DIE ANDER SÊ
Uitvoerende hoofde alleen gaan ons nie red
Daar is minstens twee redes tot omsigtigheid wat betref die jongste inisiatief van sakeleiers om Suid-Afrika se probleme rakende energie, logistiek, en misdaad en korrupsie op te los. Een is die André de Ruyter-debakel by Eskom. Om ’n sakeleier per valskerm in te bring, kan nie diep, strukturele korrupsie oplos nie. Om kundigheid uit die sakewêreld in te bring, sal net help om vorentoe te beweeg as daar aan albei kante ’n diep verbintenis is om saam te werk in die openbare belang.
Die jammerlike swakheid van pres. Cyril Ramaphosa en sy lafhartige ontkenning van sy party en ontplooide kaders se korrupsie is nie bemoedigend nie. ’n Mens kan net hoop dat die werklike moontlikheid van ’n nederlaag by die stembus sy aandag daarop sal vestig om uiteindelik van dié korrupsie ontslae te raak.
Tweedens is die sakesektor, ondanks uitstekende vaardighede, steeds primêr op winsbejag gerig. Gestel sakeleiers kry dit reg om die kragkrisis op te los, sal hulle elektrisiteit ook eerder sien as ’n kommoditeit as ’n maatskaplike bate, wat potensieel rampspoedig sal wees in ’n samelewing met massa-werkloosheid en -armoede.
’n Mens moet vra hoekom die nasionale ekonomiese, ontwikkelingsen arbeidsraad (Nedlac), wat die regering en die sake-, arbeids- en gemeenskapsektor bymekaarbring, nie gebruik word om konsensus en samewerking te bewerkstellig nie.
Gegewe die rol van NatJoints en Operasie Vulindlela, saam met ’n duisternis komitees, rade en werkgroepe, is die rekord van besluitneming deur die regering obskuur. Wie het eindelik die besluit geneem, en wie sal ’n parlementêre komitee ontbied om verantwoordbaar gehou te word, soos wat die Grondwet vereis?