Storm woed oor bek-en-klou
Dit gons behoorlik op sosiale media, in vergaderings en wandelgange oor die hantering van die bek-en-klouseer-kwessie. Almal is kwaad vir almal omdat die uitbrekings handuit geruk het.
In ’n verslag op 30 Augustus oor die situasie ná die eerste week van die verbod op die landwye vervoer van beeste het Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gesê daar was 11 nuwe uitbrekings, waarvan 5 in KwaZulu-Natal, 5 in die Vrystaat en 1 in Gauteng. Dit bring die totaal op 127 uitbrekings te staan. Sy het bygevoeg die hierdie nuwe uitbrekings waarskynlik reeds daar was toe die verbod aangekondig is en dat die hele situasie ná ’n week weer in oënskou geneem sal word.
Manie sien op dieselfde dag het sy, die departement van landbou, die nasionale dieregesondheidsforum en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) ’n tweede dreigbrief van ’n prokureur namens ontstoke boere, afslaers en vervoerkontrakteurs ontvang. Die brief van die prokureur, Hannes Jacobs, verwys na die groot skade weens die “nalagtigheid en mislukking” om geskikte maatreëls teen die uitbreking in te stel en wat nou gelei het tot die verbod.
Hy vereis ’n volledige uiteensetting van die onderskeie partye oor presies wat gedoen is om die verspreiding van die siekte te probeer keer. Hy wys daarop dat sy klante besig is met ’n beraming van skade met die oog op ’n eis. ’n Soortgelyke brief is op 16 Augustus gestuur, maar daar was geen reaksie daarop nie.
DIT BLY ’N PROBLEEM
Die vervoerverbod van 21 dae was ’n desperate poging deur Didiza om die siekte se inkubasie-siklus te breek. ’n Veeartsvriend van Manie meen 28 dae sou beter gewees het, maar hy het begrip vir die impak wat hierdie vervoerverbod op boere se sakke het.
Die probleem is dat beeste vir die eerste vier dae nadat hulle besmet is, geen kliniese simptome wys nie. Eers daarna sien ’n mens die blasies in hul bekke en sere aan hul kloue. Ná 14 dae klaar die letsels op en dan kan diere steeds die siekte oordra. Dit is gewoonlik in die eerste vier dae en nadat die simptome 14 dae later opgeklaar het wat besmette beeste verskuif en verhandel word.
Die vervoerverbod moes dus alle beeste lank genoeg ingeperk hou dat besmette diere nie vervoer word terwyl hulle aansteeklik is nie. Op inligtingsvergaderings van die RPO in
Limpopo vertel boere egter hoe hulle in hul distrikte gesien het dat beeste steeds op sleepwaens gelaai word en met bakkies die wêreld vol vervoer word.
Dit is nou weer daardie kultuur van wetteloosheid van ons Suid-Afrikaners. Ons sal mos op dolle vaart die spoedperk ignoreer op pad na ’n vergadering waar ons almal dan hand opsteek om te kla oor die swak polisiëring en wetstoepassing in ons land.
Dit is jammer, want Manie se veeartsvriend verduidelik dat die viruslading van beeste wat ná besmetting gesond geword het, meestal so laag is dat hulle die siekte nie kan oordra nie.
Die vervoerverbod is ’n ongemaklike besigheid – dit is nie altemit nie. Maar, soos Douw Pelser, ondervoorsitter van die RPO in Limpopo sê, in hierdie stadium is dit nog net ’n kontantvloei-probleem. As boere dit oorleef, kan bek-enklouseer weer onder beheer wees, maar as van die beeste wat in hierdie tyd so onwettig op waentjies en vragmotors verskuif is, besmet was, was die opoffering tevergeefs. Manie is diep bekommerd.
DIE VERKIESING KOM . . .
Jaco Minnaar, voorsitter van Agri SA, het boere onlangs op Agri Oos-Kaap se kongres gewaarsku dat hulle bedag daarop moet wees dat die landbou, soos tydens vorige verkiesings, weer ’n politieke speelbal in die aanloop tot die 2024 nasionale verkiesing kan word.
Hy het gesê die aanslag op grond het baie afgeneem sedert onteiening sonder vergoeding in die parlement afgestem is, maar die bedreiging is nie verby nie. Hoewel die ANC nou te besig is met interne twiste en min aandag aan die grondkwessie skenk, kan dit maklik weer op die voorgrond geplaas word om stemme te werf.
Nóg ’n aspek waarop boere veral moet let en wat ’n impak op die landbou kan hê, is die migrasiekwessie wat tans baie polities gelaai is. Minnaar het boere aangeraai om die verantwoordelikheid as leiers te neem en om die pessimistiese gesprekke om die braaivleisvuur te verander en eerder met oplossings vorendag te kom, al is daar tans baie waaroor daar in Suid-Afrika gekla kan word.
Jong mense moet aangespoor word om deel te wees van die oplossing. Manie wil saam met hom boere ook aanmoedig om uit te reik na hul gemeenskappe om saam oplossings te vind. Die inwoners van dorpe, plaaslike besighede, townships en kommunale gebiede moet betrek word.
Minnaar het gesê daar word na boere geluister en daar gaan nog meer na hulle geluister word as hulle ’n verskil maak in die gemeenskap. Almal se probleme is dieselfde, almal soek dienste, goeie infrastruktuur en kos op die tafel.
KATJIES VAN DIE BAAN
’n Dogtertjie met pasgebore katjies sit op die sypaadjie. Pres. Cyril Ramaphosa kom verby en vra haar watse katjies dit is. Sy sê: “Dit is ANC-katjies.” Die volgende dag is hy terug met ’n hele nuus- en TV-span en vra haar weer watse katjies dit is.
Sy sê: “Dit is boere-katjies.” Verbaas sê hy: “Maar gister was dit dan ANC-katjies!”
“Ja,” sê sy, “maar vandag het hul ogies oopgegaan.”