Afrika verslap GM-beperkings
TEEN die agtergrond van klimaatsverandering en die druk wat dit op opbrengste plaas, gaan wetenskaplikes in Afrika hul navorsing oor geneties gemodifiseerde (GM) gewasse, soos mielies en kassawe, verskerp. Dit kom nadat Kenia in Oktober 2022 ’n verbod van tien jaar lank op die verbouing van GM gewasse beëindig en dit begin plant het om groter produktiwiteit te verkry.
Ekstreme weerverskynsels, soos droogtes, wat aangewakker word deur klimaatsverandering, het reg oor Afrika ’n uitwerking op gewasopbrengste, en verhoog ook die groter voorkoms van gewasplae.
“Ons staan nou GM gewasse voor omdat onsekerheid oor hul veiligheid nie meer ’n kwessie is nie, en ander vastelande trek reeds voordeel uit hul bestaan,” sê dr. Canisius Kanangire, uitvoerende direkteur van die Afrika-landboutegnologiestigting (AATF) in Kenia, een van die organisasies wat die verspreiding van GM-tegnologie in Afrika voorstaan.
Die Verenigde Nasies se Voedsel-en-landbou-organisasie sê daar bestaan steeds kommer by die publiek, wetenskaplikes en reguleerders, maar die “voordele weeg swaarder as die risiko’s”.
Kanangire het aan die webblad SciDev.Net gesê hul hoofoogmerk was om beleidsverandering mee te bring en ’n gunstige omgewing in Afrika suid van die Sahara te skep om dié tegnologie te aanvaar.
Dr. Margaret Karembu, voorsitter van die Open Forum on Agricultural Biotechnology in Kenia, sê die besluit om die verbod op te hef sal meer as 17 miljoen boere in Kenia in staat stel om GM kommoditeite in te voer met die oog op groter voedselsekerheid.
“Biotegnologiese landbou sal werkgeleenthede skep en werkloosheid onder die jeug help verlig.”
Lande in die streek, waaronder Burkina Faso, Ethiopië, Ghana, Malawi, Nigerië en Soedan, laat die plant van GM saad toe, terwyl ander lande in verskillende stadiums van die ontwikkeling en kommersialisering van ’n aantal GM gewasse is.
Suid-Afrika het GM mielies in die 1990’s begin aanplant, terwyl Ghana en Nigerië verlede jaar GM bone vrygestel het.
Die GM batsjapinboontjie (PBR-boon, cowpea of black-eyed bean) is ontwikkel om weerstand te bied teen Maruca vitrata, ’n plaag wat lei tot die vernietiging van 80% van dié Wes-Afrika-stapelvoedsel, het prof. Ishiyaku Mohammed, verbonde aan die instituut vir landbounavorsing by die Ahmadu Bello-universiteit in Nigerië, verduidelik.
“Kultivars wat deur konvensionele metodes gekweek is, kon nie die siekte weerstaan nie. Wetenskaplikes by talle gevorderde laboratoriums reg oor die wêreld het meer as 15 000 weergawes van die boon getoets, maar nie een was weerstandig teen die plaag nie.”
Hy het ook gesê dit is nodig om boonkultivars te kweek wat weerstandig is teen herfskommandowurm en ander plae.
Jerry Nboyine, ’n insekkundige verbonde aan die Ghanese Savanna Agricultural Research Institute (Sari), sê die navorsing oor die weerstandige PBRboon het in 2013 met die samewerking van die AATF begin nadat konvensionele metodes misluk het.
“Ná jare se omvattende navorsing oor veiligheid is die PBR-kultivar goedgekeur en ingesluit by die Ghanese saadstelsel. Dit sal ’n aansienlike verskil kan maak om die tekort van sowat 100 000 ton per jaar op te los. Sari het belangrike aanvoorwerk gedoen om tegnologie beskikbaar te stel om die hand van boere te versterk wat ’n tekort aan hulpbronne het.”