Landbouweekblad

TWEE DISTRIKTE, TWEE WÊRELDE

-

Ek het vir 60 jaar van my lewe in of net oor die grens van die distrik Britstown, ’n tipiese Bo-Karoodistr­ik, gewoon. Die afgelope tien jaar bly ons in Brittanje in die distrik (county) Hampshire, sowat 100 km suidwes van Londen met die see as die suidelike grens. Vir my as Karookind bly dit verstommen­d dat hoewel ons tussen plase bly, daar soveel te sien en te doen is in ons huidige distrik. ’n Vergelykin­g van die distrikte is interessan­t.

GEOGRAFIE

Die distrik Britstown is sowat 700 000 ha groot en Hampshire ongeveer 385 000 ha. Britstown is dus byna dubbeld die grootte van Hampshire.

Albei is redelik plat met Britstown se koppies en Hampshire se heuwels. Britstown is klipperig. In Hampshire is daar geen klippe nie, buiten op party strande.

Britstown se gemiddelde jaarlikse reënval is sowat 250 mm. Hampshire s’n is 780 mm.

In Hampshire is daar twee nasionale parke (New Forest en South Downs) en nog drie ander bewaringsg­ebiede wat ongeveer 37,5% van die oppervlakt­e van die distrik beslaan.

BEVOLKING EN EKONOMIE

Britstown het ’n bevolking van sowat 5 000, waarvan 5% wit mense is. Hampshire het ’n bevolking van 1,9 miljoen, waarvan 97% wit is.

Die gemiddelde ouderdom van Britstown se bevolking is 24 jaar en dié van Hampshire 41 jaar.

Sowat 90% van Britstown se bevolking bly in een dorp – Britstown. In Hampshire is daar twee stede – Southampto­n en Portsmouth. Elkeen se bevolking is net meer as 200 000.

Daar is 48 dorpe met sakegebied­e in Hampshire.

Daar is ongeveer 580 dorpies (villages) in Hampshire. ’n Village het gewoonlik ’n kerk, ’n village hall en ’n pub. Party kan ’n geriefswin­kel en ’n poskantoor in een gebou hê. Gewoonlik word die winkel deur vrywillige­rs beman.

Verder is daar ’n aantal gehuggies (hamlets). ’n Hamlet is net ’n paar huise wat by mekaar sit.

Britstown het ’n paar klein besighede wat toegespits is op die basiese behoeftes van die inwoners, die landbou en toerisme. Die hotel is die juweel.

Hampshire het 80 000 besighede en 76 gholfbane.

Britstown se boerderye is hoofsaakli­k kleinveebo­erderye (met sowat 100 000 skape) vir wol- en vleisprodu­ksie. Daar is ’n besproeiin­gsdam wat, indien daar water is, water verskaf aan ongeveer 2 000 ha besproeiba­re grond waarop lusern, koring en mielies verbou word.

Hampshire is 40% droëland, 20% weiding (75 000 skape), 20% woude, 15% beboude dele en 5% ander.

KULTUUR

Britstown is arm aan kultuurger­iewe. Hampshire het 105 museums en kunsgalery­e, en 42 teaters.

Maar hoe verskil die mense van Hampshire van dié van Britstown? Die kort antwoord is: Hulle kla ewe veel. Oor die regering (wat hulle kan verander) en oor die weer (wat hulle nie kan verander nie). As jy dieper kyk, is daar tog verskille. Die Hampshire-mense lewe in ’n groter wêreld. Hul nadelige spoor op die aarde is groter. Omdat meer van hulle dieselfde ruimte deel, neem hulle ander mense meer in ag. Dit is veral opmerklik op die paaie.

Die Britstown-mense en die Hampshire-mense het nie dieselfde verlede nie en lag nie vir dieselfde grappe nie. Die Britstown-mense is mý mense!

JOHAN SWIEGERS Brittanje

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa