Armes koop dié ‘noodsaaklike’ produkte eerste
WANNEER arm huishoudings swaar trek, neig hulle om eerste die kosprodukte in ’n sogenoemde kernmandjie te koop, en ander produkte, soos eiers en melk, slegs indien daar genoeg geld oorbly.
Aartappels en uie sal hulle egter altyd bly koop, sê Mervyn Abrahams, programkoordineerder van die Pietermaritzburgse ekonomiese geregtigheid-en-waardigheidgroep (PMBEJD), wat in 2018 tot stand gekom het. Dit maak ’n indeks bekend van die pryse van produkte wat armer huishoudings koop.
Die prys van uie was volgens die indeks in Februarie 75% hoër as ’n jaar gelede. “Vroue sê aan ons hulle móét uie koop, hulle kan nie daarsonder kook nie. Dieselfde geld mieliemeel of rys, na gelang van die kulturele groep. Dit is noodsaaklik. Dit maak nie saak wat die prys is nie, hulle sal dit koop.”
Abrahams sê ’n paar jaar gelede was daar ’n neiging dat vroue ’n goedkoper vorm van mieliemeel gekoop het. Nou sê hulle hulle koop weer die beter gehalte, selfs al is dit duurder, omdat dit minder kooktyd nodig het. “Die koste van elektrisiteit speel ook ’n rol in wat mense koop.”
Kerngroep
Produkte in die kerngroep sluit in mieliemeel of rys, brood, koekmeel (om onder meer vetkoek te bak wat kinders kan skool toe neem), ’n bietjie hoender, uie en aartappels en vleisaftreksel of sop. Laasgenoemde twee word gebruik om geur aan kos te gee wanneer daar nie vleis in die huis is nie.
“Indien daar geld oor is, sal die vroue ander produkte koop, soos eiers, melk, soetrissies, tamaties en miskien ’n bietjie vrugte.” Die produkte in die kernmandjie bevat volgens Abrahams baie suiker en koolhidrate, maar nie die meeste van die mikrovoedingstowwe wat kinders nodig het nie. “Groeibelemmering by kinders is ’n reuse-probleem.”
Minder op ’n keer
Begin verlede jaar het die PMBEJD gereeld gehoor dat mense sê hulle moes kos in hul yskaste weggooi vanweë beurtkrag.
“Ek dink ons het intussen begin aanpas by beurtkrag as ’n normale deel van ons lewe. Mense sê hulle koop in kleiner hoeveelhede.
“Die probleem daarmee is dat dit uiteindelik duurder is. Mense moet meer dikwels winkels toe gaan en dikwels behels dit taxigeld om by ’n winkel te kom. Dit beteken ook hulle kan nie kos in groot maat koop nie. Ons moedig mense aan om saam met ander huishoudings te koop sodat hulle afslag op groot hoeveelhede kan benut.”
BTW maak nie verskil
Oor veldtogte dat BTW op hoendervleis opgehef moet word, sê Abrahams die PMBEJD is nie oortuig dat dit die kleinhandelprys sal laat daal nie. Volgens hom is die voedselwaardeketting in die land nie deursigtig nie, omdat maatskappye sê die betrokke inligting is vertroulik. “Die gevolg is dat ons nie weet waar presies die stygings in voedselpryse in die waardeketting plaasvind en of dit geregverdig is nie.
“Groot hoenderprodusente kan BTW op hul insetkoste terugeis. Kleinskaalse hoenderboere kan nie. Ons stel voor dat hoendervoer eerder van BTW kwytgeskeld moet word.”
Abrahams sê arm huishoudings weet meestal nie eens op watter voedsel daar nié BTW gehef word nie. Die ironie is dat die produkte in die kernmandjie waarop daar nié BTW gehef word nie, in Februarie vanjaar gemiddeld 15,9% duurder was as ’n jaar gelede
en die ander produkte gemiddeld 10,2% duurder. Mieliemeel, waarop BTW nie gehef word nie, was byvoorbeeld 28% duurder.
Lone
Abrahams sê die PMBEJD se siening is dat die debat oor die bekostigbaarheid van kos nie net oor pryse moet gaan nie, maar ook oor die vlak van lone in die land. “Lone is uiters laag in Suid-Afrika. Kospryse sal altyd wissel, veral van vars produkte. Dit hang af van onder meer klimaats- en geopolitieke faktore en energie. As ons ’n baie hoër loondrempel gehad het, sou huishoudings hulself deur die stygings en spitse kon maneuvreer.” Weens lae lone kan mense nie spaar om ’n buffer vir sulke tye op te bou nie.
“As ons regtig ’n ernstige gesprek met mekaar kan hê, sonder om op mekaar te skree, dink ek ons sal gemeenskaplike grond vind. Die uiteindelike gevolg van lae lone is dat boere nie hul produkte kan verkoop nie.”
Oor boere wat prysnemers is, sê Abrahams dat dit soms wel nodig is dat verbruikers hoë pryse moet betaal, mits daar ’n ander loonstruktuur bestaan. “As boere behoorlike waarde vir hul goedere kry, sal hulle nie meer net prysnemers wees nie en sal hulle in staat wees om plaaswerkers beter te betaal.” Syfers toon volgens hom dat plaaswerkers se voedselonsekerheid die hoogste van alle sektore in die land is.