Wat doen staat vir boere?
Met ’n minister, ’n adjunk-minister en ’n magdom amptenare by die department van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sou ’n mens verwag dat daar iemand is om na die boer se belange om te sien, maar nee …
Toe ek onlangs in die media verneem dat ’n wynboer slegs 2% wins op sy produkte maak, was ek geskok. Dit is minder per bottel as die fooi wat ’n kelner ontvang as hy of sy ’n glasie wyn aan ’n klant bedien.
Te midde van allerlei belastings, salarisverhogings, stakings, natuurrampe en boikotte moet boere sweet om te oorleef van die krummels wat van die tafel val. En dan nog verbruikers se geween en gekla oor kospryse wat so hoog is, aanhoor, terwyl die staat die grootste hap vat!
Dan vra ’n mens: Waar is die minister wat die boer se saak moet behartig? As jy kyk hoe regerings in Europa boere se hande vat, moet ons huil oor wat plaaslik gebeur.
Wanneer laas is daar ’n besproeiingsdam vir voedselsekerheid gebou? Wat doen die geagte minister en amptenare buiten om ANC-belange te bevorder?
Só word ons boere te na gekom:
1. Jaarlikse verhogings van allerlei belastings sonder inagneming van hoe min ’n boer die staat werklik kos en die boer se oorhoofse koste!
2. Die weiering om handel in renosterhoring te wettig.
3. Kabeldiewe en smokkelaars word in staat gestel om in koper handel te dryf. As koper tot edelmetaal verklaar word, sal kabeldiefstal ophou!
4. Daar word geswyg oor miljoene hektaar onbenutte landbougrond en dan word vir boere gesê die bakhandstaners is grondhonger.
Met geen dief nog agter tralies nie het goedhartige samaritane die staat se taak oorgeneem en sopkombuise vir hongeres en herberg vir weerloses ingerig. En indien daar wel geld beskikbaar word, sal iemand dit so gou moontlik steel!
Die onnoselste stap denkbaar was toe daar ná 1994 weggedoen is met padmakers en padkampe op die platteland. Maar vir steel, bedrog en selfverryking was dit ’n
briljante en innoverende verneukspul. Kyk hoe lyk die paaie nou.
Op die platteland geniet sekere gruispaaie nie meer aandag nie en kos dit boere fortuine om vars produkte op die markte te lewer. En terwyl die staat skitter in sy afwesigheid, word oor kospryse gemurmureer!
Nou word gewag op begrotings, inspeksies, konsultante, kommissies van ondersoek en, helaas, ’n hofbevel voordat paaie herstel word.
Gawie Richter
Modimolle