OM MET ARMOEDE TE BOER
Dit bly maar ’n uiters gepaste aanhaling om Suid-Afrika se penarie te beskryf. In die Amerikaanse skrywer, grootwildjagter en diepseevisserman Ernest Hemingway se bekende roman The Sun Also Rises vra ’n karakter op ’n kol hoe ’n mens bankrot speel. “Eers geleidelik, dan skielik,” kom die antwoord. In Suid-Afrika, soos almal natuurlik terdeë bewus is, is dinge nou al byna vir drie dekades geleidelik aan die agteruitgaan.
Van die bestuur van piepklein munsipaliteite tot kernbelangrike staatsondernemings soos Es kom. Die verval by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP), wat boere van doeltreffende entstowwe moet voorsien, is jare reeds kommerwekkend. Dít ondanks honderde miljoene rande wat bewillig is om dit reg te ruk, maar wat intussen byna spoorloos verdwyn het.
Daar is gewaarsku, gedreig en gesmeek, maar van ’n sinvolle omdraaiplan is daar nog min sprake. Intussen beleef die land ’n ongekende bek-en-klouseer-uitbreking. Die siekte kom nou al by vier groot voerkrale in die Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en Gauteng voor, met meer as 150 000 speenkalwers wat uitgeslag sal moet word.
Pleks daarvan om alles in die stryd te werp om die siekte te beheer, voel dit asof ons gedweë moet toekyk hoe die situasie vererger. Bek-en-klouseer-entstowwe wat OBP veronderstel is om te vervaardig, moet nou ten duurste uit Botswana ingevoer word, en by die staat is daar nie die dringendheid te bespeur om die situasie voldoende onder beheer te kry nie, ondanks ’n beesboer as president.
Nou, nadat ’n veeplaas tussen Bethlehem en Lindley in die OosVrystaat onder kwarantyn geplaas is weens die moontlike voorkoms van bek-en-klouseer, het boere van 16 omliggende boereverenigings besluit om self streng b i o sekerheidsmaatreël stoete pas.
Terwyl dit bemoedigend is dat boere nou self inspring, is dit bloot uit absolute desperaatheid. Die vooruitsig om hele kuddes, en veral stoetkuddes, te moet uitslag, is ’n terugslag wat min sal oorleef.
Dit is ook skade wat nie eindig by boere nie. Die impak sal uiteraard dwarsdeur die hele waardeketting gevoel word: Van plaaswerkers wat afgelê moet word, tot afslaers, voerkrale en voerverskaffers wat minder besigheid gaan doen, en waar daar ook werkverliese kan wees. Dan gaan vuisvoos verbruikers meer vir rooivleis moet betaal.
Soos Hemingway se karakter gesê het: eers geleidelik, en dan baie skielik. Die ontnugterende uiteinde van jare se wanbestuur en traak-my-nie-agtige houding van ’n staat wat eenvoudig nie sy werk kan of wil doen nie.
Dit verskil nie veel van die verstommende besluit van die minister van handel, nywerheid en mededinging, Ebrahim Patel, om invoertariewe op gestorte hoendervleis met ’n jaar uit te stel nie, kwansuis om sukkelende verbruikers van goedkoop hoendervleis te voorsien.
Die feit dat hy teruggaan op ’n kern-onderneming soos vervat in die hoenderbedryf se meesterplan, skeel hom klaarblyklik min. Ook nie dat daar reeds bewys is dato ns hoender produsente netso doeltreffend produseer soos enige internasionale mededinger nie.
Of oor die honderde — selfs duisende — werkgeleenthede wat in die slag gaan bly, en wat armoede, en die behoefte aan goedkoop kos waaroor hy so besorg is, net eksponensieel sal verdiep. Of die vleisinvoerders vir die eerste keer nóg die voordeel aan die verbruiker gaan deurgee, is ook ’n ope vraag.
En só begin ons met armoede boer. Wanneer probleme nie aangepak word terwyl ons nog ’n kans het om hulle op te los nie, en die verval skielik om ons begin gebeur.