantwortels om water en voedingstowwe op te neem. Die hoeveelheid suurstof in die grond raak ook minder.
Die twee Britse akademici sê die verdigting van grond deur plaasvoertuie kan volhoubare voedselproduksie pootjie omdat dit plantegroei en oeste belemmer. “Die risiko daarvan hang af van die soort werktuig en die manier waarop dit gebruik word, asook die tipe grond en die vog wat daarin opgevang is.”
Volgens die PNAS-studie kan tot 20% van landerye waarop gewasse gekweek word, daarom wêreldwyd wesenlik minder produktief raak namate plaaswerktuie daaroor ry. Dit is veral ’n kwessie in Europa en Noord-Amerika waar grond taamlik klam is en daar baie groot plase is wat met sulke werktuie bewerk word.
Dit is nie net ’n gevaar vir landerye nie, maar ook wanneer kuilvoer in grasveld gemaak word. In stedelike gebiede beweeg boubedryfvoertuie dikwels onbeheerd oor groen spasies heen.
Die navorsers meen aanpassings moet in die ontwerp van werktuie gemaak word om grondstruktuur te help bewaar. Hulle stel ook voor dat kleiner voertuie in hoërisikogebiede gebruik word op kleiner stukke grond.