DERDE LA NIÑA KAN VERREIKENDE GEVOLGE HÊ
BOERE in somerreëngebiede gaan waarskynlik ’n derde nat seisoen hê die komende somer.
“Dit is nog nie ’n voldonge feit nie, maar tans is die seeoppervlaktemperature in die sentrale en oostelike dele van die Stille Oseaan ondernormaal, en dit suggereer dat die La Niña-weerverskynsel van die vorige twee somers vir ’n derde somer kan voortbestaan,” sê prof. Francois Engelbrecht, klimatoloog van die instituut vir globale weerverandering aan die Universiteit van die Witwatersrand.
Hy sê in hierdie stadium dui alles op ’n 50%-kans dat die La Niña-weerverskynsel, wat wydverspreide reën in somerreëngebiede bring, hierdie somer kan voortduur. Daar is ’n 45%-kans op neutrale toestande en ’n 5%-kans op ’n El Niño (minder reën en gepaardgaande droogte in somerreëngebiede).
VERSWAK NIE
La Niña, die teenoorgestelde van El Niño, ontstaan as die seeoppervlaktemperature in die sentrale tot die oostelike tropiese Stille Oseaan laer as normaal is.
Die kouer watertemperatuur veroorsaak hoogdrukstelsels wat sirkulasiepatrone ontwrig en gee dan aanleiding tot gereelder laagdrukstelsels oor die binneland van Suid-Afrika, wat bogemiddelde somerreënval (Desember tot Februarie) vir die grootste deel van die land kan bring.
Engelbrecht sê dit is wat die afgelope somer aanleiding gegee het tot wydverspreide hoë reënval in somerreëngebiede in Suid-Afrika. “Gewoonlik verswak die La Niña-verskynsel dan weer gedurende die wintermaande. Dié winter het dit egter nog nie betekenisvol verswak nie. Dit is regtig ongewoon en die derde keer sedert 1950 dat dit gebeur.”
DROOGTES
Engelbrecht sê ’n derde La Niña-seisoen beteken die kans is groot dat die droogtetoestande wat tans in oostelike dele van Afrika, soos Somalië, Tanzanië en Kenia, voorkom, kan voortduur.
“El Niño- en La Niña-verskynsels se uitwerking is dat dit die wêreld se sirkulasiepatrone versteur, wat uitkring oor die hele planeet.
“Die resultaat is dat La Niñadrukpatrone oor Suid-Afrika tot gevolg het dat dit reënval bevoordeel en die oostelike dele van Afrika benadeel. Ons verwys daarna as die El NiñoLa Niña-dipool – wanneer dit nat is in Suid-Afrika, is dit droog in die ooste van Afrika.
“Verder is dit belangrik om te noem dat dele van die
Oos-Kaap in die vorige twee La Niña-somers nie bogemiddelde reënval gekry het nie en dit dringend nodig het om die droogte daar te verlig.
“Die westelike Oos-Kaap kry winter- én somerreën, en ’n derde La Niña-seisoen het die potensiaal om ook goeie somerreënval vir dele van die Oos-Kaap te bring en die droogte te verlig.”
VLOEDE EN DAMME
’n Derde La Niña-somer kan die kans op tropiese weerstelsels en in die besonder tropiese siklone wat Mosambiek bereik, ook weer vergroot, sê Engelbrecht. “Suid-Afrika word soms regstreeks geraak deur die tropiese siklone wanneer hulle suidwaartse bane volg, soos met tropiese sikloon Eloïse van Januarie 2021.”
In ’n derde opeenvolgende La Niña-seisoen sal die kans op hoër as normale reënval in KwaZulu-Natal natuurlik ook groot wees.
“Dit beteken ons sal weer bedag moet wees op ’n vloedrisiko in KwaZulu-Natal.”
Hy sê dit is ook belangrik om te kyk na die damvlakke in die oostelike dele van Suid-Afrika wat bogemiddelde somerreënval gehad het. “Die meeste van die opgaardamme in die gebiede is tans propvol (sien die TABEL hiernaas) ná die afgelope somer se hoë reënval. Dit kan vloedbestuur in die komende somer bemoeilik en dit sal goed wees om eerder vroeër as later hiervoor te beplan.”
BEPLANNING
Volgens die departement van water en sanitasie se weeklikse damvlakverslag vir 11 Julie 2022 hou damvlakke tans aan om te styg vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. In die week van 11 Julie was Suid-Afrika se damme gemiddeld 93,4% vol, teenoor 83,4% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
Mnr. Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, sê hulle doen elke jaar vloedbeplanning en -bestuur vir elke provinsie met die samewerking van die departement se afdeling hidrologie voordat dit begin reën.
“Ons doen dit elke September. Dit is te vroeg om nou al te beplan, want ons weet nog nie hoe die komende seisoen se reënval gaan lyk nie. Soms het ons vloede, soms nie. Dit is beter om te wag tot nader aan die reënseisoen,” sê Ratau.
Wat die bestuur van hoë damvlakke betref, sê Ratau: “Ja, die vlakke is tans hoog, maar dit sal aanhou verlaag totdat die volgende reënseisoen aanbreek.”
VERANDERING IN KLIMAAT
Engelbrecht is een van die leier-outeurs van die assesseringsverslag oor klimaatsverandering van die interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPPC), wat verlede Augustus bekend gemaak is.
Die verslag het bevind die aarde is besig om vinniger te verwarm as wat wetenskaplikes verwag het.
Die verslag het belangrike bevindings gemaak oor die toekoms van La Niña- en El Niño-weerverskynsels.
“Eerstens kan ons nie met sekerheid ’n uitspraak lewer oor of La Niña- en El Niño-gebeurtenisse oor die Stille Oseaan sterker gaan raak en gereelder gaan voorkom nie. Dit is gegrond op die statistieke van die afgelope 70 jaar en die klimaatmodelprojeksies vir die toekoms,” sê Engelbrecht.
“Maar die IPPC het wel bevind wanneer daar in die toekoms La Niña- en El Niño-weerverskynsels gaan voorkom, gaan hulle gepaard gaan met intenser reënvalpatrone as in die verlede. Dit beteken die El Niño-droogtes gaan intenser raak en die bonormale reënval wat saam met La Niña voorkom, gaan vererger.”
Hy sê dit is belangrik vir boere om te onthou dat klimaatsverandering die klimaatstelsel meer veranderlik maak en dit sal voordelig wees om landboupraktyke in die toekoms daarby aan te pas.