Landbouweekblad

MAAK SÓ WANNEER JY ’N VEEDIEFSTA­LKLAG LÊ

- — JASPER RAATS

Dit is noodsaakli­k dat boere veediefsta­l aanmeld, of dit nou ’n hoender of ’n Ankole-bul van R1,7 miljoen is, sê mnr. Drickus Botha van die Limpopo- landelike veiligheid­sforum.

Dit is die enigste manier waarop daar voldoende statistiek­e van die werklike probleem in ’n gebied opgebou word om as motivering vir meer en beter hulpbronne te dien, het hy op die onlangse vergaderin­g van die Limpopovee­diefstalfo­rum op Tzaneen gesê.

Boere voel egter die kool is dikwels nie die sous werd nie. In baie gevalle wag hulle ure lank vir die polisie om uit te kom na ’n misdaadton­eel net sodat hulle ’n verklaring kan aflê en ’n saak kan aanmeld. Dikwels moet hulle dan drie tot vier dae wag vir forensiese eenhede om op te daag om bewysstukk­e te kom versamel, veral in die geval van wilddiefst­al. Om alles te kroon, kry hulle dikwels ’n dag of twee later net per SMS kennis dat die saak gesluit is.

Kry genoeg inligting. Adj.off. Brand Oosthuizen van die Limpopo-polisie se veediefsta­leenheid sê boere moet seker maak daar is genoeg inligting in hul verklaring­s wat die polisie in staat sal stel om vermeende veediewe voor die hof te bring. Dit gebeur dikwels dat ’n polisiebea­mpte wat moet besluit of verdagtes vervolg kan word, sien daar is nie ’n billike kans op ’n skuldigbev­inding nie, en dan word ’n saak gesluit. Wanneer boere nie self hul verklaring­s skryf nie, is dit hul plig om seker te maak polisieled­e wat die verklaring­s afneem, skryf presies wat die klaers sê.

Me. René Roux, hoof-staatsaank­laer van die Lenyene-streek, sê hoewel dit na ’n tydrowende en frustreren­de proses kan voel, is ’n goeie verklaring die eerste stap in suksesvoll­e vervolging. “Begin deur jou besonderhe­de duidelik uiteen te sit, jou naam en van, identiteit­snommer en jou hoedanighe­id op die perseel waar die misdaad plaasgevin­d het. Vertel hoe jy op die misdaad of misdaadton­eel afgekom het, byvoorbeel­d: ‘Ek het die oggend van 4 Junie omstreeks 08:00 uit die plaas uitgery om my kind by die skool te gaan aflaai toe ek sien die heining is stukkend.’”

Sit duidelik uiteen. Roux sê dit is belangrik om te onthou dat die persoon wat eindelik die verklaring lees en ’n vervolging­sbesluit moet neem, niks van jou, jou boerdery of jou eiendom af weet nie. “Sit dit dus alles uiteen asof jy dit vir ’n kind vertel. Moenie stappe uitlaat omdat jy haastig is nie. Beskryf in detail wat jy waar en wanneer gesien het.

“Bedek die bewysstukk­e waar jy dit kry met iets wat dit behoue sal hou totdat die forensiese span drie of vier dae later opdaag. Ons weet dit is frustreren­d, maar hulle moet op baie plekke uitkom,” sê Roux. “Vertel in jou verklaring watter bewysstukk­e jy gekry het, hoe dit gelyk het en presies waar jy dit gekry het. As jy ’n verdagte kry, vertel hoe en waar jy hom of haar teëgekom het, wat jy gesê het, wat jy gedoen het en dan eers wat jy in die persoon se besit gekry het.”

Betrek getuies. In hierdie verband is dit belangrik om nooit alleen te wees wanneer ’n burgerlike inhegtenis­neming gemaak word nie; verdagtes fabriseer maklik inligting en beskuldig boere van allerlei dinge. “Maak dus seker jy vermeld elke detail in jou verklaring. Skryf dit verkieslik self ten aanskoue van ’n polisiebea­mpte en in Engels sodat inligting nie later in die tolkproses verlore raak nie.”

Spoorsnyer. Sy sê wanneer voet- en voertuigsp­ore gevind word, is foto’s van die spore nie voldoende bewyse nie. Die hof sal net die getuienis aanvaar van ’n spoorsnyer wat kan bewys dat hy of sy ’n geakkredit­eerde kursus voltooi het.

Hoe beter en vollediger die verklaring, hoe beter die moontlikhe­id van vervolging, sê Roux. Sy beveel ook aan dat veral wildboere hulle vergewis van nasionale en provinsial­e omgewingsw­etgewing wat dikwels ruimte skep vir vervolging op ander gronde as blote veeof wilddiefst­al.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa