NAMPO SE KAAPSE SENTIMENT
Ná ’n onderbreking van twee jaar was dit goed om weer Nampo op Bredasdorp te hou. Die parkeerterrein was al vroegoggend vol, en tot sover as Struisbaai was daar nie blyplek vir ’n muis nie.
Benewens die kans om mekaar weer ’n bietjie in die oë te kon kyk oor ’n koppie koffie, is dit altyd lekker om ’n fisieke vergestalting van ons bedryf te sien. Die besef dat die landbou nog ’n besonderse vlak van kundigheid aan Suid-Afrika beskikbaar stel. Die gemoedsrus dat ons altyd nog ’n plan sal kan maak.
Om vanjaar die Merino Classic op Nampo Kaap te kon sien, was ook baie spesiaal. Dit is immers die distrik waar Michiel van Breda in 1817 vir die eerste keer kommersieel met die Merino geboer het. Heel gepas bly Bredasdorp die grootste wolproduserende distrik in die land.
Maar daar was ook ’n vae, onderliggende ongemaklikheid te bespeur. Amper ’n onsekerheid oor die toekoms. Beurtkrag en die alewige gesukkel met die staat help natuurlik nie. Alles het ook so dêm duur geword, en rentekoerse help nie juis met die betaal van goedere nie. Alles dinge wat wegkalwe aan vertroue oor die ekonomie.
Die syfers beaam dit. Die eerste kwartaal van vanjaar se ekonomiese groei van 1,7% is gevolg deur ’n inkrimping van 0,7% in die tweede kwartaal. Soos prof. Johan Willemse in hierdie uitgawe (bl. 26) uitwys, word dié powere vertoning verder onderstreep deur ál drie produksiesektore wat negatief gegroei het teenoor die ooreenstemmende kwartaal verlede jaar. Die landbou is af met 7,7 %, mynbou met 3,5% en fabriekswese met 5,9%.
Om die Nampo Kaap-terrein staan daar ’n mooi graanoes op die lande. Maar dit was bloedig warm op die eerste dag van die skou, en dit is duidelik “die regter” moet nog sy besluit neem. Die aanplantings het nog reën nodig om vanjaar die wa deur die drif te sleep.
Maar di tis die uitvoervrugte bedrywe wat’ n besonder moeilike en erg frustrerende seisoen beleef het. Van die gesukkel met die hawens en verskeping tot verwerkingsaanlegte wat sluit, handel s versperrings uit die bloute en natuurlik verslegtende beurtkrag.
As Suid-Afrikaners besef ons nie aldag wat ons elke dag moet trotseer nie. ’n Gesprek met Charl van der Merwe, ’n landbou-ekonoom wat nou betrokke is by uitreikingswerk in die Karoo, laat my weer besef hoe die skade en trauma van seker die grootste droogte in ’n eeu nog ver van verby is.
Oor plastiekbakkies heerlike kerrie-en-rys wat die ma’s van Laerskool Bredasdorp se gewilde kostalletjie bedien, vertel Charl dat daar boere is wat steeds nie weet waar hul volgende bord kos vandaan gaan kom nie. Die opdraande stryd om kuddes te herbou. Van ’n tannie wat na ’n troue genooi is, maar niks gehad het om aan te trek nie. Die diepe dankbaarheid toe rokmateriaal wonderbaarlik in ’n hulppakkie opgeduik het.
Só probeer ons maar die beste van dinge maak. Soos op die jaarlikse boere planne kompetisie wat Landbouweekblad saam met Omnia en Graan SA aanbied. Ná die prysuitdeling staan en gesels ek met Pieter du Toit, ’n plaaslike melk-en-saaiboer wat naby die dorp saam met sy broer boer. Sy robuuste voerkrippe vir sy melkbeeste is van hoëgehalte-plastiekbaddens geprakseer wat ’n pel per toeval raakgesien het toe ’n plaaslike perlemoenplaas dit van die hand wou sit. Dit besorg hom toe die eerste prys in die ope-afdeling.
Ná ’n rukkie gesels ons oor hoe hy en ’n pel beoog om oor die Kerstyd vlieërplank in Brasilië te g aanry. Nie juis jou standaard boere tydverdryf nie!
Maar dit is hoekom ons Nampo toe gaan. Om weer in voeling te kom met hoe ons mense net aanhou. En daardeur weer ’n bietjie moed te skep.