VORENTOE OP PATATSPOOR
Boer ’n mens volgens die varsmark se giere, trek jy meestal aan die kortste ent. Wie egter deur dik en dun met een groentegewas aanhou, wen op die lange duur, skryf JC Jordaan.
Patas verlede jaar, patats vanjaar en patas volgende jaar. Dit klink saai, maar dit werk. Al jare lank tokkel mnr. Gerrit Landman, ’n besproeiingsboer van Levubu-Oos, pal die patatsnaar.
Dit beteken nie dat sy eensnaar-deuntjie hom vir ander markneigings afgestomp het nie. Nee, hy hou die mark met arendsoë dop. Partykeer storm hy sommer ’n propvol mark met ’n vrag patats binne en stap met die hoogste pryse weg.
’n Patatboer, sê hy, het ’n paar dinge tot sy voordeel. Vir eers is dit nie ’n hoogs bederfbare produk nie, mits jy dit droog uithaal. Ploeg ’n mens dit uit papnat grond, veral as dit nog aktief groei, dan is vinnige bederf natuurlik ’n patat se voorland.
Ook kan dit maande lank in die grond bly nadat dit volwassenheid bereik het, sonder om voos of sleg te word. Mnr. Landman het patas al tot vier, vyf maande lank só laat lê.
Derdens is die vroeëre probleem van patatvirusse nou opgelos: Danksy die navorsingsinstituut vir tuinbou by Roodeplaat is virusvrye plantmateriaal vandag vryelik bekombaar.
Mnr. Landman sê daar was ’n tyd toe hy verskeie groentesoorte verbou het. Vandag plant hy ’n bietjie bone vir saadproduksie, maar sy hoofgewas is patats, elke jaar 30 ha tot 40 ha daarvan. Dít oes hy dwarsdeur die jaar.
Sy ervaring is dat dit loon om met ’n groentesoort te spesialiseer en ondanks prysskommelinge daarmee te volhard. Die opportunis wat plant as die prys hoog is, vang gewoonlik die stertkant van hoë pryse of loop dit heeltemal mis.
Deur dwarsdeur die jaar te bemark, handhaaf hy ’n goeie gemiddelde prys. Tref hy die mark goed, maak hy vinnig geld, maar is dan tevrede as die mark laer neig.