ORANJEROES NOU OOK BY SA SUIKERRIET
Suikerrietkenners is bekommerd oor die voorkoms van oranjeroes (Puccinia kuehnii) nadat simptome daarvan vroeër vanjaar die eerste keer in plaaslike lande opgemerk is.
Dit is bevestig in die vaktydskrif Plant Disease. Die Suid-Afrikaanse suikerrietnavorsingsinstituut (SASRI) sê oranjeroes kan hele landerye binne ’n week of twee van groen tot oranjebruin verkleur, en opbrengste knou.
’n Noodplan is reeds vir die bedryf opgestel.
Volgens me. Michelle Binedell, kennisbestuurder van SASRI, kan boere wie se lande moontlik besmet is, verwag om die eerste tekens daarvan teen einde Augustus of begin September te sien.
“Dit kom meestal in die lente, vroeë somer en vroeë herfs voor, en kan suikerriet van enige ouderdom besmet.”
Die siekte floreer in nat, bedompige en warm toestande van 20-25 °C, maar hou nie van temperature bo 30 °C nie.
Volgens me. Sharon McFarlane van SASRI en hoofskrywer van die artikel in Plant Disease, is simptome van oranjeroes in Februarie vanjaar die eerste keer in Suid-Afrika opgemerk in ’n kommersiële suikerrietland aan die Noordkus van KwaZulu-Natal. Die kultivar N76 is die vorige jaar daar geplant.
Ná verdere opnames is bevind dat nog kultivars in ander streke ook besmet is.
Oranjeroes was vroeër tot
Asië en Australasië beperk, maar was aanvanklik nie ’n groot probleem nie. Volgens kenners het dit teen 1999 en 2001 ’n wesenlike genetiese skuif ondergaan, en ernstige verliese in Australië begin veroorsaak.
Dit het stelselmatig na suikerrietaanplantings wêreldwyd versprei. Dit is in 2018 die eerste keer op Mauritius waargeneem, in 2019 op Réunion en in 2020 in Angola.
Mikroskopies klein oranjekleurige Puccinia kuehniispore is reeds sedert 2016 sporadies opgemerk tydens monitorwerk by Komatipoort in Mpumalanga.
Die spore is baie lig en gehard, en kan daarom maklik deur wind en water versprei word. Dit versprei nie deur suikerriet uit besmette lande te plant nie.
Die impak van die siekte op opbrengste wissel na gelang van die klimaat en betrokke kultivars.
Oranjeroes het in sommige lande opbrengste al met tot 43% laat afneem. Die rede is omdat die suikerrietplant se vermoë om te fotosinteer, beperk word, en minder voedingstowwe dus geproduseer word.
Die buitenste laag van die blare word beskadig as spore vrygestel word, en die plant sukkel ook om waterverlies te reguleer. Besmette blare vrek voortydig.
Die simptome daarvan verskil van twee ander soorte suikerrietroes waarop die plaaslike suikerrietbedryf reeds bedag is: bruinroes (Puccinia melanocephala) en taanroes (Macruropyxis fulva). Bruinroes kom reeds sedert die 1940’s in Suid-Afrika voor. Taanroes is die eerste keer in