Kweek só ’n liefde vir boerdery by jou kinders
VIR die Amerikaanse boer Joel Salatin is een van die landbou, en veral boere, se grootste verpligtinge om ’n diep liefde vir boerdery by plaaskinders te kweek.
Dit was Joel Salatin se vermoë om ’n goeie bestaan te maak uit sy betreklik klein 220 ha-plaas in Swoope in die Amerikaanse deelstaat Virginia wat hom bekendheid laat verwerf het.
Deur ’n proses van stacking, oftewel opstapeling van verskillende bedrywe op sy plaas, Polyface Farm, het Salatin bewys dat ’n mens op klein stukkies grond winsgewend kan boer indien daar vertikale intensifisering is.
Salatin se benadering het ook weer hoop laat opvlam dat die Amerikaanse familieplaas ’n oplewing kan maak, veral ná jare se verswelging deur groot, koöperatiewe plase wat die voordeel van skaalekonomie gehad het.
Vandag word daar op Polyface met beeste, vrylopende vleis- en lêhoenders, varke, kalkoene en hase geboer.
Die verskeidenheid diere se weidingspatrone benut natuurlike weidings beter, en help ook om die lewensiklus van enige parasiete te verbreek, met diere wat daagliks geskuif word en veld wat lank kans kry om te rus.
Die verskeidenheid diere versprei ook Salatin se inkomstestrome om die plaas groter finansiële veerkragtigheid te gee, veral wanneer daar boonop ook regstreeks aan die publiek verkoop word, soos op Polyface gedoen word.
Salatin se stapeling van bedrywe word tans ook deur Suid-Afrikaanse boere, soos Bertie Coetzee van Prieska en DF Fyfer van Louwna, in Noordwes gevolg.
As uitvoerende hoof van ’n groot petroleummaatskapy het Salatin se pa, William, ’n belangstelling in boerdery by die jong Joel geprikkel toe die familie ’n plaas in Venezuela gekoop het waar sy pa destyds gewerk het.
In 1958 het hulle die plaas in Venezuela se grondhervormingsprogram verloor. In 1961 het sy pa die mees verwaarloosde en afgetakelde plaas in Virginia se Shenandoahvallei gekoop – die einste plaas wat Polyface Farm sou word.
Daar het die Salatins die natuur as boerderybloudruk bestudeer. Bome is geplant, komposhope is gebou, damme is gebou, en beeste is
daagliks met elektriese drade verskuif.
Vandag onderhou die betreklik klein Polyface Farm drie geslagte Salatins, en vir Joel bly sy Christelike geloof die grondslag waarop hy sy veeboerdery bedryf en sy diere slag.
Hy glo vas dat hy te alle tye sy diere as God se skeppings moet eer. Dit is hierdie liefde vir boerdery wat hy glo elke boer by sy kinders moet inprent.
Om daarmee te help, het hy oor die jare die volgende tien gebooie ontwikkel vir gelukkige plaaskinders.
1. Integreer jou kinders al vroeg by die boerdery deur hulle sinvolle plaaswerk te gee. Praat met enige plaaskind, en hulle sal ’n storie vertel van hoe hul pa’s hulle geleer het om op ’n jong ouderdom wol te klas of mielies te plant.
2. Wees lief vir werk. Enige taak op die plaas moet taakgerig wees, en nie tydgebonde nie. 3. Gee jou kinders hul vryheid. Moenie soos ’n helikopter-ouer heeltyd oor hul skouer loer nie. Laat hulle hul eie oordeelsvermoë
ontwikkel.
4. Gee hulle eienaarskap op ’n vroeë ouderdom. Watter plaaskinders het nie van jongs af ’n paar verse gekry om mee te teel, of ’n stukkie grond wat hulle kon bewerk nie?
5. Wakker kinders se entrepreneurskap aan deur hulle onafhanklike besighede te laat bestuur. Die beste tyd is van 8 tot 11 jaar oud. Ná 11-jarige ouderdom wil hulle net inpas by hul maats.
6. Behou altyd jou sin vir humor. Staan soms stil en ruik die
spreekwoordelike blomme!
7. Betaal jou kinders vir spesifieke werk – moenie vir hulle sakgeld of toelaes betaal nie. Dit bly die goedkoopste manier om ’n gelukkige en selfversekerde 16-jarige te verseker!
8. Prys, prys, prys! As jy nie seker is of jy jou kind genoeg prys nie, vra jou vrou – sy sal weet. 9. Geniet jou vakansies met jou familie.
10. Vermy dit om spesifieke take vir jouself te eien. Skep eerder ’n kultuur van eksperimenteer.