WAAR SAL ONS HULP VANDAAN KOM?
Dit is tans maar ’n gespartel op uitvoermarkte, namate die wêreld ál meer sy deure begin toemaak. Tafeldruiwe, appels, sitrus, wol . . . noem maar op, elke bedryf het maar haakplekke met uitvoer. Maar Suid-Afrika het geen keuse nie. Die landbou verdien die helfte van sy inkomste uit uitvoer. Ons kan dus nie bekostig om nié internasionaal mededingend te wees nie.
Dit raak ook gewoon moeiliker om veral aan ontwikkelde markte, soos die Europese Unie (EU), te voorsien. Die EU se sogenoemde Green Deal gaan taai nuwe vereistes aan Suid-Afrika se uitvoerboere stel, met die Europeërs wat nou só gesteld i sop omgewings oorwegings dat hul eie boere rooi sien. Nederlandse boere het juis onlangs hul voet behoorlik neergesit toe die staat onder meer die vlakke van diere se mis op plase wou bepaal.
Dit help egter nie dat ons dinge vir onsself moeiliker maak nie. Van bek-en-klouseer wat ons woluitvoere getorpedo het (en nou die hele vleisbedryf bedreig), tot ons hawens, waar tydgevoelige vrugte lê en oud word. As Suid-Afrika met die grootkoppe wil saampraat, sal hy beter moet vaar.
In dié opsig is dit ontstellend om te sien hoe die staat se steun aan die landbou kwyn. Dít in ’n wêreld waar ál meer geld na die landbou gegooi word. Van indirekte steun, soos navorsing en infrastruktuur – soos wat die Australiërs en Kiwi’s gee, tot die reuse- direkte subsidies van die EU. Lees maar wat skryf prof. Johan Willemse op bl. 28.
Die tanende staatsteun aan ons kommersiële boere is beslis van die minste ter wêreld, want die bietjie wat wel gegee word, gaan byna uitsluitlik aan swart boere. Niemand vra direkte subsidies wat die mark kan skeeftrek nie, maar ’n bietjie hulp nou en dan sal ’n groot verskil maak. Van sinvolle droogtehulp tot entstowwe, wat die staat eintlik wetlik verplig is om te voorsien.
In hierdie opsig was my bywoning van ’n geleentheid van die Wes-Kaapse departement van landbou vir jong boere, wetenskaplikes en ander departementele werknemers oor klimaatslim landbou nogal ’n openbaring. Van dr. Johan n Strauss se baanbrekers proewe oor bewarings-en herlewing s landbou tot satelliet tegnologie wat waterverbruik in die Wes-Kaap se intensiewe tuinboubedrywe monitor.
Daar is ook funksionele voorligtingsdiens teen doeltreffende droogtehulp wat nie tussen opkomende en kommersiële boere onderskei nie. Waar vind ’n mens sulke sinvolle staatsteun elders in Suid-Afrika?
Die private sektor, en veral kommoditeit s organisasies, probeer waar hulle kan om in te staan vir ’n afwesige staat. Van landboumaatskappye wat verseker dat boere toegang het tot wêreldklas tegnologie( teen’ n prys natuurlik!) tot die raap en skraap vir trustgeld en ander finansiering om noodsaaklike navorsing te doen.
Maar soms sit ons die pot eenvoudig mis. Soos die rooivleisbedryf se besluit om die daarstelling van ’n vleis graderingstelsel te laat vaar. So ’n stelsel sou die een aspek wat die vleisbedryf deurgaans beduiwel (vra maar enige verbruiker) – die lewering van vleisprodukte van bestendige gehalte – opgelos het.
Ja, ’n groot deel van veeboere se besigheid bly om voorkwarte plaaslik te verkoop, maar as die bedryf wil groei, moet ons teen die Australiërs kan meeding. Hulle kan verbruikers al geruime tyd waarborg dat elke steak wat hulle koop, van bestendige gehalte sal wees.
Genadiglik is daar glo ’n private inisiatief wat nou die vleis graderingstelsel gereed wil kry, maar in ’n wêreld wat net ’n verskoning soek om nie Suid-Afrika se produkte te koop nie, is om die heel beste te wees, eintlik die minste wat ons moet doen.