Gee regte aanvulling om melkkoors te voorkom
Melkkoors is ’n groot risiko vir melkkoeie en as dit nie reg bestuur word nie, kan die ekonomiese impak baie ongunstig wees.
Die oorgangstydperk van ’n melkkoei verwys na die drie weke voor kalf tot drie weke ná kalf. Op geen ander tydstip in die lewe van ’n melkkoei kan voedingsintervensie só ’n groot uitwerking op produksiepotensiaal hê nie.
’n Buitengewoon hoë persentasie metaboliese probleme kom tydens of kort ná hierdie tydperk voor. Onderdrukte droëmateriaalinname en swak kondisie, tesame met versnelde koeivoedingsbehoeftes is van die hoofoorsake daarvan.
Droëmateriaalinname daal met tot 30% drie weke voor kalftyd. Die GRAFIEK is ’n voorstelling van die vernaamste metaboliese probleme wat ’n melkkoei tydens die oorgangsen laktasietydperk kan ervaar.
Studies toon dat 56% van melkkoeie in ’n kudde gesond is, 27% vir slegs een metaboliese siekte behandel word, en 17% vir twee of meer metaboliese siektes. Dit beteken dat 44% van die boer se kudde vir minstens een metaboliese siekte behandel moet word.
Die vraag is nou: Wat kos een siekte?
In 2021 het navorsers (Pérez-Báez et al.) data van ongeveer 12 000 melkkoeie in Noord-Amerika gebruik om vas te stel wat die ekonomiese impak van metritis is. Hulle het bevind die gemiddelde koste van ’n metritisgeval was $513 (sowat R8 500). Die melkprys, behandelings-, vervangings- en voerkoste het onderskeidelik 59%, 19%, 12% en 7% van die totale variasie in kontantvloeiverskille verteenwoordig.
Ongeveer R8 500 per koei vir een siekte is baie geld. Dit is nie te sê elke siekte sal soveel kos nie, maar as ’n mens dit bereken teen slegs R5 000 per geval in 44% van jou kudde, lei ’n kudde van 1 000 melkkoeie ’n jaarlikse verlies van R2,2 miljoen.
Luidens literatuur word melkkoors beskou as die katalisator vir al die ander metaboliese siektes wat met die oorgangsen laktasietydperk gepaard gaan. Wanneer ’n melkkoei melkkoors opdoen, is daardie koei se risiko onmiddellik hoër om ander siektes op te doen.
’n Studie in 2017 (Pederson et al.) toon dat melkkoors die risiko vir metritis 1,7 keer verhoog, vir distokia (sukkel om te kalf) 2,6 keer, vir plasentas wat vassit drie keer, vir verplaasde abomasums (melkpense) 4,8 keer, en vir ketose (domsiekte) en mastitis elk agt keer. Melkkoors het dus ’n hoë indirekte ekonomiese impak.
VOORKOMING
Die voorkoming van melkkoors geskied in die opstoomfase van die melkkoei (21 dae voor kalf). Deesdae is die grootste klem op die DCAD-konsep. Dit is ’n wiskundige vergelyking tussen minerale, naamlik katione wat positief gelaai is, en anione wat negatief gelaai is, waar hoë vlakke van katione die risiko van melkkoors verhoog. Die voer van anioonsoute beïnvloed die dier se suur-ewewig, en uiteindelik kalsiummetabolisme teen kalftyd.
Die primêre doel in opstoom is om ’n rantsoen met ’n negatiewe DCAD te verskaf om die risiko van melkkoors tydens kalf te verminder. ’n Teiken-DCAD van -5 meq tot -10 meq in die opstoomrantsoen kan die gesondheid en prestasie van die oorgangskoei aansienlik verbeter en melkkoors voorkom.
Voermol Droë Koei Aanvulling (reg.nr. V14603, Wet 36 van 1947) is spesifiek geformuleer om melkkoors te voorkom. Dit bevat gekonsentreerde vlakke van anioonsoute, wat onsmaaklik is, maar dit word oorkom omdat die produk ’n melassebasis het en ander smaakmiddels bevat. Dit bevat gebalanseerde makrominerale en vitamiene, asook spoorminerale in organiese vorm om die koei se immuunstelsel verder te versterk.
Die urine-pH van melkkoeie wat tipiese rantsoene sonder anioonaanvulling (DCAD van +20 meq of groter) gevoer word, is 7,8 tot 8,2. Dit is ’n normale waarde vir herkouers.
Met ’n DCAD van -5 meq tot -10 meq/100 g droëmateriaal dui die urine-pH van 6,0 tot 6,7 (drie tot sewe dae ná aanvulling) aan dat anioonaanvulling doeltreffend is. ’n Urine-pH van minder as 6,0 dui aan dat dit nie nodig is om soveel anioonbronne te voer nie.
Vermy weiding of ruvoer soos lusern wat hoog in kalium en kalsium is, aangesien dié ruvoere die voorkoms van melkkoors en uier-edeem verhoog. Voer Voermol Droë Koei Aanvulling teen 1,5-2,5 kg/koei/dag tydens die laaste 21 dae van dragtigheid om melkkoors suksesvol te voorkom en sodoende die risiko van ander metaboliese siektes te verlaag.