Ses vrae aan Jan Oberholzer 2. Aanhoudende kritiek teenoor Eskom
JAN OBERHOLZER, die bedryfshoof van Eskom, tree einde vandeesmaand op 65 af. Landbouweekblad het hom oor dié ses dinge gevra:
1. Sy naderende aftrede
My tasse is nie gepak nie, en ek het ook nie vliegkaartjies gekoop om my geliefde Suid-Afrika te verlaat nie. Ek het te veel in ons land en ons mense belê.
My opregte wens is om Eskom weer op sy regmatige plek te sien, om te verseker dat ons land en die ekonomie eksponensieel groei. Om dit te bereik, moet ons verenig staan, saamwerk en van mekaar leer om ons land te bou om die kragreus van Afrika te word.
As Afrika se seuns en dogters is dit uiters belangrik dat ek, julle en alle landsburgers ons moue oprol om onsself uit te brei na ’n doel groter as onsself. Ja, amptelike aftreeouderdom vir ’n permanente werknemer by Eskom is 65, maar ek is gereed en beskikbaar om my tyd en rykdom ondervinding beskikbaar te stel om ’n opbouende bydrae te lewer om van die uiters belangrike bedryfs- en ander struikelblokke by Eskom suksesvol te kan aanpak en oplos.
Suid-Afrika benodig vaardige en ervare hulpbronne. In ’n neutedop, my hand is weer opgesteek vir nog ’n ronde van nasionale diens en dit sal vir my ’n groot eer wees om Eskom en die land te dien.
Wat my warm onder die kraag maak, is juis Suid-Afrikaners wat geëmigreer het en nou baie eiers te lê het en ons aanhoudend met klippe bestook. Dit blyk of hulle nou oor al die antwoorde vir ons probleme beskik. Dis so jammer hulle het nie werklik probeer om ’n waardevolle bydrae te lewer terwyl hierdie ongelooflike land hul tuiste was nie.
My pleidooi aan diegene wat daaraan dink of besig is om hul tasse te pak: Pak uit, doen introspeksie en werk eerder saam met ons om die kragkrisis op te los.
Suid-Afrikaners moet wakker word en besef dat die kragkrisis nie net ’n Eskomprobleem is nie; dit is ’n landprobleem. Ja, Eskom het groot skuld daaraan en baie moet vanuit eie geledere gedoen word om hierdie kragkrisis op te los, maar dit is nodig vir alle Suid-Afrikaners om saam met ons werk, ons dalk minder te kritiseer en eerder te help deur met innoverende en volhoubare oplossings vorendag te kom om beurtkrag te beëindig.
Dit begin by my en jou om te help deur krag te bespaar sodat die hele land billik bevoordeel word.
3. Politieke wil om beurtkrag op te los
Daar is kollektiewe begrip oor wat gedoen moet word en ratte te verwissel in die stryd teen beurtkrag.
Dié begrip het ook al deeglik posgevat by owerhede en politici wat besef dit is noodsaaklik om die krisis aan te pak. Ek glo veral die politici het begin besef dat sonder voldoende kragvoorsiening, Suid-Afrika en sy ekonomie nie vorentoe kan beweeg nie en nie ’n gunstige bydrae kan lewer tot die lewenstandaard van 61 miljoen mense in ons land nie. Ons ekonomie, die noodsaaklike groei en welvaart lê in volhoubare, stabiele en betroubare kragvoorsiening.
4. Die nuwe minister van elektrisiteit
Ek meen die aanstelling van dr. Kgosienthso Ramokgopa, die nuwe en eerste minister van elektrisiteit, dui daarop dat pres. Ramaphosa verstaan hoe noodsaaklik en belangrik elektrisiteit is vir Suid-Afrika se ekonomie en ook om die lewenstandaarde van alle Suid-Afrikaners te verhoog.
Samewerking tussen Ramokgopa en ander ministers, soos Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, is egter broodnodig. Die nuwe minister se rol is nie een van ’n projekbestuurder nie, want met hom in die leierskapsrol moet die kragkrisis oorkom word deur Suid-Afrika uit hierdie verknorsing te lei en te sorg dit gebeur nie weer nie. Daarvoor is noue en openhar
tige samewerking tussen alle departemente noodsaaklik.
Die ontbondeling van Eskom is steeds op die tafel en sy transmissiebesigheid is geoormerk om eerste dié oorgang te maak.
Die ontbondeling gaan uiteindelik beteken Eskom se distribusie-, opwekkings- en transmissienetwerke gaan bedryf word as drie afsonderlike wetlike sake-eenhede binne die Eskom-familie.
Dit baan die weg vir gesonde mededinging binne die kragomgewing en al sal hierdie drie aparte eenhede steeds binne Eskom bestaan, gaan hulle afsonderlik moet begin wins maak en volhoubaar wees om te oorleef. Hierdie mededinging is gunstig vir die land se kragsituasie en verbruikers.
Hoe meer onafhanklike kragverskaffers en -verspreiders gaan toetree, hoe groter gaan die mededinging wees, met gepaardgaande gunstige impak op tariewe.
(Die beoogde ontbondeling is ook een van die redes hoekom Oberholzer se pos as bedryfshoof, wanneer hy uittree, nie gevul gaan word nie.)
Die twee hulpbronne sal deel van die land se energiemengsel moet bly, anders gaan ons probleme hê. Onthou, die wind waai nie altyd nie, die son skyn nie ononderbroke nie.
Hoewel wind- en sonkrag toenemend belangrik word in die land se energiemengsel, kan ons nie sonder gas, steenkool en kernkrag nie.
Teen 2050 sal Suid-Afrika slegs twee steenkoolkragsentrales, naamlik Kusile en Medupi, in bedryf hê.
Wat kernkrag betref, kan Suid-Afrikaners gerus wees dat Koeberg, wat nou opgegradeer word om nóg vir minstens 20 jaar krag op te wek, veilig is, maar daar sal nie sommer gou nóg ’n Koeberg gebou word nie. Dit gaan net eenvoudig te lank vat en is baie duur. Koeberg se opgradering wat albei eenhede insluit, sal uiteindelik R20 miljard kos en dit sluit nie eens die toerusting en materiaal in om die ses stoomkragopwekkers te vervang nie.
Daar is egter ander kernkragopsies beskikbaar, soos klein, modulêre kernreaktors. Op die oomblik is van dié reaktors in hul inwerkingstellingsfase in ander lande en ons sal hopelik teen 2027 en 2028 weet hoe suksesvol dit toegepas kan word.
Só ’n reaktor kan 300 MW opwek en kan byvoorbeeld baie suksesvol by huidige kragsentrales wat uit bedryf geneem gaan word, opgerig word en so word dit deel van die hibriede oplossing wat ons land dringend benodig om genoeg krag op te wek.