Groot data dalk die toekoms vir landbou-finansiering
Boere genereer baie data, en dit kan die landskap van finansiering vir dié bedryf verander.
Data wat deur plase gegenereer word, gaan in die toekoms baie waarde hê vir boere wat om finansiering aansoek doen. Alec Azar, hoofbestuurder vir landbou-ekonomie by die Land Bank, het op die onlangse Africa Agri Tech(AAT) konferensie in Pretoria voorspel dat inligting wat uit geografiese inligtingstelsels (GIS) saamgestel is, saam met ’n plaas se balansstaat en produktiwiteit gebruik kan word om ’n boer se finansieringsaansoek te bestuur.
As een van die redes hiervoor gebruik Azar die voorbeeld van ’n nuwe trekker wat in sommige gevalle meer kos as die waarde waarop die bank die plaas skat. Hoewel handelsbanke kollateraalgedrewe is, sê hy dat data as instrument nie onderskat moet word om die waarde van die boerdery te meet nie.
“Daar is tegniese veranderinge en vernuwing in die landboubedryf, maar een ding wat ek die afgelope ses jaar op my eie plase geleer het, is dat plase groot hoeveelhede data genereer wat gebruik kan word.
“Op universiteit het ons van ekonomiese volhoubaarheid geleer, maar die afgelope paar jaar het omgewings- en maatskaplike volhoubaarheid ook groot kwessies geword. Dit is nie nuwe idees nie, en daar is al 30 jaar wetgewing hieroor. Ons begin egter nou eers om dit te meet.
“Wat belangrik is, is dat alles in balans moet wees. As jy te veel klem op die volhoubaarheid van die omgewing lê, gaan die ekonomiese volhoubaarheid daaronder ly, of andersom.”
Een platform
Vir Azar is dit belangrik dat daar een platform is waar ’n boer se omgewings- en maatskaplike verslae oor sy GIS-verslae gehou word sodat sy kredietwaardigheid en verdienstelikheid ook daarvolgens gemeet kan word.
Met GIS word verskillende lae inligting van presisieboerdery, soos geïnterpreteerde satellietbeelde, grondpotensiaalgrense en akkurate landgrense, in een stelsel saamgevoeg.
Die gebruik van GIS-verslae is niks nuuts vir Suid-Afrikaanse boere nie. Dit word al vir 20 jaar gebruik om produksiekoste per hektaar of land te bereken, wat dan bepaal watter lande die betalendste was en hoekom seker lande nie volgens hul potensiaal produseer nie.
“Met GIS-tegnologie kan ons kyk na ’n boer se beskermde areas, sy plaas se klimaat, die lewende hawe se aanpasbaarheid, vogtigheid en meer. Alles in ’n drieblad-verslag. Daar word ook ’n risikoverslag uitgestuur wat in kleure probleem- of goeie areas aandui. Finansiers behoort dit te gebruik en dit deel te maak van hul kredietkontroleproses.”
Azar meen plase met dié tegnologie behoort aan ’n indeks gekoppel te word. Deur na die GIS- en risikoverslae te kyk, kan ’n plaas se natuurkapitaal bepaal word waarvoor hy dan op die indeks gegradeer word.
“As die plaas byvoorbeeld ’n indeksnommer van 5 het, kan een bank dit nie ’n waarde gee en die volgende bank ’n ander waarde nie. Of dalk sê die bank se kredietbeleid dat hy op ’n plaas met ’n 5-indekssyfer nie finansiering vir droëlandmielies gee nie.”
Die indeks gee talle moontlikhede vir ’n plaas se finansiering. Daarom voorspel Azar dat die manier hoe en waar boere finansiering ontvang, gaan verander.
“Ek voorsien boere gaan hul behoeftes in die mark aandui deur te sê: ‘Hier is my data, my plaas se indeksnommer, dis wat ek beoog en ek het meer nodig as my plaas se produksiewaarde.’ Handelsbanke verstaan dit nog nie heeltemal nie, maar ek meen versekeringsmaatskappye gaan betrokke raak, want hulle weet hoe om dié risiko te versag.”