Voorgestelde regulasies ‘is blind vir die wet én regspraak’
Om swart besit as kriteria vir waterlisensies in te stel, is soos om die spreekwoordelike kar voor die perde te span deur waterwetgewing te gebruik om grondhervorming te bevorder.
DIE konsepregulasies vir watergebruiklisensie-aansoeke is ongetwyfeld strydig met die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) en die Grondwet. Die fel reaksie daarop uit landbougeledere was dus nie onverwags nie.
Ek meen dié transformasiedoelwitte is nie net van toepassing op lisensie-aansoeke ingevolge artikel 21 (a), (b) of (d) van die Nasionale Waterwet nie, maar ook op die wysiging en hernuwing van lisensies, oordragte van watergebruiksmagtigings ingevolge artikel 25 en verpligte lisensiëring ingevolge artikel 43.
Dit was dus verrassend dat die departement van water en sanitasie in ’n mediaverklaring op 15 Junie aangedui het die regulasies is “slegs” van toepassing op aansoeke om nuwe waterlisensies vir die sogenoemde ongeallokeerde restant van 1,5% waterregte, en nie op hernuwing van lisensies of lisensies wat voortspruit uit verpligte lisensiëring nie.
Die verklaring swyg oor lisensies voortspruitend uit oordragte van watergebruikmagtigings, wat dus vermoedelik nie beskou word as “nuwe waterregte” wat sou deel vorm van die 1,5% nie.
Die verklaring is uitgereik ná ’n vergadering met Agri SA waarin geprobeer is om die onduidelikhede van die regulasies op te klaar.
Dit is verblydend dat die departement bereid is om tekortkominge in die regulasies met belanghebbendes te bespreek.
Dit is egter duidelik dat die minister die geykte regsbeginsels, soos uitgestippel deur ons hoogste hof van appèl in die bekende Goede Wellington-beslissing, geïgnoreer en net op artikel 27 (1) ( b) gekonsentreer het.
Regulasies mag die prosedurele vereistes vir lisensie-aansoeke voorskryf (artikel 26 (1) (k)), maar is onderhewig aan álle relevante oorwegings (sien die kassie hiernaas). Die minister het egter verkies om ras die enigste kriterium te maak, wat ook bots met artikel 9 van die Grondwet, wat rasse-diskriminasie verbied.
Damme en grondeise
Afgesien van onduidelikhede en ongrondwetlike aspekte wat daar steeds in die regulasies is, is dit ’n groot bron van kommer dat, in die huidige formaat, alle nuwe damme met ’n kapasiteit groter as 250 000 m³ aan die bemagtigingteikens sal moet voldoen, veral gegewe die langer droogtes en vloede wat die behoefte van groter opgaarkapasiteit juis verhoog.
Een kommerwekkende nuwigheid in die regulasies is die vereiste wat geld waar ’n grondeis geliasseer is vir die grond waarvoor die lisensie-aansoek gedoen word.
Benewens kommentaar van die grondeisekommissaris word nou ook vereis dat kommentaar van die eisers bekom moet word waarin hulle moet aandui of hulle vir of teen die lisensie-aansoek is.
Dit is reeds moeilik en tydrowend om die kommissaris se standaardskrywe te bekom wat aandui dat daar ’n grondeis is of nie. Die praktyk het al geleer dit is onmoontlik om die besonderhede van eisers te bekom, laat nog staan hul kommentaar.
Voorts ontstaan die vraag wat die regsimplikasies sou wees indien die eisers gekant is teen die aansoek. Dit kan ook baie tydrowend wees om die eisers, indien hulle bestaan, op te spoor.
Dié regulasie is uiters vreemd omdat daar voldoende beskermingsmaatreëls in die aansoekproses ingebou is.
Uitstaande prosesse
Verreweg die grootste toelaatbare watergebruik in Suid-Afrika is bestaande wettige gebruike waarvan die presiese volume ná amper drie dekades steeds onbekend is omdat die proses van verifikasie en validasie van watergebruike steeds onafgehandel is. Dit is noodsaaklik dat hierdie proses gefinaliseer word. Transformasie van die landbou kan net sinvol en volhoubaar geskied indien daar sekerheid is oor die regsposisie van watergebruike.
* Groenewald is ’n prokureur en waterregkenner. Die kommentaartydperk vir die regulasies sluit op 18 Julie.