Drink tee by Ouma Mazawattee
DS. KOBUS VAN DER WESTHUYZEN
Ons het nie juis vooraf beplan waar ons sou gaan tee drink nie, maar ná ’n heerlike rit deur die Klein-Karoo het ons by De Rust uitgekom. Iemand in ons geselskap wou weet of dit nie so ’n ruk gelede die “dorp van die jaar” was nie. Dis toe dat ons besluit dis nét die plek vir ’n koppie tee. ’n Mooi rit het nou gevra vir ’n bietjie bene rek.
Die persoon in beheer van die restaurant was vriendelik en hulpvaardig, soos ’n mens sou verwag.Sywouweetwatsyvironskanbringen ons so terloops daaraan herinner dat die “dorp van die jaar” daarvan hou om besoekers gelukkig te maak. Ons bestelling was heel beskeie – net ’n lekker koppie tee.
“Watter soort?” wou sy weet. Gewone Ceylon-tee was goed genoeg vir my vrou, maar die vrou het verontwaardig geantwoord: “Ag nee, mense! Besef julle dat ek meer as twintig soorte tee aanhou en hier kom julle van die Kaap af en bestel gewone tee by die dorp van die jaar?!”
Dis toe dat ek besluit om haar speelse bravade kort te knip. “Nou goed, bring vir ons ’n potjie Ouma Mazawattee.”
Half-verleë het sy antwoord: “Meneer, nou het jy my in ’n hoek. Ek herinner my vaagweg dat daar vroeër jare só ’n soort tee was, maar ek moet nou bieg – ek het dit nie.”
Sy het beloof om uit te vind en volgende keer vir ons te sê wat van Ouma Mazawattee geword het. Die volgende keer het nog nie aangebreek nie, maar ek vermoed dat ek vergeefs gaan wag dat Ouma Mazawattee ’n opstanding sal beleef.
Intussen onthou ek met mooi herinneringe uit my jeugjare Ouma se afbeelding op ’n vierhoekige blikkie waarin die gesogte tee verhandel is. Ouma kyk nog steeds na my met haar klein brilletjie en ’n koppie tee in die hand. Ma het een van die teeblikkies gebruik om haar naalde, garing, skêre en spelde in te bêre.
Ai, hoe verlang ek nou na Ouma Mazawattee!