BOOMPLAAG IN BOORDE OP SOMERSET-WES GEVIND
ie stompkopkewer (Euwallacea forniDcatus)
is onlangs in vrugteboorde en ’n wingerd digby Somerset-Wes gevind.
Só het prof. Francois Roets van die departement bewaringsekologie en entomologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) aan boere, konsultante en navorsers op die onlangse Hortgro- tegniese simposium op Somerset-Wes vertel.
Sy navorsingspan is ingesluit by nasionale pogings oor die kewer en sy geassosieerde Fusarium-swam. Hortgro en Winetech finansier hul studie oor die moontlike impak op die Wes-Kaapse sagtevrugte- en wingerdbedryf.
Roets het gesê opnames is in Mei gedoen op ’n plaas digby die residensiële blok op SomersetWes waar die insek aanvanklik in 2019 die eerste keer in die Wes-Kaap opgemerk is.
Die kewer én die swam is daar in appel-, peer- en pruimboorde en ’n wingerd opgemerk.
“Dit is kommerwekkend omdat ons al baie vrugtebome in tuine sien vrek het.”
Luidens ’n navorsingsartikel deur me. Mignon de Jager, ’n MSc-student aan die US, in die Journal of Plant Pathology is die kewer voorheen ook in amandel-, nektarien- en appelkoosbome in tuine gesien, asook in twee ornamentele pruimspesies. Hierdie bome is hoogs vatbaar vir die swam.
Luidens die uitslae van toetse wat in die vaktydskrif Australasian Plant Disease Notes geplaas is, kan die swam in Cripps Pink-appelbome se hout groei.
Dit is nog onduidelik of die kewer in dié bome self kan broei.
Volgens De Jager se eksperimentele werk kan die swam ewe vinnig in die hout van twee verskillende pruimkultivars, Sungold en Fortune, groei, en vinniger in Angelino-pruime as in Alpine-nektariens s’n.
Roets is veral bekommerd oor peerbome. “Die swam vaar beter in die hout van peerbome as in enige ander gasheerboom wat ons al reg oor die land getoets het.”
Tekens van groot getalle kewers is in peerbome in die besmette boord op Somerset-Wes gesien.
Roets sê dit is nog onduidelik of spesifieke peerkultivars in groter gevaar is as ander, en hoekom die kewers so geredelik in peerbome voorkom. “Dit kan wees omdat hulle in elk geval in groot getalle in die omgewing voorkom, en daarom opportunisties na peerbome oorskuif. Dalk is dit die neiging wat ons algemeen in peerproduserende streke kan verwag.”
De Jager se veldgebaseerde toetse op Merlot- en Cabernet sauvignon-droëlandwingerd dui nie op ’n onmiddellike gevaar vir wingerd nie. Die swam kon luidens ’n verslag in Australasian Plant Disease Notes nie langer as drie maande in wingerdstokke oorleef nie.
“Die moontlikheid bestaan egter dat die swam beter kan vaar sodra die kewers self ook in die wingerde gevind word, of as ander veranderlikes bykom.”
Roets noem dat die gaatjies wat die kewers in hout boor, tot sekondêre besmettings kan lei, en dat kasuarisbome (beefwoods) en populierbome wat rondom boorde as windlanings geplant word, moontlike broeiplek vir kewers kan verskaf.
Daar word steeds na werkbare chemiese bekampingsmiddels gesoek.
Nog slegte nuus is dat ’n tweede genetiese variasie of haplotipe van die kewer opgemerk is, luidens ’n nuwe verslag in Biological Invasions deur dr. Anandi Bierman van die US.
Dié variasie versprei saam met ’n tot dusver ongeïdentifiseerde nuwe Fusarium-spesie.
Navorsers van die Fabi-instituut aan die Universiteit van Pretoria ontleed dit, en is besig met opnames by onder meer pekanneutbome.
“Ons weet nog nie of die voor
koms van ’n tweede haplotipe dalk die kewer se verspreiding oor die land kan verskerp, verminder of verander nie.”
Daar is vasgestel dat die kewer oor ’n wye temperatuurspektrum, vanaf 8 °C tot 38 °C, aktief is.
Roets het na onlangse mediaberigte verwys waarin kenners voorspel dat die kewer Suid-Afrika tot $275 miljard (R4 677 miljard; 0,66% van die land se BBP) oor die volgende dekade kan kos as dit nie bekamp word nie.
Die studie het hoofsaaklik net die koste verbonde aan ornamentele bome bereken. Avokadobome was die enigste kommersiële spesie wat ingesluit is.
Die kewer is sedert 2017 reeds in 130 boomspesies in Suid-Afrika gevind, en broei in minstens 50 daarvan. Dit sluit avokado- en wattelbome in, asook sommige inheemse spesies.
Dit is in 2019 die eerste keer in die Wes-Kaap in vier tuine in een blok in Somerset-Wes waargeneem, en het sedertdien stelselmatig deur die Helderbergkom versprei. Dit is vanjaar ook aan die buitewyke van die boomryke Stellenbosch opgemerk. Volgens Roets is dit bes moontlik omdat tuinvullis vanaf Somerset-Wes na stortingsterreine rondom die Eikestad vervoer word.
“Basies sal die kewer hom in enige boom tuismaak waarin die swam kan oorleef, want dit is sy kos.”
Die swam vestig in die tonnels wat kewers in bome inkerf. Die verspreiding daarvan deur die vaatweefsel onderbreek die verspreiding van water en voedingstowwe sodanig dat die bome weldra vrek.